Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog ’n stryd met polisie ná protes teen geslagsgeweld
Duisende betogers was Donderdagoggend byeen voor die parlement in Kaapstad in ’n optog teen geslagsgeweld en verkragting.Foto: Jaco Marais

Nog ’n dag van spanning het in Kaapstad afgespeel nadat duisende mense Donderdag by die parlement opgeruk het en betogers later op verskeie plekke in die middestad met skokgranate en waterkanonne uiteengejaag is.

Sowat 5 000 mense in swart drag het die oggend voor die parlement byeengekom in protes teen geslagsgeweld en verkragting, met hul sang wat deur Pleinstraat weergalm het.

Pres. Cyril Ramaphosa het om 11:30 ook opgedaag om die skare toe te spreek en ’n memorandum van die betogers te ontvang, waarna honderde mense terug in Pleinstraat gestap het, in die rigting van die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (Kiks).

Betogers, grootliks studente en skoolkinders, het Woensdag ook na die Kiks opgeruk en aangedring dat Ramaphosa hulle toespreek toe hy die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) oor Afrika sou bygewoon het. Later het die betogers van die hoofpaaie in Kaapstad versper en het die polisie hulle weggedryf met ’n waterkanon en skokgranate.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek betogers Donderdag toe voor die parlement, waar hy ’n memorandum van hulle ontvang het.Foto: Jaco Marais

“Ek stem heeltemal saam dat die moord op vroue moet stop,” het Ramaphosa Donderdagoggend aan die betogers voor die parlement gesê.

“Ons wil hê die mans in ons land moet ophou om vroue te verkrag en vermoor. Ons gaan standpunt inneem en seker maak ons verskerp die beskerming van vroue.”

Hy het ook gesê daar sal gekyk word na maniere om oortreders vir verkragting en moord op vroue swaarder te straf.

“Die mans wat hulle aan hierdie misdade skuldig maak, moet lewenslank in die tronk bly. Lewenslank moet beteken lewenslank. Sulke mans hoort nie in die samelewing nie en moet ook nie vir borgtog in aanmerking kom nie.”

Ramaphosa is eers deur talle van die betogers uitgejou, maar is later toegejuig toe hy belowe het om die parlement te laat debatteer of noodmaatreëls in plek gestel moet word.

Hy sou Donderdag deelgeneem het aan die WEF se openingsgeleentheid oor hoe om nywerheidsgroei in Afrika te dryf, maar is na die parlement ontbied en Tito Mboweni, minister van finansies, het toe die president se toespraak voorgelees, berig Francois Williams.


Ander sprekers by die geleentheid het onder meer gevra dat polisiekantore beter toegerus word om vroue wat seksuele misdade aanmeld, te help.

Van die kwessies waarna Ramaphosa verwys het, is in die memorandum wat Nicole Mirkin, een van die organiseerders, aan hom oorhandig het.

Rondom 5 000 betogers was Donderdagoggend byeen om hul stem dik te maak teen geslagsgeweld, verkragting en onlangse aanvalle op vroue.Foto: Jaco Marais

Die memorandum eis dat die lys van seksuele oortreders aan die publiek bekend gemaak moet word en ’n spesialis polisie-eenheid vir seksoortredings geskep word, met personeel wat in sielkunde opgelei is.

Die optog na die parlement die oggend het ’n wye verskeidenheid mense byeengebring, van oud tot jonk, verskillende rasse en talle mense wat van elders na Kaapstad gereis het.

Skoolbusse het kinders by die parlement kom aflaai en busse van die Universiteit Stellenbosch (US) af het ook opgedaag.

Carli van Wyk, voorsitter van die US studenteraad, het in haar toespraak gesê dat te veel vroue teen moord en geslagsgeweld te staan kom.

“Dit is ons reg om te lewe, om beskerm te word en om vryelik te kan beweeg. My bloed kook en alles in my skree ‘dit is nie reg nie!’”

Hoewel Van Wyk ook gepraat het oor die moontlikheid dat die US kampus “tot stilstand gebring word”, het die US die middag in ’n verklaring gesê dit sal nie toegelaat word nie.


’n Groot groep betogers wat aan die optog deelgeneem het, het kort ná Ramaphosa se toespraak deur die middestad gestap na die Kiks, waar talle polisielede en voertuie gewag het en die strate om die gebou afgesper is.

Dié betogers het die middag in twee groepe verdeel, met een wat voor die Media24-sentrum betoog het in ’n poging om by die Kiks uit te kom en ’n ander groep wat van die omliggende paaie versper het en later tot by een van die kruisings voor die V&A Waterfront gekom het.

Polisielede het egter ná sowat twee uur se werk om betogers terug te hou en bakleiery met betogers, begin om hulle al hoe verder terug te dryf en soms in groepe gestorm om mense weg te jaag.

Betogers by die standbeeld van Louis Botha voor die parlement in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Later het waterkanonne opgedaag om die groepe uiteen te jaag en talle skokgranate is in die gebied tussen die Media24-sentrum en die Kunstekaap-teater afgevuur.

In dié tyd het enkele betogers klippies of waterbottels na die polisie gegooi en talle mense het op die polisie geskel.

Teen 16:00 het van die betogers voor die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor herenig en aangedring dat medebetogers ,wat in hegtenis geneem is, vrygelaat word.

Lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het die aand gesê tien mense is in hegtenis geneem – agt in verband met openbare geweld en twee in verband met die aanranding van ’n polisielid.

Vroeër die middag het die polisie gesê ’n man is in hegtenis geneem wat na bewering ’n polisielid aangerand het en vier ander in verband met openbare geweld naby die Kiks.

Van die betogers wat Woensdag buite die Kiks was, het die middag gesê dat die 11 medebetogers wat toe in hegtenis geneem is om middernag vrygelaat is.

Intussen word boodskappe die afgelope week op sosiale media gedeel dat Kaapstad Vrydag “tot stilstand gebring” gaan word in protes teen die onlangse aanvalle op vroue en kinders.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het egter in ’n verklaring gesê geen skole sal Vrydag gesluit word nie en die normale rooster word gevolg.

Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, het benadruk dat geen toestemming gegee is vir skole om vir die dag te sluit nie en dat sommige leerlinge eksamen skryf.

Betogers hou baniere in die lug voor die parlement by Donderdag se optog teen geslagsgeweld en verkragting.Foto: Jaco Marais
’n Betoger skel op die polisie naby die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) tydens betogings Donderdag in die middestad. Foto: Jaco Marais
Polisielede staan ’n lyn voor die Media24-sentrum in Kaapstad, terwyl betogers Donderdagmiddag in die parkeerplek staan.Foto: Jaco Marais
Betogers skel op polisielede naby die ingang van die Media24-sentrum in Kaapstad tydens Donderdag se betogings in die middestad.Foto: Jaco Marais
Baniere hang teen ’n venster in die Media24-sentrum in Kaapstad, waar polisielede betogers Donderdagmiddag weggejaag het. Foto: Jaco Marais
Betogers hang plakkate op teen die heining van die parlement.Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Kaapstad  |  Gendergeweld  |  Betogings  |  Betogers  |  Protes  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.