Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nuwe hoop op die platteland

Regstelling:

Hierdie berig het voorheen gesê dat Eskom verlede jaar verskeie kere die kragtoevoer na Harrismith afgesny het. Hoewel Eskom gedreig het om dit te doen, het dit nooit gebeur nie.  Dit het ook gesê Eskom gaan regstreeks krag lewer aan die dorp se 100 grootste kragverbruikers. Eskom sê hoewel die verbruikers hulle direk gaan betaal, word die elektrisiteit steeds deur die munisipaliteit se stelsels voorsien.  Eskom sê verder die Harrismith-sakeforum gaan nie gedeeltelik betaal vir die installering van nuwe elektrisiteitsmeters nie.


Jare al lewer Eskom elektrisiteit aan dorpe waar baie inwoners en sakeondernemings getrou hul elektrisiteit betaal, maar die munisipaliteit dié geld vermors en nooit aan Eskom oordra nie.

’n Deurbraak Vrydag op Harrismith kan dié toedrag van sake ingrypend verander.

Die Harrismith-sakeforum het ’n ooreenkoms met Eskom bereik waarvolgens die dorp se 100 grootste kragverbruikers voortaan die geld direk in Eskom se rekening betaal.

Hoewel besighede steeds hul krag deur die korrupsievoos en wanfunksionele Maluti-a-Phofung-munisipaliteit se stelsel sal ontvang, sal die munisipaliteit nie meer die geld kan verkwis nie. 

Dit is die uiteinde van ’n regstryd van twee jaar.Dit sal kraglewering tot 'n mate beveilig, maar plaaslike owerhede ook ontneem van die inkomste wat hulle uit die verspreiding van elektrisiteit verdien.

Ben Deysel, voorsitter van die sakeforum en uitvoerende hoof van die Highwaygroep, het aan Rapport gesê elke kragverbruiker gaan 'n nuwe elektrisiteitsmeter kry en verwysingsnommer kry en betaling vir sy elektrisiteit in ’n spesifieke bankrekening doen.

“Aanvanklik sal dit net die 13 grootste fabrieke in Harrismith wees wat onmiddellik op die stelsel krag begin kry, maar voor einde November sal al 100 grootste verbruikers op die stelsel wees. Die gesamentlike waarde van hul elektrisiteitsrekeninge is sowat R20 miljoen per maand,” het Deysel gesê.

Die nyweraars wat dadelik regstreeks van Eskom begin krag koop, is Nestlé, wat ’n groot aanleg in die nywerheidsgebied het, die plastiekmaatskappy Alpla, Nouwens-matte, Monn-matte, die meubelvervaardiger Entrawood, Shoprite Checkers, Bergview, Future Foods, Maluti Woodward, die Ebenhaezer-breifabriek en die Highway-groep.

Wanneer die res van die sakegemeenskap teen einde November ook op dié stelsel is, word dit oorweeg om huishoudings ook te betrek.

Die sakeforum het die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit ook Vrydag 30 dae kennis gegee om alle munisipale dienste te hervat.

Dit is aanvoorwerk vir ’n dringende hofaansoek daarna om die stadsraad te ontbind en stappe te doen om ’n nuwe owerheid te skep wat dienste kan lewer.

Die munisipaliteit, wat Harrismith en Phuthaditjhaba insluit, skuld Eskom reeds R4 miljard weens onbetaalde elektrisiteitsrekeninge – die grootste uitstaande munisipale rekening aan Eskom in die land. Die munisipaliteit se elektrisiteitsrekening by Eskom beloop R180 miljoen per maand en is jare laas betaal.

Eskom het verlede jaar verskeie kere gedreig om die kragtoevoer na die dorp heeltemal af te sny. 

Dit het uitgeloop op ’n dreigende hofbevel teen Eskom, maar Eskom het onderneem om nie weer die kragtoevoer af te sny as ’n tussentydse maatreël nie.

Intussen het die sakeforum geslaag met ’n ingewikkelde hofaansoek waarin die nasionale regering gelas is om saam met die munisipaliteit en die sakeforum te beraadslaag oor ’n oplossing wat daarop uitloop dat Eskom vir sy dienste betaal word.

“Dit het geen uitwerking gehad nie. Parks Tau, adjunkminister van koöperatiewe regering wat uitvoering aan die bevel moes gee, was onlangs in Harrismith, maar het glad nie met ons gepraat nie. Ek verstaan hy het wel met die munisipaliteit en die ANC-stadsraadslede beraadslaag,” sê Deysel.

Die stadsraad is verlede jaar ná oproer deur ontevrede inwoners onder administrasie geplaas.

“Die afgelope twee jaar is daar geen rekeningstelsel vir munisipale dienste, insluitende elektrisiteit nie. Daar is 164 000 voorafbetaalde elektrisiteitsmeters wat krag van Eskom kry, maar Eskom ontvang net betaling vir 32 000 meters. Daar is dus 130 000 huishoudings wat krag verbruik sonder om daarvoor te betaal,” sê Deysel.

Hy beskou die ooreenkoms wat Vrydag met Eskom gesluit is, as ’n blywende oplossing vir kraglewering aan die sakegemeenskap om te keer dat werksgeleenthede vernietig word, maar dit gaan geen verskil maak aan die lewering van ander dienste soos water en riolering nie. “Die enigste werklike oplossing is om die munisipaliteit te ontbind en ’n nuwe, lewensvatbare munisipaliteit vir Harrismith te stig. Die regering sal dan die Phuthaditjhaba-munisipaliteit administreer,” sê Deysel.

Rapport het die afgelope week verskeie kere probeer om kommentaar van Tau te kry oor die kragooreenkoms en die implikasies vir plaaslike besture. Sy woordvoerder, Lungi Mtshali, het Vrydagaand onderneem om te reageer, maar teen druktyd was daar nog geen reaksie nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van koöperatiewe regering, sou Dinsdag die parlementêre komitee oor openbare rekeninge (Skoor) inlig oor die vordering van ’n interministeriële taakspan om die krisis oor Eskom-skuld aan munisipaliteite op te los, maar het nie vir die Skoor-sitting opgedaag nie.

Meer oor:  Harrismith  |  Ondernemings  |  Elektrisiteit  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.