Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
O-Kaapse nooddienste staak en wag vir oortydvergoeding
Foto ter illustrasie. Nooddienspersoneel in die Nelson Mandelabaai-metro staak sedert Donderdag, glo weens uitstaande oortydbetaling. Foto: Argief

Nooddienswerkers van die Oos-Kaapse departement van gesondheid in die Nelson Mandelabaai-metro sit al vier dae met hul arms gevou terwyl hulle glo op agterstallige betalings van die departement wag.

Soortgelyke stakings word om dieselfde rede ook op plekke elders in die provinsie gehou.

Volgens ’n bron van die metro se nooddienste het die personeel dié drastiese besluit geneem ná verskeie leë beloftes oor wanneer hul oortydbetaling vir Oktober en November gedoen word.

Die betalings sou aanvanklik voor Desember afgehandel gewees het, maar is later tot Desember en daarna tot Januarie uitgestel.

“ ’n Datum van 15 Januarie is ook gegee, maar personeel wou nie langer wag om te kyk of dit ook net nóg ’n uitsteldatum gaan word nie,” het die bron, wat anoniem wil bly, gesê.

Buiten vir twee of drie personeellede is die metro se nuwe nooddienssentrum, wat verlede jaar geopen is nadat die departement R123 miljoen aan die gebou bestee het, tans sonder nooddienspersoneel.

Volgens die bron help etlike werkers om oproepe te neem en na private ambulansdienste deur te skakel.

“Die inbelsentrum is so te sê leeg en daar is niemand in die ambulanse nie. Ons verstaan daar is mense wat in nood is, daarom probeer ’n paar mense nog uithelp. Dit sal so voortgaan totdat die personeel betaal word,” sê die bron.

Volgens die bron help etlike werkers om oproepe te neem en na private ambulansdienste deur te skakel.

Jane Cowley, DA-woordvoerder oor gesondheid in die Oos-Kaap, het die privaat ambulansdienste vir hul uitstekende werk geloof, maar bygevoeg dat sy bekommerd is oor hoeveel die departement, oftewel belastingbetalers, vir hierdie privaat dienste sal moet opdok.

“Die dienste wat privaat (ambulanse) gelewer word, kom teen ’n groot koste vir die departement, terwyl sy begroting reeds tot op die uiterste gerek word,” sê Cowley.

In Augustus is die dienste van die privaat ambulanse in die metro ook ingeroep, terwyl nooddienspersoneel etlike dae weens veiligheidsrisiko’s gestaak het.

Personeellede het breekpunt bereik nadat minstens drie van hul kollegas binne twee weke aangerand en beroof is terwyl hulle op noodgevalle gereageer het.

Dié rekening sal by die gesondheidsdepartement se uitgawes gevoeg word, terwyl die departement se voorwaardelike aanspreeklikheid, volgens Cowley, reeds sowat R30 miljard beloop. Die gesamentlike begroting is net meer as R25 miljard.

“Die syfers klop nie en dié soort staking dryf die departement net nader aan die randjie van die afgrond.”

Beter beplanning vir die begroting is nou nodig om die departement se geldsake te beredder, sê Cowley. Beloftes deur die departementshoof moet nagekom word.

“Voorsiening moet vir mediese eise gemaak word. Die departement kan nie herhaaldelik geld by ander programme wegneem om vir eise of ander sake te betaal nie.

“Die departementshoof moet ook besef beloftes maak skuld. Ek glo die staking kon vermy gewees het as die departement gou genoeg ingegryp het,” sê Cowley.

Judy Ngoloyi, woordvoerder van die LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, Sindiswa Gomba, het nie Maandag op navrae gereageer nie. Ook Sizwe Kupelo en Siyanda Manana, woordvoerders vir die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Nooddienste  |  Oortyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.