Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Theuns Jordaan soek 'n vrou en kinders
Theuns Jordaan is by Afrikaans Is Groot vereer vir 15 suksesvolle jare in die musiekbedryf. Al wat hy nou nog in sy lewe mis, is ’n vrou en kinders. Foto: Deon Raath

Al wat Theuns Jordaan in sy lewe mis, is ’n “vrou, kinders en ’n white picket fence”.

So het hy eksklusief die afge­lope week aan Rapport vertel ­nadat hy by die onlangse Afrikaans Is Groot-konsert vereer is vir 15 suksesvolle jare in die musiekbedryf.

“ ’n Mens dink altyd die dinge sal nog kom, maar dan besef jy dat jy seker een of ander tyd iets moet doen,” sê Theuns wat op 10 Januarie 45 word.

“Jis, dit klink oud,” sê hy en lag. “Ag, ek dink om ouer te word, is maar iets wat ’n mens moet omarm. Saam met ouderdom kom ervaring. Dit maak ’n mens rustiger, maar jy besef die tyd raak minder om dinge te doen.”

Dis nie altyd maklik om die regte persoon te ontmoet as jy in die kollig leef nie.

“Mense het dikwels vooropgestelde idees, so ja, ’n mens is maar versigtig, partykeer onregverdig teenoor die ander persoon. Maar ek dink nie dis iets wat lank vat om uit te figure nie. ’n Mens kom vinnig agter of dit oor die hond of die stertjie gaan,” sê Theuns.

Theuns se eerste CD is in 2000 gemaak, maar teen daardie tyd het hy al agt jaar in kroeë gespeel.

“ ’n Mens hou maar aan om te doen wat jy doen en voor jy jou oë uitvee, is 15 jaar verby”.

En in dié 15 jaar het sy CD’s rekords opgestel en baie pryse gewen.

Die grote was ’n Sama in 2013 vir sy CD Roeper, die topverko­peralbum van daardie jaar. En Theuns dra nou al ’n hele paar jaar lank die kroon as topverkoper- Afrikaanse musikant.

“Ek het begin as ’n one man band met my wit Ford Bantam-bakkie. Ek het self my speakers op- en afgeslaan in die vroeë oggendure. Ek sal nie sê ek mis dit om speakers te dra nie, maar dit was deel van die kurwe boontoe.”

Dis hoeka om hulde te bring aan die beginjare, toe hy liedjies van mense soos Bob Dylan en Cat Stevens gesing het, dat hy sy jongste CD, Tribute to the Poets in November 2013 uitgereik het.

Daar is steeds geen keer aan die CD se sukses nie. Meer as 120 000 eksemplare is verkoop en dit het driedubbele platinum-status bereik.

“Dit was vir my ’n back to the roots-projek. Dis al die musiek wat ek in die pubs gesing het.

“Dit was ’n heerlike trip down memory lane. Ek het gevoel ek wil my ander kant vir almal wys wat my net as ’n Afrikaanse kunstenaar ken,” sê Theuns wat homself beskryf as ’n introvert met ’n ekstroverte beroep.

“Ek is nie die bek-lek- en stertswaai tipe nie. Maar ’n mens raak gewoond aan die oë op jou as jy op die verhoog is. Dan is ek die sanger. Dis soos ’n rugbyspeler wat uitdraf en sy ding doen, maar van die veld af is hy ’n ­ander mens.”

’n Oomblik wat hom altyd sal bybly, is toe hy die volkslied vir die Bokke kon sing voor ’n wedstryd op Nuweland.

“Ek is ’n WP-man. Dis jammer ons het vir Eddie Jones verloor, maar ja, die rand kan nie teen die pond meeding nie.”

En wat dink hy van die Bokke? “Ek dink hulle moet vir Johan Ackerman van die Leeus kry. Lyk my hy weet hoe om ’n span af te rig,” sê die plaasjapie wat nou al 17 jaar in Pretoria bly.

Sy ouers se plaas naby Colesberg sal altyd ’n hawe wees. “As ek dalk eendag seuns het, sal ek hulle graag soontoe wil vat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.