SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Oakdale-seun se organe geskenk ná skaatsplank-ongeluk

Die organe van ’n gr. 12-leerling van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, wat die naweek in ’n hospitaal gesterf het nadat hy in ’n skaatsplank-ongeluk beseer is, is geskenk, lui ’n huldeblyk wat op die skool se Facebook-blad geplaas is.

Storm SmorenbergFoto: Facebook

Storm Smorenburg (18) het, volgens inligting van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), verlede Donderdagoggend vroeg glo agteroor van sy skaatsplank geval en op ’n teerpad op die skoolterrein beland. Dit het gebeur terwyl hy blykbaar agter aan ’n bakkie vasgehou het wat glo van die koshuis na die skool se hoofgebou gery het.

Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en is na die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai gehaas. Hy het Saterdag in die hospitaal gesterf.

Die skool wou nie kommentaar lewer nie, maar het navrae na die WKOD verwys.

Kotie du Toit, ’n familievriendin, het egter by navraag bevestig dat Storm se organe geskenk is.

Die skool het Dinsdag onder meer in sy huldeblyk op sy Facebook-blad gesê Storm sal onthou word daarvoor dat hy vir ander omgegee het en lief was om ander te help. Hy was betrokke by talle skoolaktiwiteite waar hy die skool, leerlinge en gemeenskap gedien het. In gr. 8 was hy betrokke by toutrek, maar moes weens ’n rugbesering sy deelname staak. Hy het begin as ’n noodhelper en het later sy Rugby Medic 3-noodhulpsertifikaat verwerf.

Hy het Saterdae en gedurende toernooie as noodhelper diens verrig. Tot en met die einde van die 2018-rugbyseisoen het hy vir die o.19-rugbyspan uitgedraf. Die hoogtepunt in sy rugbyloopbaan was toe hy in die 2019- Oakdale-rugbyweek vir die Australiese toerspan uitgedraf het. Hy het ook in die 2018-’19-seisoen SWD-kleure in tweekamp verwerf en hy was in die 2018-’19-somervakansie op Lappiesbaaistrand ’n menseredder.

“Storm sal onthou word as ’n redder van lewens en het hierdie status vervolmaak toe hy deur orgaanskenking die lewenslig van ander weer nuwe betekenis gegee het,” lui die huldeblyk voorts.

Volgens die skool was Storm ’n kranige en bedrewe skaatsplankryer en iemand wat sy Christenskap uitgeleef het. Sy heengaan word betreur. Die plasing word afgesluit met ’n uittreksel uit Goeie genade, Jy is spesiaal! deur Ewald van Rensburg: “Dit is belangriker hoe jy jou lewe leef as hoe lank jy leef.”

’n Diens om Storm se lewe te vier word Woensdag om 15:00 in die NG kerk in Riviersonderend gehou. Vrydag om 12:00 vind ’n diens ook op die De Eikeveld by die Hoër Landbouskool Oakdale plaas.

Meer oor:  Storm Smorenburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.