Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nuwe sportgeriewe sal kinders ‘uit die kwaad hou’

“Dit wys vir ons kinders daar is wel hoop.”

So het Breyten Paulse, voormalige Springbokvleuel, die belangrikheid van sportfasiliteite by skole beskryf.

Paulse het gepraat by die Laerskool Riverview in Worcester waar ’n veeldoelige sportfasiliteit van nagenoeg R1,2 miljoen bekendgestel is.

Die fasiliteit, wat onder meer uit sokkerdoelhokke en netbalringe bestaan, word deur die Sports Trust geborg.

Fikile Mbalula, minister van sport, sou ook die geleentheid as hoofspreker bywoon. Hy was Vrydag egter nie teenwoordig nie.

Laerskool Riverview het die fasiliteit as deel van SuperSport se Let’s Play-kompetisie vir 2015 gewen. Verlede jaar se kompetisie, wat die voltooiing van ’n hindernisbaan vir gr. 4-leerlinge behels, het sowat 403 000 leerders van 473 verskillende laerskole ingesluit.

Verskeie afgevaardigdes het Vrydag Worcester se snikhete weer aangedurf om die fasiliteit aan die skool te oorhandig.

Dr. Granville Whittle, die adjunk-direkteur-generaal van sorg en ondersteuning by die departement van basiese onderwys, en verskeie afgevaardigdes van die borge, was teenwoordig. Mbalula, wat steeds as hoofspreker op die amptelike program aangedui is, was egter nie daar nie.

Volgens Paulse is so ’n fasiliteit, veral in agtergeblewe gemeenskappe, van kardinale belang. “Die kinders wat van sulke plekke af kom, het nie altyd die geleenthede om op goeie sportvelde te speel nie. Hierdie gaan vir baie kindertjies geleenthede gee en ook vir hulle wys dat daar hoop is,” het Paulse gesê.

“Ek kyk veral na myself in hierdie opsig; ek meen, ek kom van die plaas af en ek het nie altyd groen rugbyvelde gehad om op te speel nie. Hierdie fasiliteit gaan vir hulle baie beteken.”

Paulse het gesê dit was vir hom ’n “reusevoorreg” om die oorhandiging te kon bywoon, en het dit as emosioneel beskryf.

Vaughn Bishop, wat aan die hoof van Let’s Play staan, het aan Netwerk24 gesê die hoofdoel van die inisiatief is om vir kinders ’n aktiewe leefstyl te laat volg.

“Ons beskou hierdie as ’n behoefte aangesien een uit elke vier kinders in Suid-Afrika oorgewig is. Kinders neem nie meer aan fisieke aktiwiteite deel nie.”

Volgens Bishop het kinders ’n “aptyt” om aktief te wees.

“Die eenvoudige feit is dat kinders wil speel, maar nie alle kinders het die fasiliteite om te kan speel nie.”

Jackie Mathebula, voorsitter van die Sports Trust, het gesê hulle is uiters trots om aan so ’n projek verbonde te wees.

“Om jong kinders te help en hul sporttalent te help ontwikkel, is fantasties. Ons leer hulle ook die regte gewoontes aan terwyl hulle nog jonk is.”

Volgens Mathebula is die voordeel van so ’n fasiliteit tweeledig.

“Eerstens help ons om sporttalent te ontwikkel, en tweedens hou ons die kinders so uit die moeilikheid.”

Dit is ’n sentiment wat deur Jacob Titus, Laerskool Riverview se skoolhoof, aan Netwerk24 beaam is: “A kid on sport is a laaitie out of court.”

Meer oor:  Breyton Paulse  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.