Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
O schucks, Schuster is skielik weer bles!

Rugbykykers is nie ál wat kopkrap oor ’n bles Leon Schuster wat in ’n televisieadvertensie vir weddenskappe oor die Wêreld­beker te sien is nie. En ja, dit ís sy eie bles.

Leon Schuster (Shucks) en Alfred Ntombela (Shorty) in die televisieadvertensie waarin Shucks se pet afval en sy bles wys.

“Kyk ek dra altyd ’n kep en toe neuk die ding af terwyl ons besig was om die advertensie te verfilm en ek gaan toe maar net so aan. Toe sien ek myself ook nou so op televisie en het lekker geskrik,” vertel Schuster.

In die advertensie vir World Sports Betting kyk Shucks (Schuster) en Shorty (Alfred Ntombela) saam hoe die Springbokke speel. Shorty herinner Shucks om sy aanlyn weddenskap oor die telling te maak voor die wedstryd begin, maar hy vergeet. Wanneer die Bokke wen, wens ’n opgewonde Shorty en Schucks mekaar geluk en dan waai die pet . . .

Schuster het sowat ses jaar gelede hulp gekry van Advanced Hair Studio en gespog met ’n kop vol hare. Regte menshare is aan ’n fyn net vasgewerk, wat met knippies aan sy bestaande hare geheg word en voor aan sy kop vasgeplak word. Maar hy het ’n ruk gelede besluit om dit af te haal.

‘Nee man, ek lyk soos ’n urk met daai kaalkop.’

“Die vals hare hou nie van sweet nie en wanneer ek gaan gim het, het dit losgekom. Maar hel, nadat ek myself nou op televisie gesien het, het ek besluit om maar weer die hare terug te sit. En dis verwarrend vir mense. Hulle herken my nie. So, die nuwe hare is reeds op pad hiernatoe van Amerika. Nee man, ek lyk soos ’n urk met daai kaalkop,” het hy gister aan Rapport gesê.

“Die girls sê vir my ek is nou ’n ou man van 68 en moet aanvaar dat ek bles is, maar as ek myself so sien, voel ek horribaal – erger as wat ou Bles Bridges gevoel het as mense nie sy konsert bygewoon het nie. Ek lyk tien keer beter met die hare op en ’n ou wil darem beter lyk as jy kan.”

Hy lag. Selfs sy jare lange vriend Ntombela het geskrik toe hy Schuster tydens die verfilming van die advertensie sonder ’n pet sien. “Hy’t gesê: ‘Hey Leon, you look like a cow’s arse.’ ”

Leon Schuster met en sonder hare toe Advanced Hair Studio ses jaar gelede vir hom ekstra hare gegee het.

Schuster sê soos baie ander ouens kompenseer hy vir sy bleskop met ’n reusebosbaard en pet op sy kop, maar die ekstra hare werk baie goed. Jy kan daarmee stort en jou hare soos gewoonlik was, of dit verwyder as dit jou irriteer.”

En wat dink hy van die Wêreldbeker? “Dis moeilik om te sê wie gaan wen. Daar is soveel goeie spanne en Japan self speel ook verbasend goed. Wat die Bokke betref, dink ek ons staan beslis ’n kans om te wen as ons weer so gaan speel soos wat ons Vrydag in die tweede helfte teen Italië gespeel het. Dit was nou regtig rugby uit die boeke.

“Jong, en dan is daar natuurlik altyd die All Blacks, wat uitstekend is en maar geneig is om hul beste te bêre vir laaste. So, as hulle meer foute gaan maak en hul haka verander in ’n kaka, sal die Bokke ook ’n beter kans hê.”suzanne.venter@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.