Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
NWU help rampskool met berading

Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan sielkundige en beradersdienste gratis beskikbaar stel aan leerlinge, onderwysers en ouers wat deur die Hoërskool Driehoek-tragedie geraak word.

Hoërskool Driehoek
Die stroom van mense na die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark het Sondag voortgeduur. Blomme, boodskappe en kerse is buite die skoolhek geplaas. Foto: Dlangamandla

Personeel van die NWU-Vaaldriehoekkampus in Vanderbijlpark is reeds in verbinding met die skool.

Linda du Plessis, adjunk-visekanselier op dié kampus, sê van die universiteit se werknemers se kinders is ook in die skool.

“Van die personeel het reeds Vrydag in hul eie hoedanigheid die skool gaan bystaan. Die tragedie raak die NWU direk en daarom het ons besluit om te help. Boonop word die hele gemeenskap, waarvan ons deel is, geraak,” sê Du Plessis.

Vier leerlinge is dood en talle is ernstig beseer nadat ’n stuk beton Vrydag uit ’n loopbrug losgeskeur het. Die loopbrug het twee geboue op die skoolterrein verbind.

Die leerlinge was pas klaar met die openingsbyeenkoms en het van die saal af geloop toe die stuk beton meegee.

Harm Stavast, hoof van studenteontwikkeling op die Vaaldriehoekkampus van die NWU, sê diegene wat geraak word moet so gou moontlik berading ontvang om die ontwikkeling van posttraumatiese stresversteuring (PTSV) te verhoed.

“Dit is belangrik om te onthou dat die emosies wat ná die tragedie gevoel word, normaal is. Om te huil en om kwaad te wees is normaal. As die simptome egter ná ’n maand voortduur, kan dit op die ontwikkeling van PTSV dui,” sê Stavast.

“Seuns is meer geneig as meisies om hul emosies te internaliseer. Die Engelse gesegde lui mos cowboys don’t cry. Dit is belangrik dat leerlinge mettertyd oor hul emosies moet praat, verkieslik vroeër as later,” sê hy.

Die NWU se studentevoorligting- en ontwikkelingsentrum se krisishulplynnommer is reeds aan die skool verskaf. Die sentrum beplan om in groepverband berading aan leerlinge, families en personeel te gee. Individuele sessies kan egter ook gereël word.

Die leerlinge se lewens gaan waarskynlik nooit weer dieselfde wees as voor 08:00 Vrydagoggend nie. Jy kan gaan lê of jy kan iets hiermee probeer doen. Ná ’n tyd gaan die wêreld aan, en die wêreld verwag van jou ook om aan te gaan,

Bernadine Rust, ’n berader wat in traumabehandeling spesialiseer, het ook haar dienste gratis aan die skool aangebied. Sy verhuis binnekort van Bloemfontein na Centurion.

Sy stel voor dat die skool ’n langtermynprogram op die been bring wat op geestesgesondheidsorg fokus.

“Die leerlinge se lewens gaan waarskynlik nooit weer dieselfde wees as voor 08:00 Vrydagoggend nie. Jy kan gaan lê of jy kan iets hiermee probeer doen. Ná ’n tyd gaan die wêreld aan, en die wêreld verwag van jou ook om aan te gaan,” sê Rust.

“Die skool moet nou hande vat en saamstaan. Hoewel dit baie hartseer bly, kan daar magic ontstaan. Ons sien klaar op sosiale media hoe die hele gemeenskap ingryp om die skool te ondersteun,” sê Rust.

“Baie skole is dikwels op prestasie ingestel en leerlinge jaag balkies na. Miskien kan hierdie tragedie vir almal in die land laat nadink oor wat regtig in die lewe belangrik is,” sê sy.

Kontak die NWU-Vaaldriehoekkampus by 016 910 3111 om die noodnommer te bekom.

Die skool kan ook gekontak word om die noodnommer te kry.

Die Suid-Afrikaanse depressie-en-angsgroep (Sadag) se 24-uur-hulplyn kan ook geskakel word by 080 012 1314.

Meer oor:  Noordwes-Universiteit  |  Brugtragedie  |  Berading
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.