Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NWU groet puik professor

Die Noordwes-Universiteit (NWU) moes Vrydag ’n groot gees in sy gemeenskap groet.

Prof. Elda de Waal, wat in 2001 haar loopbaan by die NWU begin het, is Vrydag in die ouderdom van 63 in die hospitaal oorlede.

Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend gemaak nie.

Prof. Elda de Waal by die 2018 CEO Global Pan African-toekennings waar sy as een van die mees invloedryke vroue in Afrika benoem is. De Waal is Vrydag in die ouderdom van 63 oorlede. Foto: Verskaf

Luidens ’n verklaring van die universiteit was sy tot onlangs die waarnemende direkteur van navorsing by die navorsingseenheid Edu-HRight (onderwys en menseregte in diversiteit).

Haar navorsingsgebiede het skooldoeltreffendheid, veiligheid, onderwysuitdagings, sosiale wetenskappe en regte ingesluit.

“Tot met haar dood het sy haar uitstekende werk as ’n navorsingsprofessor in die fakulteit opvoedkunde volgehou. As kundige op haar gebied het sy dikwels in die media oor onderwysverwante onderwerpe opgetree en het ’n produktiewe bydrae op verskeie platforms gelewer. Sy het ’n waardevolle rol in die bou van die universiteit se reputasie gespeel, en is deur die universiteit hiervoor vereer,” lui die verklaring.

Sy het verskeie boeke in haar veld gepubliseer en kon met vele toekennings spog, onder meer die benoeming as een van Afrika se invloedrykste vroue by CEO Global se 2018 Pan African-toekennings.

Prof. JP Rossouw, ’n navorsingsgenoot by die fakulteit en een van De Waal se vriende, meen dat hoewel haar afsterwe hartseer is, hy dankbaar is vir die tyd wat hulle saam kon deurbring.

“As lede van die bestuur en opeenvolgende presidente van die vakvereniging Saela (SA Education Law Association) het ons gehelp beplan aan die jaarlikse onderwysregskonferensies wat oor die land heen gehou is.

“Ons het in die proses baie goeie vriende geword en die hoogtepunt van ons kollegiale samewerking was toe sy drie jaar gelede as navorsingsprofessor aangestel is binne die Edu-HRight-navorsingseenheid, waarvan ek die direkteur was,” sê Rossouw. Dit was juis ná sy aftrede dat De Waal as direkteur waargeneem het.

“Sy het geen geleentheid laat verbygaan om positiwiteit uit te straal nie, en het deurlopend brûe gebou tussen diverse groepe.”

Prof. Lloyd Conley, uitvoerende dekaan van die fakulteit, sê De Waal laat ’n groot leemte.

“Deur haar merkwaardige prestasies en as ’n kollega en ’n vriend is Elda se nalatenskap onvergeetlik en sal waarskynlik nie in die toekoms nagedoen kan word nie. Sy was enig in haar soort en ons kan net probeer om in haar voetspore te volg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.