Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Noordwes moes geld teruggee oor hy nie huise bou

Noordwes se behuisingsdepartement moes R300 miljoen aan die nasionale tesourie terugbetaal omdat hulle dié geld nie aan die bou van huise bestee het nie.

Volgens Namhla Luhabe, woordvoerder vir Noordwes se wetgewer, het dít vandeesweek aan die lig gekom in ’n sitting van die wetgewer se portefeuljekomitee oor plaaslike regering en huisvesting.

Die R300 miljoen wat die behuisingsdepartement moes teruggee, is daarna onder presterende provinsies versprei, het Luhabe gesê.

Met sommige projekte was die beplanningsfase nog nie afgehandel nie.

Die behuisingsdepartement het boonop aanhou versuim om huise aan militêre veterane te verskaf.

Volgens Luhabe het Motlalepula Rosho, voorsitter van die portefeuljekomitee oor behuising, in die wetgewer se sitting gesê die departement se swak prestasie die afgelope twee jaar het mense in die provinsie die reg tot huise ontneem. Rosho het die behuisingsdepartement ook die kop gewas omdat hulle nie hul oorsigrol oor munisipaliteite vervul nie.

“Munisipaliteite word toegelaat om te doen net wat hulle wil. Munisipaliteite soos Lekwa-Teemane (in die Bloemhof-omgewing) en Ditsobotla (in die Lichtenburg-omgewing) is daarom besig om in duie te stort.”

Luhabe sê Ephraim Motoko, hoof van die behuisingsdepartement, het erken sy departement het onderpresteer deur nie die R300 miljoen te bestee nie. “Ons het eers laat in die jaar met die proses begin om kontrakteurs te werf,” was Motoko se verduideliking.

“Die meeste kontrakteurs het swak werk gedoen. Met sommige projekte was die beplanningsfase nog nie afgehandel nie. In plekke soos Marikana kon kontrakteurs nie met werk voortgaan nie weens protesoptrede deur die gemeenskap.”

Fenny Gaolaolwe, LUR vir behuisings, het bygevoeg die verskaffing van huise word vertraag omdat die meeste van die mense wat op hul stelsel geregistreer is om huise te ontvang, ook geregistreer is as individue wat reeds huise ontvang het.

Rosho sê onlangse bevindinge van die ouditeur-generaal oor munisipaliteite se finansiële sake het gewys munisipaliteite in Noordwes vaar al hoe slegter.

Rosho het in dié verband verwys na die Kagisano-Molopo-munisipaliteit (in die Ganyesa-omgewing) wie se raad glo by die Protea-hotel in Mahikeng en ander gebiede buite hul munisipale grense vergader. “Hoe kan ’n raadsvergadering buite sy eie munisipale gebied plaasvind?”

Rosho en die ander lede van die portefeuljekomitee het die provinsiale behuisingsdepartement opdrag gegee om ’n omkeerstrategie in te dien, wat sal verseker dat huise nou aan militêre veterane gelewer word. Die departement moet ook binne sewe werksdae verslae indien oor hoeveel mense benadeel is weens die onbenutte R300 miljoen, en oor Kagisano-Molopo se raadsvergaderings in Mahikeng.

Meer oor:  Nasionale Tesourie  |  Noordwes  |  Huise  |  Behuising
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.