Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nuwe Comrades-liefling ‘se bene nog nie eens seer nie’
Gerda Steyn Sondag by die eindpunt van die Comrades-wedloop. Foto: Gallo Images

Gerda Steyn is Suid-Afrika se nuwe koningin en liefling van die Comrades.

Die 28-jarige boorling van Bothaville in die Vrystaat het met Sondag se 94ste Comrades die verbeelding aangegryp deur die eerste vrou te word wat die op-Comrades tussen Durban en Pietermaritzburg in minder as ses uur kon aflê.

Haar wentyd van 5:58:53 was goed genoeg om aan haar ’n ongelooflike algehele 17de plek te besorg.

Sy het met dié oorwinning gewys sy is in dieselfde klas as Frith van der Merwe, wat 30 jaar gelede die eerste vrou geword het wat die af-wedloop Durban toe in minder as 6 uur kon aflê.

Die Comrades is in my hart en in my siel. Dit is deel van wie ek is.

Van der Merwe se tyd van 5:54 is steeds die vinnigste.

Van der Merwe (nou 55 jaar oud) was drie dekades gelede algeheel 15de.

Steyn het meer as R1 miljoen verower – R500 000 omdat sy gewen het, ’n verdere R500 000 omdat sy ’n rekord oortref het en nóg R200 000 omdat sy die eerste Suid-Afrikaner oor die eindstreep was. Sy het reeds Olimpiese marathondrome.

Steyn het deurentyd voor gehardloop en het selfs teen die moordende Field’s Hill gemaklik gelyk. In stadiums het sy selfs met ’n breë glimlag vir die mans om haar water help aangee.

Die oud-Kovsie wat bourekeningkunde studeer het, sê toe sy in 3:02:03 verby Drummond (die halfpadkerf) is, het sy geweet sy kan die Rus Elena Nurgalieva se rekord oortref. Sy het dit uiteindelik met meer as 10 minute gedoen.

Ná die wedloop het Steyn vir die Here dankie gesê, want “ek weet nie waar my krag vandaan gekom het nie”.

“Die Comrades is in my hart en in my siel. Dit is deel van wie ek is,” sê Steyn, wat ook die Twee Oseane-kampioen is.

Haar ma, Trudie, en pa, Piet, van Leeudoringstad in Noordwes, was van die eerste mense wat haar geluk gewens het.

“Dit voel so onwerklik. Dit is ongelooflik,” het Trudie Steyn gesê.

Steyn het later op ’n mediakonferensie gesê haar doel was om te wen. Hoewel die nuwe rekord in haar agterkop was, was dit nie haar vernaamste prioriteit nie. Sy het ook nog Olimpiese marathondrome. 

“Ek kan dit steeds nie glo nie. In hierdie stadium is my bene nie eens seer nie.”

Van der Merwe het in haar reaksie gesê sy is bly sy kan ná 30 jaar die mantel aan Steyn oorhandig.

“Gerda het briljant gehardloop. Sy is besonder talentvol en ’n wonderlike mens.”

Die trane het in Steyn se oë opgekom toe Netwerk24 aan haar vertel het wat Van der Merwe sê.

Haar verloofde, Duncan Ross, is ’n vlieënier vir Emirates Airways. Hulle verdeel hul tyd tussen Suid-Afrika en Frankryk. Sy het in die Franse Alpe vir die Comrades voorberei.

DURBAN, SOUTH AFRICA - JUNE 10: Edward Mothibi fin
Edward Mothibi is vanjaar se wenner van die Comrades-marathon. Hy was verlede jaar vierde. Sy nie-amptelike wentyd is 5:31:42. Foto: Anesh Debiky/Gallo Images

Edward het nie verwag om te wen nie 

Edward Mothibi, ’n Rustenburger wat die wedloop algeheel gewen het, het erken hy het glad nie verwag om te wen nie.

“Toe Bongmusa (Mthembu, die verdedigende kampioen) kort voor Polly Shortts weggebreek het, het ek gedink dit is verby. Ek was bang vir hom en het ‘n kans gevat toe ek later teen Polly’s aangeval het.

“Soos ek hier sit, kan ek steeds nie glo wat gebeur het nie.

“Ek dink God het my vandag gehelp,” sê die nuwe kampioen wat gewen het met ’n tyd van 5:31:33.

Sy drie dogtertjies het tydens die mediakonferensie stil agter hom op die verhoog gesit.

Toe hy gevra is wat hy met sy R500 000 prysgeld gaan doen, het Mothibi, wat soos Steyn vir Nedbank deelneem, gesê hy wil die huis wat hy verlede jaar gekoop het, afbetaal.

Meer oor:  Edward Mothibi  |  Gerda Steyn  |  Marathon  |  Comrades  |  Wenners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.