Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nuwe hoop ná Lise Brink op gospelliedjie reageer
Dr. Danie Brink (47) en sy vrou, Lise (42), met Daniël (2) op haar skoot, en van links Rachel (8), André (13), Johann (10) en Mieke (15) met ’n vorige Kersfeesviering.

Lise Brink se oë het – terwyl sy nog in haar koma is – Sondagaand vir kort rukkies oop en toe gefladder toe haar man haar gunsteling-gospelliedjies vir haar in die hospitaal gespeel het.

Lise, vrou van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is erg beseer in ’n motorongeluk op 16 Desember terwyl sy en haar gesin op pad was na Kaap St. Francis in die Oos-Kaap vir hul jaarlikse vakansie. Twee van hul vyf kinders, André (13) en Rachel (8), is in die ongeluk dood.

“Danie het laat weet dat hy vir haar David Wesley, haar gunstelingkunstenaar, gespeel het en dat sy veral op “In Christ Alone” en “Wonderful Merciful Savior” positief gereageer het,” het dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof en voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand, Maandag gesê.

“Ek kon sien sy het dit geniet. Ons harte is dankbaar vir almal wat haar (Lise) in hul gebede dra – moet asseblief nie ophou nie,” het Brink laat weet.

“Lise stoei nog met die longontsteking, maar haar infeksietelling het oor die afgelope twee dae verminder en was vanoggend nog laer,” sê Hermann.

“Waar ons ’n paar dae gelede baie bekommerd was dat sy besig is om treetjies agteruit te gee, toon sy nou al hoe meer tekens dat sy begin wakker word.”

Volgens Hermann is die dokters ook besig om die medikasie wat haar onder verdowing hou af te skaal.

'n Mens sien werklikwaar die krag van ’n gemeenskap in so iets raak en ons wil net graag vir almal baie dankie sê

Dit lyk voorlopig asof die Franse medikasie wat sy vir haar longontsteking neem, resultate lewer.

“Ons groot kommer is maar die longinfeksie en sy is tans nog in isolasie sodat sy nie aan enige kieme blootgestel word nie,” sê Hermann.

“Die familie werk nog deurentyd met die filosofie dat ’n mens so iets maar treetjie vir treetjie en dag vir dag moet aanpak. Gelukkig lyk dit nou asof sy besig is om treetjies vorentoe eerder as agteruit te neem.”

Hermann het namens die familie dankie gesê vir die “letterlik duisende mense” wie se gebede, reaksie en boodskappe die familie deur hierdie moeilike tyd dra.

“’n Mens sien werklikwaar die krag van ’n gemeenskap in so iets raak en ons wil net graag vir almal baie dankie sê.”

Lise se linkerbeen moes ná die ongeluk net onder die knie geamputeer word, nadat sy akute kompartementsindroom opgedoen het. Die sindroom veroorsaak erge swelling en belemmer die bloedsomloop.

Haar longontsteking bemoeilik enige verdere operasies, maar sy moet nog ’n rugoperasie en operasie aan haar kakebeen ondergaan. Dié prosedures is sedert haar opname in die hospitaal telkemale weens hoë koors uitgestel.

Mense van oor die land heen het verlede week ’n gebedsketting vir Lise se herstel gehou en Hermann sê dié ondersteuning en sy eie sterk geloofsgrondslag gee hom (Brink) die innerlike krag “om sterk te bly”.

Luister hiér na die liedjie "Wonderful Merciful Savior:

Meer oor:  Lise Brink  |  Centurion  |  Ongeluk  |  Hospitaal  |  Hoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.