Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog skok-onthullings oor Magnus Malan

Genl. Magnus Malan, in die 1980’s die magtigste man in Suid-Afrika naas die staatspresident, PW Botha, was ’n pedofiel wat aan seksorgies met jong seuns deelgeneem het tydens “visvanguitstappies” na Birdeiland naby Port Elizabeth.

Genl. Magnus Malan as minister van verdediging. Hy is glo deur die seuns as ’n besonder “wrede oom” beskryf.

Hierdie verstommende aanklag teen dié destydse minister van verdediging word gemaak in die boek Die seuns van Bird Island, wat Maandag bekend gestel word. Dit is geskryf deur die voormalige speurder Mark Minnie en Chris Steyn, ’n ondersoekende joernalis.

Die skrywers sê nóg ’n prominente minister – ’n senior lid van Botha se kabinet – was deel van die seksnetwerk. Anders as Malan, wat in 2011 in die ouderdom van 81 aan ’n hartaanval dood is, lewe dié oudminister nog. Sy naam word op regsadvies weerhou.

Minnie en Steyn het meer as 30 jaar gelede, onafhanklik van mekaar, onderskeidelik vanuit Port Elizabeth en Kaapstad bewerings van pedofilie in hoë Nasionale Party-kringe ondersoek, maar hul speurtogte is deur base in hul onderskeie beroepe verongeluk. Nou onthul die twee uiteindelik hul bevindings in Die seuns van Bird Island.

Die gemene deler wat tot die oopvlek van dié katnes gelei het, was twee opspraakwekkende “selfmoorde” in 1987. Die lyke van Dave Allen (37), ’n skat­ryk vrygeselsakeman en polisiereservis van Port Elizabeth, en John Wiley (60), ’n NP-minister, is enkele weke ná mekaar met koeëlwonde in die kop aangetref. Wiley, ’n goeie vriend van Malan, was getroud en het in Kaapstad gewoon. Wiley en Allen was sedert 1977 boesemvriende.

Ander skokkende bewerings sluit in:

* Die seuns, meestal bruin en in hul vroeë tienerjare, is saam met Malan, Wiley, Allen en ander na Birdeiland in Algoabaai, 53 km oos van Port Elizabeth, gevlieg in weermaghelikopters om met braaivleis en drank getrakteer te word. Hulle is dan seksueel aangerand.

* By een só ’n geleentheid is ’n pistool glo in ’n jong seun se rektum opgedruk. ’n Skoot is afgevuur – na bewering deur Malan – en die bloeiende seun is met ’n Suid-Afrikaanse weermaghelikopter na die provinsiale hospitaal in Port Elizabeth gebring. Daar het mans in pakke wag gehou terwyl die bruin seun onder groot geheimhouding in die destydse “wit” vleuel behandel is. Sy familie en ’n matrone is glo omkoopgeld betaal om stil te bly (lees die uittreksel in Stemme).

* Malan is glo deur die seuns, wat destyds deur Minnie ondervra is, as ’n besonder “wrede oom” beskryf. Hulle het hom “Ore” genoem.

* Seuns is ook gemolesteer in Allen se luukse huis in Schoenmakerskop naby Port Elizabeth én in ’n strandhuis in Witelsbos in die Tsitsikamma, 82 km wes van Jeffreysbaai.

* Wiley en Allen is vermoor en volgens bronne van Steyn – twee voormalige weermagagente en ’n afgetrede polisieman – was Malan die “waarskynlikste opdraggewer” vir die beweerde moordsendings.

In rooi letters: ‘Staak die ondersoek’

Minnie het nougeset ’n dossier opgebou met onder meer verklarings deur ooggetuies en slagoffers en bandopnames van dié gesprekke om Malan-hulle voor die hof te bring. Maar die lêer is een dag sonder sy wete deur “ ’n brig. Schnetler” en “twee hooggeplaaste offisiere van hoofkantoor in Pretoria” uit sy kantoor verwyder. Minnie het dit nooit teruggekry nie en sy ondersoek was daarmee heen.

‘Dan los hy ’n bom. Hy noem die naam van ’n magtige minister. Hy noem die naam van nóg twee ministers.’

Die hoofstaatsaanklaer in Port Elizabeth het Minnie al voor dié gebeure in “vet rooi letters” op die dossier beveel: “Enige ondersoek in hierdie saak moet onmiddellik gestaak word.” Geteken: “John Scott”.

Minnie, toe ’n adjudant-offisier, het in die geheim voortgegaan met sy ondersoek, aangevuur deur sy eie donker geheim – die feit dat hy as 12-jarige gewelddadig deur 16-jarige tweelingbroers verkrag is. Hy het later uit die polisie bedank en klandestien as betaalde polisie-informant gewerk.

Hy skryf dat hy op Allen se spoor gekom het danksy inligting van ’n jong wit seun wat met beserings aan sy onderlyf gehospitaliseer is.

Allen moes die dag van sy dood in die landdroshof verskyn op seksklagte nadat Minnie hom die vorige dag by sy huis in Schoenmakerskop gearresteer het.

Toe sing hy soos ’n kanarie’

Minnie skryf hy het die geboeide Allen in sy motor na ’n polisiekantoor gebring om ’n saak van seks met minderjariges – statutêre verkragting – en die besit van kinderpornografie te registreer. Hy skryf Allen het tydens die rit soos ’n “kanarie gesing”.

“Dan los hy ’n bom. Hy noem die naam van ’n magtige minister. Hy noem die naam van nóg twee ministers. Hy dreig om die hele miernes oop te krap. Hy is klaarblyklik nie bereid om alleen die skuld te dra nie,” skryf Minnie. “Hy bied my omkoopgeld aan om alles te laat weggaan: R100 000 om presies te wees.”

Toe Allen nie die volgende oggend 09:00 in die landdroshof was nie, is ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik. Tot sy skok moes Minnie later hoor Allen is daardie oggend met ’n koeëlwond aan die voorkop op die strand by Schoenmakerskop aangetref.

Sy Walther Parabellum PPK-pistool, wat ’n kwaai skop het, was in sy hand, volgens die persoon wat op hom afgekom het. In die lykshuis het Minnie self gesien daar was geen buskruit-brandmerke op die vel om die wond nie en glo daarom dat Allen nie homself geskiet het nie.

n Koeël in die kop

Wiley, minister van omgewingsake en ’n vriend van Malan, is kort daarna in sy huis in Noordhoek buite Kaapstad met ’n skietwond aan die regterslaap gevind.

Steyn skryf: “Pedofilie, afpersing, ’n dreigende kabinetskandaal van epiese omvang en die dringende behoefte om sekere bekende politici te beskerm, het alles ’n rol gespeel in Dave Allen en John Wiley se dood.”

Sowel Allen as Wiley se geregtelike doodsondersoeke het misdaad uitgesluit. Maar Minnie en Steyn glo ’n magdom teenstrydighede en botsende getuienis dui op sluipmoorde wat uitgevoer is om soos selfmoord te lyk. Steyn glo lede van ’n veiligheidstak soos die destydse Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) van die SAW kon dalk die laksmanne gewees het.

Steyn, destyds ’n verslaggewer by die Cape Times, het sewe weke lank ondersoek ingestel na Wiley se raaiselagtige dood en hoe dit met die dood van Allen verbind kon word, maar haar uiteindelike berigte hieroor is verwater.

Tydens Chris Steyn se ondersoek na die selfmoorde het sy en Mark Minnie mekaar vlugtig in Port Elizabeth ontmoet, maar Minnie het geweier om met haar te praat omdat hy vermoed het dat sy vir die veiligheidspolisie werk.

Nadat Steyn, deesdae die bestuurder en mede-eienaar van ’n boekwinkel in Hermanus, verlede jaar by die uitgewer Tafelberg gehoor het dat Minnie aan ’n boek werk oor sy destydse ondersoek, het sy hom weer gekontak. Hulle het nie net vrede gemaak nie, maar besluit om kragte saam te span.

“Hierdie boek is die stem wat die slagoffers nooit gehad het nie,” sê sy Vrydag aan Rapport.

“Hierdie boek is hul waarheid – wat hulle nooit kon vertel nie. Dit is die geregtigheid wat hulle nie beskore was nie.”

Hoewel Steyn en Minnie tydens hul navorsing vir die boek nie enige slagoffers van die seksnetwerk kon opspoor nie, kon Steyn wel ’n lugmagvlieënier van 16 Eskader, wat destyds in Port Elizabeth gestasioneer was, opspoor wat vertel het dat hy in 1986 opdrag gekry het om drie BBP-passasiers wat met ’n SAL-vlug uit Johannesburg in Port Elizabeth geland het, met ’n Puma-helikopter na Birdeiland te vlieg. Die vlug is deur die lugmaghoofkwartier in Pretoria gemagtig.

“Die drie BBP’s wat hulle na die helikopter gehaas het, was MM, JW en (dan noem hy die derde minister). Hulle het hul handbagasie en visstokke by hulle gehad.”

Die ministers het uiteindelik vyf dae op die eiland gebly.

Steyn het ook die chirurg opgespoor wat glo die operasie uitgevoer het op die seun wat ná ’n besoek aan die eiland geskiet is. Die dokter het intussen afgetree en ’n wynboer geword.

Hy het aan haar geskryf: “Liewe Chris, ek is jammer, ek kan nie oor hierdie onderwerp praat nie, omdat dit die dokter-pasiënt-vertroulikheid sal skend.”

’n Duiker wat beweer het hy was met van die seuns bevriend, het aan Minnie vertel dat twee van die seuns nooit van die eiland af teruggekeer het nie.

Minnie, wat in 2007 op 47-jarige ouderdom ’n nuwe loopbaan as Engelsonderwyser in China begin het, het aan Rapport gesê: “Aantygings van hierdie aard teen prominente mense klink aanvanklik ongelooflik. Met verloop van tyd ontaard dit in ’n komplot-teorie. Ons wil verhoed dat dit gebeur.”

Hy doen ’n beroep op alle betrokkenes met inligting oor die destydse gebeure en toesmeerdery om nou na vore te kom – selfs anoniem.

* Weet jy iets? Stuur jou wenk na nuus@rapport.co.za.

Meer oor:  Mark Minnie  |  Chris Steyn  |  John Wiley  |  Magnus Malan  |  Die Seuns Van Bird Island  |  Boek  |  Ministers  |  Pedofilie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.