Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nuwe reëls vir restaurante bied min verligting

Selfs al mag mense weer van môre af in restaurante eet, sal tot ’n derde van eetplekke steeds nie kan oorleef nie.

LeBrun Rossouw, eienaar van die Jolly Roger-kuierplek. Foto’s: Deon Raath

Baie restaurateurs sê hulle gaan verliese ly omdat hulle nie drank mag bedien nie en nie hul restaurante mag volpak in spitstyd nie.

Ingevolge die jongste regulasies vir restaurante wat Vrydag deur Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, afgekondig is, moet daar 1,5 m tussen tafels wees. Klante mag hul maskers net afhaal om te eet of drink en kelners moet minstens 1 m van ’n tafel staan wanneer hulle bestellings neem.

Die volledige gesondheidsmaatreëls sal na verwagting Maandag in die Staatskoerant gepubliseer word.

Christian Maiorana van die Tshwane-toerismevereniging wat 420 eetplekke in Gauteng verteenwoordig, sê die regulasies bring amper geen verligting vir aansit-restaurante nie, omdat hulle steeds nie toegelaat word om drank te verkoop nie.

Ons verwag dat tussen 20% en 30% van restaurante nie weer hul deure gaan oopmaak nie.

“Ons het met honderde restauranteienaars oor die land heen gepraat en hul vooruitsigte om te oorleef is baie skraal. Ons verwag dat tussen 20% en 30% van restaurante nie weer hul deure gaan oopmaak nie.”

Maiorana sê baie restauranteienaars het reeds hul somme gemaak en besluit om toe te bly, totdat dit weer die moeite werd is om handel te dryf. “Hulle is nie bereid om teen ’n verlies te werk nie.”

Volgens hom word baie restaurante deur verhuurders geboelie om huur te betaal en is dus onder druk om hul deure oop te hou, selfs al doen hulle sake teen ’n verlies.

Mairona verwag dat daar volgende week ’n kortstondige stormloop na restaurante gaan wees van mense wat ’n behoefte het om uit die huis te kom. Mense gaan nie lank tevrede wees om droëbek by ’n restauranttafel te sit nie en gaan eerder by die huis bly, sê hy.

Volgens hom is die jongste regulasies nie goed deurdink nie.

Vicky Harris, mede-eienaar van die Nice on 4th-koffiewinkel.

“Dit lyk nie of die regering besef hoeveel mense geraak word nie. Dit is nie net die 30 of 40 werknemers wat gemiddeld in elke restaurant werk wie se werk in gedrang is nie. Honderde klein ondernemings wat dienste en goedere aan restaurante verskaf, word ook geraak.”

Restauranteienaars in Vierde Laan in Parkhurst, Johannesburg, sê hulle is in ’n stryd om oorlewing gewikkel.

Vier van die 20 restaurants in dié gewilde kuierbuurt het reeds hul deure permanent gesluit.

Vassilios Holiasmenos, eienaar van die Griekse restaurant Kolonaki, het in Desember die Italiaanse restaurant Modena gekoop en R6,5 miljoen bestee om dit uit te rus. Toe die inperking begin, het hy al sy bederfbare voorraad aan sy personeel geskenk en sy 120 werknemers se salarisse van R400 000 betaal.

“Ek het drie maande lank geen inkomste gehad nie en ek moet nou R300 000 vind om voorraad vir my restaurante te koop. Die rekeninge stapel op en my uitgawes raak net meer.”

Sy verhuurder wat hom tegemoet gekom het, is die enigste rede waarom hy nog oop is.

Vicky Harris, mede-eienaar van die Nice on 4th-koffiewinkel, is in ’n soortgelyke bootjie.

Sy sê die koffiewinkel was suksesvol voor die inperkingstydperk en haar verhuurder is nou baie toegeeflik. Daarom is haar deure nog oop, al kan sy weens die regulasies oor afstande minder klante bedien.

Sy sê die eetplekke wat voor die inperkingstydperk swaargekry het, kon eenvoudig nie deurdruk nie.

“Dit is so tragies dat gemeenskapsondernemings nou hul deure moet sluit weens omstandighede buite hul beheer. Ons het mekaar gehelp en dit is hartseer dat baie van hulle bankrot is.”

LeBrun Rossouw, eienaar van die Jolly Roger-kuierplek, sê hy mag nie drank verkoop nie en verkoop nou maar pizzas, maar hy maak nie naastenby genoeg om sy koste te dek nie. Sy besigheid is net volhoubaar as hy toegelaat word om drank te verkoop, sê hy.

Wendy Alberts, voorsitter van die Restaurantvereniging van Suid-Afrika, sê hulle wil met die minister vergader oor die drankverbod voordat hulle hof toe gaan.

Kubayi-Ngubane het Vrydag gesê die minister van handel en nywerheid besluit daaroor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.