Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nooit sprake daarvan dat loopbrug onveilig was, sê hoof

Die hoof van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark sê daar was nooit “enige sprake” daarvan dat die loopbrug wat Vrydag by die skool ineengestort het, onveilig was nie.

Milita Weber (17), ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Driehoek. Foto: FACEBOOK

Hein Knoetze, skoolhoof, het dit aan Elise Tempelhoff gesê en volgehou dat niemand ooit by hom oor die loopbrug gekla het nie.

Vier kinders is dood en 22 beseer toe ’n betonblok van die loopbrug, wat twee van die skoolgeboue met mekaar verbind, kort ná die skoolopening neergestort het.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement van onderwys in Gauteng, sê die skool sal Maandag heropen.

Gedeeltes van die skool is deur strukturele ingenieurs veilig verklaar. Tente word by die skool opgerig waarin leerlinge van volgende week af sal klas kry.

Intussen is sewe van die leerlinge wat in die tragedie beseer is, reeds uit verskillende hospitale ontslaan. Hulle is: Nico Barnard, Monja Pelser, Jessica Rogowski, Angelique Smit, Sifiso Tshabalala, Juan-Lee Muller en Thokozani Nkosi.

Teen Woensdagmiddag was 15 leerlinge steeds in hospitale in Gauteng.

Shamonè Steynvaart (14), ’n gr. 9-leerling, is ná die tragedie verlam.

Milita Weber (17), ’n gr. 12-leerling, is een van die ander kinders wat baie ernstig beseer is. Haar ma, Vanessa Weber, sê sy sal ’n operasie aan haar rug moet ondergaan in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria.

Clari Botes (18), ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark. Foto: Facebook
Vanessa Slabbert is in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Foto: FACEBOOK
Cheverné Duvenhage (13) is baie ernstig beseer in die skoolbrugtragedie. Foto: Facebook

“Haar vordering is nie wat dit moet wees nie. Al die dokters het saamgestem dat sy ’n rugoperasie sal moet kry. Hou haar asseblief in jul gebede,” sê Vanessa.

Clari Botes (18), ook ’n gr. 12-leerling, is Woensdag van die Mediclinic Emfuleni na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Haar ma, Ankia, sê haar dogter is “emosioneel en fisiek seer”. Sy moet Vrydag weer ’n operasie ondergaan.

Vanessa Slabbert is steeds in die waakeenheid in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Haar ma, Lizelle, sê dit gaan elke dag beter met haar. Sy moes bloedoortappings kry.

“Sy het ’n kopbesering, maar gelukkig nie breinskade nie. Haar C7-werwel het skade en van haar ander werwels het ook seergekry.”

Vanessa se bekken is ook gebreek en sy het beserings aan haar maag en lewer opgedoen.

“Die inwendige bloeding is onder beheer en die dokters is baie tevrede met haar magie. Dit is tans nog gedeeltelik oop, so daar wag nog ’n operasie,” sê Lizelle.

Die inwendige bloeding is onder beheer en die dokters is baie tevrede met haar magie. Dit is tans nog gedeeltelik oop, so daar wag nog ’n operasie.

“Ons as haar ouers is baie tevrede met haar vordering en ons kan nie genoeg dankie sê vir almal se ondersteuning en gebede nie.”

Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, is aan ’n asemhalingstoestel gekoppel in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Haar heupe, van haar rugwerwels en haar regtervoet is gebreek. Sy het ook inwendige beserings. Haar ma is Nicola Senekal en nie Yolandi Duvenhage (stiefma), soos Netwerk24 vroeër berig het nie.

Cheverné sal Vrydag ’n operasie aan haar maag ondergaan. Dokters beplan verder om Saterdag met ’n operasie penne in haar gebreekte voet te sit.

Jennifer Bothma (15), ’n gr. 9-leerling, word nog in die Mediclinic Vereeniging behandel nadat haar bekken gebreek is.

Die res van die beseerde leerlinge is Annastacia Opperman, Nicole Nel, Jacques Fourie, Clarise Peens, Chantelle van den Berg, Jennifer Delport en Geneve Viana. Hulle word in verskillende hospitale in Gauteng behandel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.