
Van die skade wat die erge reën en wind Vrydag in Johannesburg aangerig het.
Sowat 15 leerlinge en die bestuurder van die bussie waarin hulle gery het, is Vrydagmiddag in Soweto gered toe hulle in stormwater vasgevang is.
Robert Mulaudzi, ’n woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sê dit was omstreeks 14:00 nadat swaar reënbuie Donderdag oor Johannesburg uitgesak en verkeer erg ontwrig het.
“Die bestuurder wou oor ’n oorstroomde pad ry, maar hulle is toe in die stormwater vasgevang. Almal is gered en veilig,” sê Mulaudzi.
Die Johannesburgse nooddienste is ook ontbied na Naledi, waar noodwerkers gehelp het om reënwater uit huise te kry.

Die stormweer het bome in Randburg ontwortel.
Mulaudzi sê die nooddienste is op ’n hoë gereedheidsgrondslag ná die hewige reënval.
“Ons monitor die situasie en al ons brandweerstasies is ten volle operasioneel sodat ons onmiddellik kan reageer,” sê Mulaudzi.
Hy het motorryers gewaarsku om stadig en versigtig te bestuur.
Die stormweer het ook in Randburg skade aan huise aangerig en bome ontwortel.
Talle motoriste wat in die verkeer vasgesit het, het video’s op sosiale media gedeel van die storm.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen gewaarsku dat oorstromings in Johannesburg verwag kan word.
Kumsa Masizana, ’n weervoorspeller van die weerdiens, sê die stormweer in Gauteng sal na verwagting Saterdagoggend opklaar.