Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘OBK konsulteer nie oor R2 mjd.’

Die hoof van die staatsdienspensioenfonds (GEPF) het die afgelope week uitgevaar teen die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se “ernstige vertrouensbreuk”, net om daarna te sê hy blameer die OBK vir niks.

Abel Sithole, hoofbeampte van die GEPF.

Die GEPF is by verre die grootste kliënt van die OBK as batebestuurder en hy bestuur sowat R2 000 miljard.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die GEPF, het Maandag voor die Mpati-kommissie verskyn om oor die OBK se verskeie omstrede beleggings namens the GEPF te getuig.

Sithole het onder meer getuig:

  • Die GEPF is glad nie ingelig voordat R4,3 miljard van pensioenarisse se geld op omstrede wyse belê is in Ayo Technology Solutions van die Kaapse sakeman dr. Iqbal Survé nie.
  • Die OBK maak nou asof dit ’n “genoteerde belegging” was, maar die belegging was gemaak vóór Ayo se notering en die OBK het sy ooreenkoms met die GEPF verbreek om vooraf te konsulteer oor ongenoteerde beleggings van meer as R2 miljard.
  • Die GEPF het vroeër ’n brief aan die OBK geskryf om te kla oor ’n “ernstige vertrouensbreuk”.
  • Hy was “baie verras” om uit te vind die OBK probeer deur ’n hofsaak die belegging terugkry van Ayo. In dié saak bieg die OBK dat sy belegging namens die GEPF onregmatig en irrasioneel was.

Ná dit alles het Sithole onder eed getuig: “Ek kan sê dat daar tot op hede nog nie ’n voorval was van doelbewuste, (of) nalatige wandade (van die OBK) nie wat die GEPF sou noop om op te tree nie . . .”

Matau Molapo, woordvoerder van die GEPF, het by navraag oor dié oënskynlike teenstrydigheid ontken dat daar enige teenstrydigheid is.

Molapo het nie vrae geantwoord oor die impak wat Si­thole se standpunte op die hofsaak teen Ayo kan hê nie.

Luidens die OBK se hofstukke teen Ayo het van sy amptenare wandade gepleeg deur voorgeskrewe prosesse oor GEPF-beleggings te omseil. Trouens, die OBK het senior amptenare geskors weens die Ayo-belegging.

Die GEPF is deel van die hofsaak teen Ayo omdat dit sy geld is wat belê is en dit hy is wat nou die gewraakte Ayo-aandele besit, maar Sithole se onthulling dat die GEPF nie geweet het van die hofsaak nie, kan skietgoed vir Ayo gee wat volhou die belegging was sonder omstredenheid en hy sal nié die belegging teruggee nie.

Molapo het ook nie vrae hieroor beantwoord nie en net herhaal dat die GEPF wag vir die uitslag van die Mpati-kommissie en gaan verdere regsadvies oor die hofsaak bekom.

Die OBK het nie Rapport se vrae beantwoord oor hoe die GEPF as ’n party tot die hofsaak gevoeg is sonder ’n mandaat nie.

Sithole het getuig die GEPF het ’n mening van ’n senior advokaat bekom, maar die kommissie gevra om dit vertroulik te hou.

Die OBK wil hê die hof moet beslis dat Ayo die GEPF terugbetaal en die aandele terugneem. Die GEPF het die aandele gekoop teen R45 per stuk. Die aandeelprys het intussen tot R9 geval.

’n Voormalige grootbaas van Ayo het vroeër voor die kommissie getuig Ayo was net omtrent 5% werd van wat die OBK beweer het.

Luidens Ayo se jongste finansiële state het hy net sowat R3 miljard van die kontant oor.

In hofstukke voer die OBK ook aan dat Ayo hulle mislei het. Ayo het glo gejok dat hy op die punt gestaan het om ’n 30%-belang in BT Communication Services South Africa te koop.

Daarby het Ayo winsvooruitskattinge gemaak wat hy self nie geglo het nie, beweer die OBK. Laastens sê die OBK dat Ayo ook uit die staanspoor beplan het om sy R4.3 miljard “te herlei na verwante maatskappye” eerder as om dit aan te wend vir beleggings soos hy onderneem het.

Die OBK erken in hofstukke dat die belegging onregmatig en irrasioneel was.

Die destydse OBK-hoof, Dan Matjila, het glo ’n onderneming aan Survé gegee dat die OBK in die maatskappy sal belê nog voor enige OBK-komitees dit ordentlik kon oorweeg.

Matjila was trouens só verbind tot die Ayo-belegging dat hy ander bates van die GEPF moes “likwideer” om die kontant bymekaar te kry vir Ayo, letterlik twee dae voor die maatskappy se notering op 21 Desember 2017.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.