Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nóg Prasa-skandes kom aan die lig
Foto ter illustrasie.

Swifambo Rail Leasing, die maatskappy wat die kontrak van miljarde rande beklink het om onder meer die omstrede Afro 4000-lokomotiewe aan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) te lewer, het ’n ekstra R335 miljoen in sy sak gesteek nadat “dr.” Daniel Mtimkulu, Prasa se voormalige hoofingenieur, in 2014 ’n bedenklike “kontrakvariasie” vir die lokomotiewe aangevra het.

Mtimkulu het in April 2014, meer as ’n jaar nadat Swifambo ’n kontrak van R3,5 miljard beklink het om 70 nuwe lokomotiewe aan Prasa te verskaf, ’n memorandum aan Lucky Montana, Prasa se voormalige uitvoerende hoof, gestuur om ’n bykomende R335 miljoen vir die kontrak aan te vra.

Mtimkulu het in die memorandum aangevoer “die Prasa-span het tot die besef gekom dat die stelsels wat saam met die lokomotiewe gekom het . . . rudimentêr was en daarom opgeknap moes word om te verseker dat die lokomotiewe met die nuutste tegnologie toegerus word.”

Luidens die memorandum sou die ekstra R335 miljoen glo vir ’n nuwe draaistel, kontrole, elektriese, traksie- en lugremstelsel vir die lokomotiewe aangewend word.

“Daar is met Swifambo ooreengekom dat die stelsels opgeknap sal word teen ’n bykomende koste vir Prasa,” lui die memorandum.

Die versoek is op 11 April 2014 aan Montana gestuur. Montana en “dr.” Josephat Phungula, Prasa se voormalige verkrygingshoof, het die versoek op dieselfde dag goedgekeur.

Phungula het ook sedertdien bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy glo oor sy kwalifikasies gejok het.

Dít nadat Swifambo reeds op 3 April sy faktuur vir die “bykomende stelsels” aan Prasa gestuur het.

Die R335 miljoen is toe in Mei 2014 aan Swifambo betaal.

Die memorandum en die faktuur is deel van die hofstukke wat Popo Molefe, voorsitter van die Prasa-raad, onlangs by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het in ’n poging om die kontrak ter syde te laat stel.

“Die suggestie dat die (stelsels) rudimentêr is, maak nie sin nie,” sê Molefe in sy beëdigde verklaring.

“Die lokomotiewe wat Swifambo aangebied het, was supermodern, en die stelsels wat in die memorandum genoem word, is standaard . . . ” voer Molefe aan.

Auswell Mashaba, Swifambo se besturende direkteur, het navrae oor die betaling na Prasa verwys. “Jy vra die verkeerde mens. Jy moet die mense wat die e-posse gestuur het om kommentaar vra, want dis een werknemer van Prasa wat ’n e-pos aan ’n ander werknemer gestuur het.”

Toe Netwerk24 hom vra om kommentaar te lewer oor die faktuur wat deur Swifambo aan Prasa gestuur is, het hy gesê: “Ek het nog nooit ’n faktuur gestuur nie. Sien jy Auswell Mashaba se naam êrens? Dis irrelevant wie ek is (die direkteur van Swifambo). Trek dit terug, want jy jok. Wat makeer jou, is jy mal? Ek wil nie met jou praat nie, want jy praat asof jy mal is.”

Montana kon nie om kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.