Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Nuwe begin’ ná tragedie by skool

Hoewel die Hoërskool Driehoek Maandag van Marli Currie (14), Jandré Steyn (13), Roydon Olckers (17) en Marnus Nagel (16) afskeid geneem het, het dié dag ook ’n nuwe begin – die begin van herstel – vir die skool ingewy.

Dit was die slotwoord van Wiaan Storm, pastoor van die River of Life-gemeente, maar ook adjunkvoorsitter van Driehoek se beheerraad, kort voordat honderde ballonne in die lug bo die Kompas-gemeente in Vanderbijlpark losgelaat is.

Storm het past. Marius Malan se gedenkdiens vir die slagoffers van die Driehoek-brugtragedie afgesluit en die vier ontslape leerlinge met koringkorrels vergelyk wat groei waar hulle geval het.

Driehoek-ouers is gevra om 2 500 geel en pers kolwyntjies vir besoekers te bak.

“Daar begin nou iets nuuts by die Hoërskool Driehoek,” het hy gesê.

Vier groot foto’s van die leerlinge het die middag voor in die kerk gepryk. Groot ruikers het die verhoog versier en pers ligte met geel blommotiewe (Driehoek se kleure) is teen die voorste kerkmure vertoon. Ouers van die skool is gevra om 2 500 pers en geel kolwyntjies te bak wat in die sysaal van die kerk uitgestal is.

Dié gesamentlike gedenkdiens volg kort op die private begrafnisse van verlede week.

Driehoek-leerlinge was Maandagoggend vir die eerste keer weer terug by die skool en baie het die diens in hul skoolklere saam met hul ouers bygewoon.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, asook Gift Moerane, burgemeester van die Emfuleni-metro, was onder die nagenoeg 2 000 teenwoordiges.

Malan het gepreek oor die onsekerheid wat die dood teweegbring en benadruk dat dit onverwags is – veral wanneer kinders ter sprake is.

Hy het die dood met ’n deur in ’n gebou vergelyk en dit deur middel van ’n lewensgrootte wit deur op die verhoog gedemonstreer.

“Kan ek jou troos met die woorde: Die dood is net ’n deur. Dis nie die finale sê nie. Dis nie die einde nie,” het hy gesê. “In die groter prentjie van die ewigheid is die dood maar net die begin. Die dag van die tragedie was die begin van die ewigheid vir daardie vier kinders.”

Hy het gesê dat daar min mense in die kerk teenwoordig is wat weet waardeur die ouers van die betrokke kinders gaan, “maar God weet. Hy het sy Seun ook verloor. Hy weet waardeur jy gaan.”

Minstens 2 000 ballonne is Maandag ná die gedenkdiens by die Kompas-gemeente in Vanderbijlpark losgelaat.

Malan het die gemeenskap aangemoedig om die ouers te bly ondersteun – veral wanneer die aandag begin taan en mense met hul eie lewens voortgaan.

Ná die diens het Jacques Marx, ’n beheerraadslid, die ouers van die oorledenes bedank dat hulle hul kinders vir die skool geleen het.

Hy het die beseerdes sterkte toegewens en die ouers van die res van die leerlinge belowe dat die skool “nooit enige kind in ’n posisie sal plaas wat hom of haar kan leed aandoen nie”.

Marx het die hospitale en skenkers bedank en melding van die gemeenskapslede gemaak wat die dag van die ramp op die toneel kom help het.

Hy het ook die onderwysers en die skoolhoof, Hein Knoetze, bedank en gesê dis die laaste week deur en deur bewys dat hulle die kinders se “ouers” by die skool is.

Marx het laastens die media vir die verantwoordelike, sensitiewe verslaggewing bedank. Dit kom nadat Malan met die aanvang van die diens gesê het die media moet die ouers en kinders respekteer en gesê het “die kerk behou die reg van toegang voor”.

“As enigiemand met ’n kamera in ’n gang gesien word, sal die Suid-Afrikaanse Polisiediens jou uitvat,” het hy gesê en gemaan “vandag gaan nie oor jou (die joernalis) nie”.

Terug by die skool

Jan Toerien, adjunkhoof, het bevestig die eerste dag terug by die skool het goed verloop.

Soos voorheen berig het die skool Maandag om 07:30 met ’n saalopening op die pawiljoen begin waar die skoolhoof die nuwe reëls vir die kinders neergelê het. Daarna het halfuurlange kontaksessies en pouses tot 12:00 gevolg.

Tans word agt van die minstens 36 klaskamers by die skool gebruik. Leerlinge word in ongeveer 28 tente geakkommodeer.

Hoewel daar vroegoggend ’n reënbui uitgesak het, het hulle nie klagtes ontvang van tente wat lek of inreën nie, sê Toerien.

“Dit was nou maar die eerste dag. Waar daar ’n hickcup was, kon ons dit ook nou al uitstryk. Die skool gaan voort soos normaal.

“Mnr. Knoetze (skoolhoof) het vir hulle (die leerlinge) gesê aangesien hy volgende Donderdag verjaar en hulle nou reeds basies kamp, daar ’n boeresportdag by die skool gaan wees. Die kinders het hom vreeslik geniet.”

Volgens Toerien het sommige leerlinge van die beraders gebruik gemaak wat ook die res van die week op die skoolgronde sal wees.

Meer oor:  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.