Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nou te laat vir ’n bier saam met Joost
Joost van der Westhuizen, losskakel van die Springbokke, stuit Jonah Lomu in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in 1995 op Ellispark.

Nou sal ek nie meer daai bier saam met Joost van der Westhuizen kan drink nie.

Ek het Joost “geken”nog voordat ek hom ontmoet het. Sy pa, Gustav, wat met die destydse Rapport-fietstoere behulpsaam was, het altyd gespog met sy laaities, veral Joost, wat in Derdepoort se laerskool en die Hoërskool FH Odendaal was. Joost het op vyf begin rugby speel, hy was ‘n lid van Noord-Transvaal se junior atletiekspan, hy het vir die eerste span krieket gespeel en was ’n uiters bedrewe korfbalspeler.

Een aand vroeg in 1992 het Neil Steyn, die Transvaler se rugbyskrywer in Pretoria, my opgewonde oor hul nuwe vonds vertel. “Ou Pieta, hier by Tuks loop die volgende Springbok-skrumskakel rond,” het hy my ná ‘n rugbyoefening vertel. “Wag, hou aan vir Quintus (van Rooyen, Beeld se senior rugbyskrywer).”

Joost van der Westhuizen het sy toetsdebuut in die eerste toets teen die Poemas in 1993 gemaak. Foto: The Greatest Springbok Teams

Pieter, jy móét oefening toe kom, hy gaan nog die beste skrumskakel in die wêreld word,” was Van Rooyen se mening.

Ja, ja, ja, het gedink. Wanneer dié manne ’n Springbokspan gekies het, was daar 12 tot 13 Blou Bulle in die span en net so twee of drie ander om die Bokke te balanseer.

Maar daardie middag by ’n Noord-Transvaalse oefening het ek hoendervel gekry. Joost wás spesiaal, net soos Naas, Doring Daantjie en Carel Doep was. Dis eintlik ironies, want hy was te lank vir ’n skrumskakel, hy kon nie die bal behoorlik na sy linkerkant toe uitgee nie en sy skopwerk was maar bra eina.

Maar hy was pure goud; ’n bondel energie, blitsvinnig, passievol en het nie ‘n bang haar op sy kop gehad nie. Hy wou net oefen, oefen en oefen en het toe al ’n drang gehad om die wêreld se beste skrumskakel te word.

Ná die oefening het Neil hom opgekommandeer en aan my voorgestel: “Joost, dis oom Pieter Kruger.”

”Naand, oom, koebaai oom,” het hy gesê en nog 50 balle aan Naas uitgegee.

Dankie oom, ek en jy moet ’n bier gaan drink.

Ná sy debuutwedstryd vir Noord-Transvaal in 1992 het ek hom op die onthaal raakgeloop en geluk gewens. “Joost, as ek my beskeie mening kan lug, breek jy te ná aan die losvoorpelers. Hol eers ’n bietjie wyd en die gaping sal dan oopgaan.”

“Dankie oom, ek en jy moet ’n bier gaan drink,” het hy gesê.

Wat ek voorgestel het, was niks nuut nie en baie afrigters, spanmaats en ondersteuners het dit sekerlik óók aan hom gesê. Maar elke keer wanneer hy een van sy 38 drieë in 89 toetse gedruk het, het ek aan daardie aand teruggedink.

In 1995 was Joost een van die Bokhelde in die Wêreldbeker-triomf. Ná die eindstryd teen die All Blacks, wat die Bokke in bykomende tyd met 15-12 ná Joel Stransky se epogmakende skepdoel gewen het, het ek Joost se tekkel op die aankomende stoomtrein Jonah Lomu as die keerpunt van die eindstryd beskou. Joost was gaande oor dié berig.

In 1997 het Joost en die SA rugbyskrywers koppe gestamp nadat die Britse en Ierse Leeus-skrumskakel Matt Dawson, hom met ‘n fopaangee geklop het om een van die Leeus se twee drieë in die eerste toets op Nuweland te druk. Joost was bitter omdat hy aan die slaap gevang is. Toe het ek besef dat hy besig was om die media te manipuleer sodat hulle uit sy hande eet en dat hý, en nie Matt Dawson nie, in die kollig wou wees.

Ek en jy moet nog daai bier gaan drink.

Joost het die Bokke in tien toetse aangevoer en het soms die wag voor sy mond afgegee. Hy het laat waai met geykte uitdrukkings soos: If you can’t stand the heat in the kitchen, get out of it,” en “show me a good loser and I will always show you a loser.” Hy wás ‘n baie swak verloorder en dit was geen verrassing nie dat hy in 1999, toe die Bokke in die halfeindstryd van die Wêreldbeker-toernooi deur die Wallabies uitgeskakel is, gesê het dat die Bokke as wenners na Suid-Afrika terugkeer.

Hy was passievol oor Springbok-tradisies en een van die voorsangers wanneer die Springboklied ná toetse in die kleedkamer gesing is. Hy was in 2003 ook een van net ‘n paar Bokke wat met Rudolph Straeuli se Kamp Staaldraad saamgestem het.

Sy beste vertoning? Hy was byna altyd ‘n held in ‘n Bok-trui, maar ek beskou die Curriebeker-eindstryd in 1998 teen die Westelike Provinsie as baie spesiaal. Die onbesonge Bulle het met 24-20 gewen nadat hulle geen kans gegun is nie. In sy outobiografie: Joost: The Man in the Mirror, het hy my “bedank” het dat ek die Goue Koppie vir hulle laat wen het nadat hy een van my “negatiewe berigte” gebruik het om die Bulle op te sweep en rooi te laat sien.

Hoe goed was Joost? Wel, ek het verslag oor meer as 100 Bok-toetse gedoen en sekerlik meer as 1 000 toetse op televisie gevolg. Noem hulle maar op: Dawie de Villiers, Piet Uys, Tommy du Plessis, Garth Wright, Johan Roux, Fourie du Preez. Joost het almal van hulle in die skadu gestel. Vra gerus ook vir George Gregan, Matt Dawson, Justin Marshall en Robert Howley. Daar’s net man se naam op hul lippe: "Joost!"

Ek het hom ’n paar jaar voor ’n All Black-toets by Willie Kahts se lapa by die Hoërskool Langenhoven raakgeloop. Vasgekluister in ’n rolstoel, uitgeteer en daai flitsende blou-groen oë dof en ingesonke. Die manne met die blomkoolore het trane in hul oë gehad, Justin Marshall het net sy kop geskud en weggestap, ek het ook nie woorde gehad nie.

“Ek en jy moet nog daai bier gaan drink,” het hy byna onhoorbaar gesê.

Nou is dit te laat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.