Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog ’n sjef van SA kry Michelin-ster

Regstelling:

Netwerk24 het vroeër verkeerdelik berig Annie Badenhorst werk saam met Jean Delport in Brittanje. Badenhorst is egter steeds die uitvoerende sjef by die Benguela Cove-wynlandgoed.


Suid-Afrika spog met nog ’n Michelin-ster-sjef nadat Jean Delport (31), oorspronklik van Bloubergstrand, Maandag met ’n ster bekroon is.

Delport en Jan Hendrik van der Westhuizen, die ander Michelin-bekroonde sjef wat oorspronklik van Mbombela is, het albei aan die Zevenwacht-sjefskool gestudeer.

Die Michelin-ster-sjef Jean Delport (31) is oorspronklik van Bloubergstrand.

Michelin-sterre word volgens ’n waardasiestelsel toegeken wat deur die Michelin-gids vir restaurante gebruik word. Volgens die gids beteken een ster “baie goeie kookkuns”, twee sterre “uitstekende kookkuns” en drie sterre ‘uitsonderlike kookkuns”.

Die restaurant Interlude, waar Delport die hoofsjef is, het nege maande gelede by die geskiedkundige landgoed Leonardslee Gardens naby Horsham in Wes-Sussex, Engeland, oopgemaak.

Dit het Maandagaand sy eerste ster op die toekenningsgeleentheid van die Michelin Guide in Engeland en Londen 2020 gekry.

Luidens ’n verklaring het die restaurant vinnig bekend geword vir sy besonderse verhouding met sy omgewing.

“Waar die liefde vir kos, wyn en die natuur asook uitnemendheid bymekaarkom, word ’n ster gebore. Die jong restaurant gee gaste die geleentheid om in ’n geskiedkundige herehuis aan ’n bord kos wat kreatief en smaakvol is te smul,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring was Delport nog altyd bewus van sy omgewing. In sy tuisdorp was hy omring met berge en was die see op sy voorstoep.

“Karoo-lamsvleis en vars vis is altyd by die huis bedien, met smaaklike groente wat eenvoudig voorberei is.

“Ek was ’n besige tiener en het dit geniet om my ma in die kombuis te help. Ek was gou die een wat meestal saans vir die gesin gekook het,” sê Delport.

“Toe ’n vriend my aan crème brûlée voorstel, het ek dit my doelwit gemaak om dit te kan maak. Ek het alles ondersoek totdat ek dit kon vervolmaak.”

Delport het ná sy studie sy loopbaan by die restaurant Benguela on Main in Hermanus begin, waar hy volgens hom ’n “skoon skilderdoek” gekry het om sy geesdrif vir kos uit te leef.

“Dit is hier waar ek geleer het om slegs ’n paar sterk bestanddele te gebruik wat die wow-oomblik sal waarborg,” sê Delport.

Daarna het hy die hoofsjef van Interlude geword. 

“Suid-Afrikaners smag na intense geure en sterk ondertone, soos kerrie,” sê Delport.

“Ou tradisies om vis en vleis te bewerk moet een van die redes wees waarom Suid-Afrikaners sulke sterk geure verkies. Wys my ’n Suid-Afrikaner wat nie van biltong hou nie,” sê hy.

Meer oor:  Jean Delport  |  Bloubergstrand  |  Michelin-Ster-Sjef  |  Sjef
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.