Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NWU-dosent het belowende toekoms gehad, sê kollega
Die toneel naby die kampus se ingang met die sloot waarin Van de Venter geval het. Foto: Rasaad Adams, Potchefstroom Herald

Sommige mense is slim, maar Rudi van de Venter, wat in ’n fratsongeluk op die kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom dood is, was “in ’n klas van sy eie”, het prof. Josef de Beer, ’n kollega, Maandag gesê.

Van de Venter (48), ’n dosent in wiskunde aan die fakulteit opvoedkunde, het in die vroeë oggendure van Saterdag in ’n sloot op die kampus geval wat onlangs vir herstelwerk gegrawe is.

“Hy is een van die slimste mense wat ek geken het. Ek het half verlore geraak in die meeste gesprekke wat ons gehad het. Hy was so slim en sou nog so ’n groot akademiese bydrae kon lewer in die jare wat hy voor hom gehad het,” aldus De Beer, wat ook ’n mentor vir Van de Venter was.

De Beer, wat natuurwetenskappe aan dieselfde fakulteit doseer, sê hy het net Vrydag nog met Van de Venter gepraat. “Ek sou nooit kon droom dis die laaste keer ooit nie. Ons is almal baie hartseer oor sy voortydige dood.”

Volgens De Beer het Van de Venter ’n passie vir sy studente gehad.

Rudi van de Venter

“Hy het vir my vertel hy wil in sy meestersgraad fokus op hoe ons die studente beter kan dien. Hy het soveel moeite met sy studente gedoen en moeite gedoen om wiskunde (op die digitale leerplatform) vir hulle toeganklik te maak,” sê De Beer.

Louis Jacobs, NWU-woordvoerder, sê Van de Venter was Saterdag omstreeks 01:30 te voet op pad na sy kantoor op die universiteitsterrein toe hy vermoedelik in die sloot geval het.

Hy sê die universiteit is plek-plek besig met herstel- en opknappingswerk aan waterpype.

Daar is egter veiligheidsnette aangebring waar die herstelwerk gedoen word.

“ ’n Veiligheidswag het hom om 06:20 in die sloot opgemerk. Hy was toe reeds dood,” sê Jacobs.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê dat ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Volgens Botma is Van de Venter met sy kop na onder aangetref. Die polisie vermoed hy het sy nek in die val gebreek.

Oor die vreemde ure wat Van de Venter op kampus was, sê De Beer dat hy ook soms, wanneer die werklading groot is, al 03:00 op kantoor is om werk gedoen te kry. “Ons is in ’n vreemde beroep,” sê hy.

Jacobs sê die NWU betreur Van de Venter se dood – “veral onder sulke tragiese omstandighede”.

Die universiteit het volgens hom reeds berading vir personeel, studente van die fakulteit en Van de Venter se familie gereël.

“Dit word vanaf die universiteit gedoen,” sê Jacobs.

Van de Venter was enkellopend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.