Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nou moet jy betaal om beboet te word!

As die omstrede Aarto-verkeerswet volgende jaar in werking tree, sal jy R100 moet betaal om beboet te word, selfs al is jy onskuldig.

Die Automobiel Assosiasie (AA) se woordvoerder, Layton Beard, sê dié heffing van R100 wat elke keer gehef word wanneer jy beboet word, is inderwaarheid ’n verskuilde belasting. “Dis soos om te moet betaal vir die voorreg om jou belastingaanslag in te dien.”

As die boete R200 is, kom ’n heffing van R100 by, sê hy. Motoriste wat die boete binne 32 dae betaal, kry 50%-afslag, dus is die heffing dan net soveel soos die boete. As die motoris suksesvol vertoë rig, kry hy boonop nie sy R100-heffing terug nie, sê Beard.

Dít is een van die voorstelle in konsepregulasies waaroor die publiek tot vroeg in Desember kan kommentaar lewer.

Voordat die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto) in werking kan tree, sal die howe egter eers moet besluit of dit aan die eise van die Grondwet voldoen.

Aarto ‘nie daarop gemik om veiligheid te verbeter nie’.

Dít volg ná ’n aansoek van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) om Aarto ongrondwetlik te verklaar omdat die nasionale regering daarmee inbreuk maak op eksklusiewe bevoegdhede van provinsiale en plaaslike regerings.

Outa voer aan die wyse waarop Aarto-dokumente volgens die Aarto-wysigingswet beteken mag word, is ontoereikend in die lig van die ernstige gevolge wat dit vir motoriste kan inhou. Die wysigingswet bepaal dokumente kan beteken word met gewone pos en nie meer net met geregistreerde pos nie, sowel as e-pos, SMS-boodskappe en Whats­Apps. Outa is bekommerd dat e-posse byvoorbeeld verlore kan gaan of deur veiligheidsmure in organisasies se e-posstelsels gekeer word en nooit die betrokke motoris bereik nie.

As die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA), wat Aarto bedryf, niks van die motoris hoor nie, neem hy ná tien dae aan dat dit suksesvol beteken is en Aarto neem sy loop. Dít kan beteken dat die boete op die ou end verdubbel, ekstra koste opgelaai word en die motorryers hulself strafpunte op die hals haal.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het in antwoord op Outa se bewerings ontken dat die nasionale regering onwettig inbreuk maak op die bevoegdhede van provinsies en munisipaliteite en sê elektroniese betekening is die moderne manier van doen. Die regering is van plan om Aarto op1 Julie landwyd in werking te stel.

Aarto is sedert 1998 op die wetboek. Dit is op ’n proefgrondslag in Johannesburg en Pretoria in werking gestel, maar was volgens die stadsbesture ’n mislukking.

Volgens die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad, JP Smith, het dié stad en die Wes-Kaapse regering reeds vroeër ooreengekom om Aarto in die hof teen te staan indien nodig en sal binne die volgende paar weke besluit of die nuwe regulasies hul vrese besweer en of hulle moet hof toe gaan. Die stad se ander kommer is oor die integriteit van eNatis, die nasionale elektroniese administrasiestelsel vir verkeersinligting, waarop Aarto berus. As eNatis vol foute is, gaan Aarto nie werk nie.

Cornelia van Niekerk, eienaar van Fines4U wat boetes namens individuele motoriste en vloot­eienaars bestuur, sê Aarto gaan in drie fases ingestel word, met strafpunte wat geleidelik vir meer soorte oortredings toegeken sal word. Die maksimum boete vir spoedoortredings was R1 500. Dit is nou verhoog tot R3 750.

Beard sê die AA bevraagteken die regering se uitspraak dat Aarto daarop gemik is om padveiligheid te verbeter. Die wyse waarop strafpunte aan verskillende oortredings toegeken word, toon volgens hom dit is ’n geldmakery.

Van Niekerk stem saam en sê motoriste word drie keer gestraf vir elke oortreding, wat goed insluit soos die versuim om sy besonderhede by die verkeersowerhede aan te vul. Dit is die boete, dan die strafpunte en ook die hemelhoë administratiewe heffings.

Meer oor:  Layton Beard  |  Outa  |  Aarto-Verkeerswet  |  Boetes  |  Aarto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.