Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Noorde van land gaan sweet van Vrydag af

Inwoners in die sentrale, noordelike en noordoostelike dele van die land kan hulle gereedmaak vir baie hoë temperature vanaf Vrydag wat moontlik met ’n hittegolf kan gepaardgaan.

Dit sal veral warm wees in Gauteng, Noordwes, Limpopo en plekke in KwaZulu-Natal.

Sedert Woensdag vandeesweek is temperature in hierdie dele besig om geleidelik toe te neem tot in die naweek en vroeg volgende week.

Hoewel die Suid-Afrikaanse Weerdiens teen Woensdagoggend nog nie ’n waarskuwing van ’n hittegolf uitgereik het nie, kan die moontlikheid daarvan nie uitgeskakel word nie, sê Luthando Mesimini, weervoorspeller.

“Ons hou die situasie dop.”

Pretoria se strate is tans versier met die pers blomme van die jakarandabome. Foto: Deaan Vivier
Die meeste van die jakarandabome in Pretoria is nou vol pers blomme, waarvan sommige ook afgeval het weens die onlangse goeie reën. Foto: Deaan Vivier

Mesimini sê dit hang van die gewone klimaat van ’n onderskeie gebied af of dit deur die moontlike hittegolf geraak sal word.

Vir Gauteng word maksimum temperature van in die hoë twintigs vir Donderdag voorspel, terwyl dit van Vrydag tot Dinsdag gaan wissel tussen die hoë en middel dertigs. Sondag sal dit na verwagting in Pretoria die warmste in dié provinsie wees met 35 °C.

In Noordwes sal die maksimum temperature vanaf Donderdag tot Dinsdag tussen 29 °C en 36 °C wissel. Die hoogste temperatuur hier word vir Dinsdag in Rustenburg voorspel.

Donderdag en Vrydag sal dit bloedig warm wees in Polokwane met temperature van onderskeidelik 36 °C en 37 °C wat verwag word. Saterdag tot Dinsdag sal dit wissel tussen 29 °C en 33 °C met gedeeltelik bewolkte toestande.

Mpumalanga en dele van KwaZulu-Natal sal egter nie uitermatig hoë temperature ervaar nie.

Hoewel laer temperature van in die lae twintigs Woensdag in Mpumalanga voorgekom het, sal dit Donderdag begin styg. Maksimum temperature van tussen 26 °C en 32 °C word tot Dinsdag voorspel, met gedeeltelik bewolkte toestande.

In KwaZulu-Natal sal Durban se temperature vanaf Donderdag tot Dinsdag tussen 22 °C en 28 °C wissel.

In Newcastle en Pietermaritzburg in die binneland lyk die prentjie egter heelwat anders vir dieselfde tyd. Die maksimum temperature sal na verwagting tussen 32 °C en 36 °C wissel.

In hierdie stadium is daar nog nie ’n moontlikheid vir reën in die noorde vir die volgende sewe dae nie.

Meer oor:  Weervoorspelling  |  Weer  |  Temperature  |  Hittegolf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.