Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Numsa-staking: 2 reeds dood, meer as 100 beseer

Twee slagoffers is dood en meer as 100 mense meestal ernstig beseer in die Nasionale Metaalwerkersunie van Suid-Afrika (Numsa) se gewelddadige staking van die afgelope agt weke, waarin meer as R125 miljoen se skade aan eiendom aangerig is.

So sê Johan Pieterse, uitvoerende hoof van die Plastiekvervaardigersvereniging in Suid-Afrika. Hy sê moorddossiere is vir die twee oorledenes aangelê.

’n Bebloede Eric Botha, besturende direkteur van Makulu se plastiek-en-verpakkingsaanleg, nadat hy gewelddadig aangerand is. Foto: Verskaf

Pieterse sê verlies aan produksie die afgelope agt weke beloop honderde miljoene rande.

“Ons is ’n bedryf van R60 miljard en lewer ’n bydrae van 1,6% tot die bruto binnelandse produk.”

Pieterse sê die eerste slagoffer is reeds in week twee dood.

“Dit is deel van ’n moordsaak en ek wil nie nou die naam bekend maak nie. Daar is risiko vir die maatskappy daaraan verbonde.”

Lesley Mphahlele (37), ’n werknemer, is Dinsdag in ’n Gautengse hospitaal oorlede.

“Daar was ’n aanval op die maatskappy waar hy gewerk het, hy is met petrol gegooi en aan die brand gesteek. Hy het Dinsdag aan sy brandwonde in die hospitaal beswyk.”

Pieterse sê geweld is nie deel van ’n staking nie en dit is beslis nie soos dit hoort nie.

“ ’n Staking moet ’n vreedsame weerhouding van diens wees.”

Hy sê die reg om te staak word deur die Grondwet verskans, maar so ook beskerm art. 12 van die Grondwet die reg van elke mens om nie blootgestel te word aan enige vorm van geweld nie.

Pieterse meen gewelddadige Numsa-lede eerbiedig nie die bepalings van die Grondwet nie.

“Die meeste slagoffers is gehospitaliseer en diegene wat nie gehospitaliseer is nie, kry traumaberading. Ek kan die slagoffers nie nou vir media-onderhoude beskikbaar stel nie.”

’n Staking moet ’n vreedsame weerhouding van diens wees.

Hy sê in een geval het ’n vrou kopwonde opgedoen nadat sy met ’n hamer aangeval is.

“Sy het meer as 200 steke gekry. Sy sterk tuis aan.”

Hy sê ’n 72-jarige man is wreed aangerand.

“Selfs medici weet nie hoe hy dit oorleef het nie.”

Pieterse sê albei die man se arms en sy kakebeen is gebreek. Hy is in minder as twee en ’n halfminuut met geweld ander wonde toegedien.

Pieterse sê Woensdag en Donderdag is meer as R4 miljoen se skade aan persele aangerig.

“Ons het die afgelope ruk gesien hoe petrolbomme soos in die vroeë 1980’s gebruik word om mense te terroriseer en skade aan te rig.”

Hy sê dit beteken net vir hom een ding en dit is dat Numsa nie die vermoë het om sonder geweld te onderhandel nie.

“Die staking gaan oor ’n loongeskil. Binne ’n week is reeds aan twee van hul eise voldoen.

“Hulle wil nou alles hê, hulle wil nie hê mense moet meer sakeondernemings hê nie. Dit is al afleiding wat ons kan maak. Ons hoor elke dag hoe sleg dit in die land gaan en dat daar nie werk is nie, maar Numsa-lede wil hê mense moenie werk nie.”

Hy sê dié wat werk het, word met geweld uit werkplekke gedwing.

Ons het dit wel gedoen en die meerderheid van ons mense het die voorstel aanvaar.

Pieterse sê die geweld kom in vyf nywerheidsgebiede in Gauteng voor en nêrens elders in die land nie, terwyl die plastiekbedryf nasionaal is.

Hy sê die geweld kom in Clayville, Spartam, Sebenza, Isando, by Elandsfontein en Jetpark en in Denver voor.

Pieterse sê ’n bemiddelingsessie is Maandag gehou, waartydens “ons ’n voorstel van ’n bemiddelaar gekry het en albei partye is versoek om dit met hul lede te deel.

“Ons het dit wel gedoen en die meerderheid van ons mense het die voorstel aanvaar.

“Ek kan nie vir Numsa praat nie. Ons weet nie wat hulle gedoen het nie. Die geweld het nog nooit afgeneem nie, maar eerder vererger. Ons praat nou van drie of vier aanvalle per dag.”

Hy sê mense in Suid-Afrika het nie meer geld nie en dit gaan sleg met die ekonomie.

“Dit is ’n klein groep mense wat verhinder dat ander kan werk. Die hele optrede van Numsa maak kollektiewe bedinging onmoontlik en belaglik.

“Ons hele Arbeidswet is rondom kollektiewe bedinging geskryf en nie kollektiewe manipulering en kollektiewe geweld nie,” sê Pieterse.

Meer oor:  Numsa  |  Numsa-Staking  |  Johan Pieterse  |  Lesley Mphahlele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.