Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Nou is ons ’n voltallige spannetjie’

’n Lekker vakansie.

Dit is wat Solomon Cupido vir al die ouers van tweelinge sal wil koop as hy ooit die Lotto wen.

Solomon Cupido het onlangs pa geword van identiese tweelingseuntjies. Hier is hy saam met al die liefdes in sy lewe: sy vrou, Wendy, dogtertjie, Yadah (2), en Yael (links) en sy boetie, Yoel. Foto: @petrus_padda

Dié akteur wat tans te sien is as Julian in Mense mense (kykNET, DStv-kanaal 144) het op 4 Junie identiese tweelingseuntjies ryker geword.

“Yael is so 01:39 die oggend gebore en het 2,6 kg geweeg – en sy boetie, Yoel, ’n minuut ná hom, en hy het 2,5 kg geweeg. Hulle is baie gesond,” het hy die afgelope week by sy huis in Roodepoort vertel.

Dit terwyl hy rondskarrel saam met sy vrou, Wendy (31), dogtertjie, Yadah (2), en skoonma, Roline Marthinus (60), wat uit Montagu in die Wes-Kaap kom kuier het.

“Ons sou dit nie gemaak het sonder Skonie (sy skoonma) nie. Sy maak vir ons kos en staan net die hele tyd gereed. En Yadah is net so ’n ster. Sy is mal oor haar boeties en al word sy nou eers drie het sy die mond van ’n 20-jarige . . .

“Sy is mal oor hulle en hou hulle die hele tyd dop. En laat een net huil en ons is nie onmiddellik daar nie, trap sy ons uit van ’n kant af.”

‘Yadah is net so ’n ster.’

Volgens hom het Yadah hom mooi voorberei vir die tweede ronde van pa word en is hy nou lekker handig.

Wendy, ’n aktrise en finansiële adviseur, se kraampyne het begin kort nadat Solomon een van sy komediestukke, Ma se kinders, in die Paarl opgevoer het. In die opvoering het hy nog senuweeagtig gespot hy is die volgende aand waarskynlik pa van ’n tweeling. Sy woorde was skaars koud of hy moes voet in die hoek sit om betyds te wees om Wendy by hul huis op te laai en hospitaal toe te vat – pas nadat hy in Johannesburg geland het.

“Ons is nou ’n voltallige spannetjie. Op die ou end wil ek en Wendy die kinders net leer van respek. Respek vir mekaar, vir ander mense, vir hulself en die lewe.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Tv-Program  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.