Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nog werkers afgelê ‘binne die komende ses maande’

Meer as 1,5 miljoen Suid-Afrikaners kan binne die volgende ses maande hul werk verloor weens Covid-19 en die gepaardgaande inperking, wys ’n peiling wat die laaste twee maande onder sake-eienaars gedoen is.

Werklose gegradueerdes op Kerkplein in Pretoria op pad om by die Uniegebou te betoog om die regering te oorreed om werkgeleenthede te skep. Foto: Gallo/Frennie shivambu

Dié peiling, genaamd BeyondCovid, is van 7 Junie tot 22 Augustus onder 1 800 sake-eienaars gedoen.

Die helfte van die ondernemings wat aan die peiling deelgeneem het, is klein ondernemings, 16% is mediumgrootte, 15% is groot ondernemings, terwyl 11% organisasies sonder winsbejag is en 8% organisasies in die openbare sektor is.

Volgens die peiling moes 4% van ondernemings alreeds hul deure permanent sluit, terwyl 19% tydelik moes toemaak (sien grafika hiernaas).

Boonop het 76% van ondernemings aangedui dat hul inkomste tydens die inperking met meer as 20% gekrimp het.

Onder hierdie ondernemings is klein ondernemings die swaarste getref, met 84% van klein ondernemings wie se inkomste verminder is. Altesaam 75% van mediumgrootte ondernemings se inkomste het ook gekrimp, terwyl 73% van organisasies sonder winsbejag se inkomste ook gekrimp het.

Ek dink nie die afname in getalle is ’n aanduiding van ’n draaipunt nie.

Groot maatskappye (64%) en die openbare sektor (49%) is die ligste geraak.

Volgens Lings Naidoo, medestigter van die BeyondCovid-inisiatief, het hierdie vermindering in inkomste veroorsaak dat 43% van maatskappye wat aan die peiling deelgeneem het, reeds mense moes aflê.

Klein ondernemings is weer eens die ergste geraak, met 50% van klein ondernemings wat werkers moes aflê, terwyl mediumgrootte ondernemings (45%) die tweede ergste geraak is.

Onder groot maatskappye en organisasies sonder winsbejag moes 31% van hulle werkers aflê, terwyl 27% van maatskappye in die openbare sektor aangedui het dat hulle werkers moes laat gaan.

“Wanneer dit kom by afleggings is maatskappye in die verblyf- en kossektor die ergste getref,” sê Naidoo. “Sowat 68% van respondente in hierdie sektore moes al mense aflê, gevolg deur haar- en skoonheidsalonne (62%), konstruksiefirmas (61%) en rolspelers in die kunste- en ontspanningsbedryf (57%).”

Volgens Naidoo is die skokkendste syfers egter dat 11% van respondente aangedui dat hulle in die komende ses maande nog werkers sal moet aflê.

Klein (12%), mediumgrootte- (11%) en groot ondernemings (10%) word die ergste getref wat beplande afleggings betref, terwyl organisasies sonder winsbejag (8%) en die openbare sektor (9%) nie ver agter is nie.

Altesaam 26% van maatskappye het aangedui dat hulle binne die volgende jaar ses maande se finansiering sal benodig. Alhoewel organisasies in die openbare sektor die ligste geraak is met afleggings, het 32% van hierdie maatskappye aangedui hulle sal finansiering nodig hê. ’n Kwart van klein ondernemings het aangedui hulle sal finansieringl benodig, terwyl 27% van mediumgrootte- en 19% van groot maatskappye aangedui het hulle sal ook so ’n behoefte hê.

Sakeliga se kwartaallikse verslag “Ekonomiese oorsig vir besluitneming in die sakewêreld” is ook die afgelope week bekend gestel.

Daarin word ondernemings gewaarsku om voor te berei op ’n kleiner ekonomie, kleiner omset (tussen 10% en 20%) en kleiner verdienste op die mediumtermyn in vergelyking met voor die inperking. Daar is ook aanduidings dat ondernemings wat aanvanklik die negatiewe gevolge van die inperking gespaar is, nou moeiliker bedryfsomstandighede begin ervaar.

“Dit is duidelik dat ’n afname van 10% tot 20% in omset en verdienste nie net aanstellings beïnvloed nie, maar ook ondernemings se uitbreidingsplanne, nuwe beleggings sowel as die vermoë van die private sektor om die beste te maak van enige oplewing in kommoditeitsmarkte,” sê Gerhard van Onselen, ’n senior ontleder by Sakeliga.

“Die nadelige gevolge van die grendelstaat sal waarskynlik nog ’n aansienlike tydjie duur. Nie net het werksgeleenthede verlore gegaan en inkomste en spaargeld verminder nie, maar daar is steeds irrasionele en onsamehangende beperkings in verskillende sektore.”

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, waarsku ook die ergste is nog op pad. Solidariteit se “afleggingsbarometer” vir Augustus wys 62 846 van hul lede word met afleggingsprosesse gedreig. Dit is wel minder as Julie se 69 406. “Ek dink egter nie die afname in getalle in sekere sektore is ’n aanduiding van ’n draaipunt nie,” sê Du Plessis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.