Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Noodwerkers ‘red’ man van misdaad

’n Man van Somerset-Wes is beïndruk en dankbaar vir die hulp van twee barmhartige mediese nooddienswerkers (EMS) wat hom Maandag bygestaan het toe hy die teiken van misdaad kon word.

Franco Burger het Maandag omstreeks 16:00 van die Stellenbosch-hoofverkeersweg by die R300 ingedraai toe ’n skerp pen in die pad sy linker agterwiel stukkend sny.

“Ek het al gesien dit het met baie ander op daardie plek gebeur, want ek ry baie daar,” sê hy.

“Mense het vir my ligte geflikker dat iets fout is, en ek het toe maar afgetrek om self te kyk.

“Die plek waar ek moes stop, is reg langs die Wesbank-woongebied. Ek weet baie goed dit is ’n brandpunt vir misdaad, dus het ek my selfoon en beursie in die paneelkissie toegesluit.

“Binne twee minute nadat ek by die wiel begin werskaf het, het Craig Williams met sy EMS-voertuig agter my stilgehou. Hy het gevra of ek oukei is en aangebied om te help.”

Williams is ’n werker van die Wes-Kaapse departement van gesondheid.

“Hy het ook sy kollega, Vincent Gordon, op die radio geroep en minute later het hy ook daar gestop. Vincent het my gehelp met die band, terwyl Craig waggehou het,” sê Burger.

Toe Burger weens die helling van die pad nie sy eie toerusting kon gebruik nie, het Gordon sy toerusting gaan haal en binne minute met die band gehelp.

Drie mans het begin naderstap, maar die wiel was omgeruil voordat Burger en die nooddienswerkers ’n teiken kon word.

“Craig het nog vir my gesê: ‘Meneer, ek help jou eerder nou as wat ek later hierheen moet ry en jou van die pad af optel,” sê Burger.

Drie mans het begin naderstap, maar die wiel was omgeruil voordat Burger en die nooddienswerkers ’n teiken kon word.

“Vincent het al die pad tot by die huis agter my gery om seker te maak ek is oukei. Dit was vir my ’n wonderlike ervaring en ek waardeer dit wat hulle gedoen het vreeslik.”

Dit kom in ’n tyd dat nooddienspersoneel in die Wes-Kaap gereeld die slagoffers van aanvalle en diefstal is.

Vroeër vandeesmaand is EMS-werkers, ’n man en vrou, in Sheffieldweg in Philippi beroof en ’n vuurwapen is op hulle gerig.

Deanna Bessick, EMS-skakelbeampte, het gesê die aanval het gebeur terwyl die ambulans in die swaar middagverkeer vasgekeer was.

Hulle was op pad na ’n pasiënt toe die twee aanvallers, elk met ’n vuurwapen, na die ambulans stap. Hul selfone en beursies is afgevat, waarna die ambulansbestuurder ’n gaping in die verkeer kon vind en hulle kon wegkom.

Paramedici is ook in September in Oceanview aangeval nadat hulle op ’n noodoproep gereageer het.

Bessick het gesê die voorval het omstreeks 03:00 gebeur toe die paramedici wou ry nadat hulle die pasiënt in die ambulans gelaai het.

“Die paramedikus het by die bestuurderskant van die ambulans ingeklim en die voertuig aangeskakel toe drie mans hom nader. Een van hulle het ’n vuurwapen uitgepluk en die paramedikus gedreig.”

Gordon kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Ems  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.