Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NUUSARTIKEL: Twee taxi’s na ’n land van hoop

Nêrens is jy so naby aan die demokrasie op voetsoolvlak soos in ’n taxi na die townships nie. Charles Smith en die fotograaf Mlungisi Louw het ’n taxi-rit onderneem en ervaar hoe lewend en sterk ons demokrasie onder mense is vir wie politiek letterlik iets is wat jou lewe kan maak of breek.

Skaapkoppe vir stemdag. Margaret Ramonatoedi verkoop op die sypaadjie in Bloemfontein afvalle teen R70 vir ’n skaapkop en vier skaappote. Die ANC “het haar van die strate gehaal en deur die skool gesit”. Volgens haar is sy deel van ’n vroueprojek van Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier. Sy is gelukkig met die ANC – al is sy “tydelik weer op straat” waar sy afvalle verkoop.Foto: Mlungisi Louw

Margaret Ramonatoedi tel twee bloeiende skaapkoppe uit ’n sak en hou dit soos ’n offerhande in die lug.

’n Offerhande vir die land.

Die bloed drup uit die oogholtes en die bekke op die Bloemfonteinse sypaadjie.

Dit drup op die hoop skaappote wat voor die tekkiewinkel lê en die stalletjie van die smous wat grondboontjies rooster en teen R5 per pakkie verkoop.

Margaret vra R70 vir ’n skaapkop met die vier pote. ’n Vars afval vir die naweek voor die verkiesing.

En om Suid-Afrika se 25ste jaar van demokrasie te vier.

Dis wat Margaret met haar stem vier. Die vryheid wat die ANC haar gebring het.

“Ek gaan vir die ANC stem, beslis. Die ANC het my van die strate gehaal en deur die skool gesit.”

Nee, nee, nee, dis nie te sê sy is gelukkig met die stand van sake in die land nie.

Julius Malema pryk op ’n plakkaat by die sangoma-stalletjie onder die taxistaanplekke in Bloemfontein. Hlompho Sefali, die kruieman, stel die wortel maleka voor as mense medisyne nodig het om hulle helder insig te gee oor vir wie om in die verkiesing te stem. Foto: Mlungisi Louw

Maar daar is na haar gekyk. Sy is deel van ’n vroueprojek wat Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, op die been gebring het.

Sy is net tydelik hier. Terug op straat. Op die sypaadjie om vars geslagte skaapafvalle te smous. Iewers gaan haar geluk draai, glo sy.

Iewers.

Die stad het baie verander in 25 jaar. Soos die land. Hier aan die stasie se kant wemel dit van mense. Die sypaadjies is gepak met smouse. Vullis lê in groot hope op straathoeke. Musiek blêr uit winkels.

Die skoon, oop strate van die 80’s is soek. Die mooi stasiegebou met sy kafee met “die beste koffie in die land” is vuil en vervalle.

Die stad met sy apartheidsplan van swart townships ver buite die wit middestad het ’n Afrikastad geword. Mangaung.

Ja wat, hy is happy met hierdie land. Hy swoeg hard, maar die ANC het vir hom gesorg, sê Steven Ponto (52), ’n skoenmaker van Mangaung. Foto: Mlungisi Louw

Wortel om reg te stem

Om die stad se hart voor die verkiesing te voel klop moet jy reis soos honderdduisende elke dag van hul Hop-huise en sinkhuise pendel – met minibus-taxi’s.

Ons slaan voet verby Augustina Sabati (48) van Fase 5 wat groente smous om haar drie kinders te onderhou.

“Ek’s happy,” sê sy en sny ’n ysterpampoen in fyn blokkies wat sy teen R5 per pakkie verkoop. Sy verdien R1 500 per maand plus ’n R420-welsynstoelae vir een van die kinders.

Dus verdien sy minder as die minimum loon.

“Ek stem al van 1994 vir die ANC. Ek is gelukkig. Ek het nie meer ’n makuku (sinkhuis) nie. Ek het ’n Hop-huis, ’n toilet, water. Alles.”

Ons stap verby Izekiel Mothibi (63), wat op ’n bank onder die taxi-oorbrug met ’n Savanna in die hand lê.

Hy stem ook vir die ANC.

Hoekom?

“Vir wie moet ek anders stem?”

Vir die EFF dalk?

“Die EFF? Sal hulle my ’n job gee?”

Het die ANC hom ’n job gegee?

Izakiel Mothibi (61) vat die lewe rustig. Die ANC het vir hom “geld” (welsynstoelae) gegee en hy is tevrede. Daarom kan hy voor middagete op ’n weekdag sy tyd met ’n dop en twak op ’n bank verwyl. En ja, hy gaan natuurlik vir die ANC stem. Foto: Mlungisi Louw

“Nee. Maar ek het geld gekry,” sê hy en vryf met sy wysvinger oor sy duim om te wys hy het geld. Hy lag en vat ’n diep sluk Savanna.

Net welsynstoelae vroeg in die maand kan jou so gelukkig maak om ’n dop voor middagete te kan geniet.

Ons stap verby Julius Malema wat van ’n rooi plakkaat glimlag oor die sakke kruie, wortels, horings en bossies by ’n sangoma se stalletjie.

Son of the soil, smaail Juju.

Tussen plakkate wat penis cream en room vir hips, bums en lost lovers verkondig. ’n Ander plakkaat belowe veilige en pynlose aborsies.

Hlompe Sefali, die kruiesmous, beveel ’n knoets van ’n wortel aan om te gebruik om op 8 Mei reg te stem.

Hy teug aan ’n zol dagga en lag sinies.

En wat maak ’n man met die knoets? Rook jy dit of drink jy dit soos tee?

“Nee-nee, jy sit die wortel in jou sak en daar gaan jy. Die wortel sal jou reg laat kies,’’ sê hy.

’n ANC-hoed vir 'n cowboy van die strate. Nasear Lubyo is ’n buitelander en kan nie Woensdag stem nie, maar hy hou van die cowboy-hoed met die ANC se kenteken op. Hy is ’n smous in die strate van Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw

Wat is die wortel se naam?

Maleka.”

“So jy gebruik maleka vir Malema?”

“Nee-nee. Jy kies dan die regte party.”

Wie is die regte een?

“Ek het geen benul nie. Ek gaan nie stem nie,” sê Sefali en trek diep aan sy zol.

Ons stap verby Steven Ponto (52), ’n skoenmaker wat voor ’n berg skoene sit, swetend, en werk en ook “happy met die ANC is”; maar Bobbo Horsemouth, ’n Rastafariër, sê hulle stem slegs vir God.

In die taxi van Paulos Nomlukwayi met die naam “Ewe Tutu” (“reg so, Tutu”) word politiek gesels. Jenet Monyetsane (regs voor) steun die ANC, al is sy ongelukkig oor dienste. Francina Porota (37) langs haar is moeg vir beloftes en tsotsi’s en wil hê Julius Malema en die EFF moet verandering teweegbring. Agter hulle, in die middel, is Sophie Elebakeng (57), wat ook keelvol is vir wat in die land aangaan en na die DA neig. Foto: Mlungisi Louw

“Dit is skelmse mense (die politici) wat ons wantrou. Hulle gaan ons net laat honger ly.”

Dan is ons by die taxi’s en klim in Paulos Nomhlukwayi se Toyota-minibustaxi, waarop staan: Ewe Tutu. Tutu is reg.

Nou, 25 jaar ná emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se Waarheids-en-versoeningskommissie se ontrafeling van die vergrype van die NP-regering, is Jenet Monyetsane vasbeslote om te gaan stem, weer vir die ANC, al is sy sielsongelukkig met wat in die land aangaan.

Net voor die taxi vertrek, koop sy ’n groot peer en sit dit op haar skoot, haar hande op die vrug.

“Die mense word beroof en doodgemaak. Dinge moet verander. Verandering is op pad ja, maar nie vinnig genoeg nie,” sê die enkelma van drie wat onderweg is na haar huis in Fase 3.

Hoop hou ’n dag lank

Die taxi skud deur die slaggate as ons die townships inry, verby hope vullis en wasgoed wat voor klein huise in die son hang.

Die taxi ry diep in die wonde van apartheid, die duisende hopies huise op die vaal, vuil vlaktes waar drome van ’n land vry van die struggle van oorleef, van koue, honger en dors in die stof en modder wegsypel.

Francina Porota (37), ook ’n enkelma van drie wat langs haar sit, skud haar kop hewig. Sy gaan vir Julius Malema stem. Daar is vuur in haar oë.

“Ek stem vir verandering. Vir gratis onderwys, werk en die voorreg om werklik vry te wees in Suid-Afrika. Die tsotsi’s regeer die plek. Ek vertrou nie die polisie nie, hulle werk saam met die tsotsi’s. Julius sal alles verander.”

In die taxi van Paulos Nomlukwayi met die naam “Ewe Tutu” (“reg so, Tutu”) word politiek gesels. Jenet Monyetsane (regs voor) steun die ANC, al is sy ongelukkig oor dienste. Francina Porota (37) langs haar is moeg vir beloftes en tsotsi’s en wil hê Julius Malema en die EFF moet verandering teweegbring. Agter hulle, in die middel, is Sophie Elebakeng (57), wat ook keelvol is vir wat in die land aangaan en na die DA neig. Foto: Mlungisi Louw

Sy lewe van stukwerk en verdien sowat R210 per dag – as sy werk kry.

“Ek is kwaad, baie kwaad. Die regering voorsien nie in ons behoeftes nie. Ek woon in ’n sinkhuis sonder elektrisiteit en lopende water.”

By die afdraai na Fase 3 klim Francina af met haar Checkers-sakke vol hoop vir haar drie kinders. Daar is melk, meel en brood in die sakke. Hoop hou hier net ’n dag lank.

Dit is ironies genoeg die plek waar Jacob Zuma vyf jaar gelede umshini wami gesing het; dansend en smalend. En naby die plek waar Cyril Ramaphosa onlangs meer werk aan die werkloses belowe het.

Die mense is gatvol vir beloftes.

Francina se rooi EFF-uniform en baret is gereed om Woensdag te dra, sê sy voordat sy met die geel plastieksakke tussen die duisende sinkhuise instap.

Iewers in Fase 5 stop Gladwell Tyindyi die taxi langs ’n padskraper wat die strate in die eindelose vlaktes vol huise skraap.

“Kyk, nou skraap die owerhede die paaie voor die verkiesing. Dis net omdat hulle die mense se stemme soek.

“Die mense ly hier. My hart is seer oor wat hier gebeur. Hulle maak baie beloftes en gee kospakkies weg – kos wat hulle gesteel het.”

Hy soek na ’n politieke party wat vir die mense gaan werk.

“’n Party soos die DA,” sê Tyindyi.

Augustina Sabati (48) van Fase 5 verkoop groente in Bloemfontein se strate. Sy gaan beslis weer vir die ANC stem, want sy het ’n Hop-huis, ’n toilet, lopende water en krag. Foto: Mlungisi Louw

“Ja, dis die waarheid!” sê Sophie Elebakeng (57), wat die taxi gehaal het om werk in die stad te soek. ’n Koor stemme beaam dit.

Maar dan breek ’n stryery uit tussen haar en Mamoekete Matlaletsa (46), wat sê die ANC sorg sedert 1994 baie goed vir die mense.

Jenet Monyetsane klim uit en begin die peer eet wat sy al die pad tot hier gespaar het.

Die vrug van haar besoek aan die stad. Iets kleins waarmee sy haarself kan bederf.

Dié plakkate laat dit lyk of die taxi-staanplekke in Bloemfontein EFF-gebied is. Foto: Mlungisi Louw

‘Die ANC eet alleen’

’n Paar strate later loop ‘Ewe Tutu’ in ’n straat vol slaggate, vullis en riool leeg en ons spring in ’n tweede taxi wat terug na die stad mik.

“Ons is DA hier. Almal,” sê ’n vrou wat in die voorste ry sit.

Hoekom?

“Want die ANC eet alleen. As die ANC dik is, ken hulle nie die mense nie. Hulle is ’n klomp diewe!”

Dis waar, sê twee jong vroue.

Hulle stem ook vir die DA, maar nie een is bereid om hul name te gee nie.

David Letshaba is die vuluvala (kliëntwerwer en deur-oopmaker) van ’n taxi in Mangaung. Hy gaan vir die EFF stem. Foto: Mlungisi Louw

Volgens hulle is die hele Khotsong-gebied in Fase 5 ’n DA-gebied.

Die plek is ’n modderbad as dit reën.

Die taxi vleg deur die verkeer na die stad. Langs die pad is ’n God First-haarsalon.

Sonlig van hierdie helder Vrystaatse herfsdag val deur die sondak in die voertuig.

Daar is ’n teken teen die dak wat wys dit is die nooduitgang.

Die pendelaars van die groot, arm plakkerskampe wys die demokrasie in die land is lewend en gesond.

In baie gevalle is dit al waarop hul hoop geskoei is wanneer hulle saans waterloos, kragloos en moedeloos in hul koue sinkhuise lê.

Dis nog nie nodig om die nooduitgang na ’n ander land te gebruik nie.

Soms is daar nog ’n paar rand te maak vir ’n afval om iets soos jou vryheid te vier.

’n Offerhande vir die demokrasie.

Bloemfontein het in die 25 jaar van demokrasie ’n ander stad geword. Hope vullis lê op die straathoeke en mense sukkel om ’n bestaan te maak. Tog is dit 'n lewendige plek met mense wat drasties van mekaar oor die politiek en die toekoms verskil. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemfontein  |  Verkiesing 2019  |  Kiesers  |  Taxi's  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.