
Heinrich Gabler, ’n Kaapstadse laerskoolonderwyser, is Mnr. Suid-Afrika 2019. Foto: Facebook/mrsouthafricaofficial
Facebook
En toe is Mnr. Suid-Afrika regtig ’n man met ’n goeie hart – én boonop aantreklik ook.
Heinrich Gabler, ’n Wellingtonse laerskoolonderwyser, is Saterdagaand as Mnr. Suid-Afrika 2019 gekroon ná ’n lang pad van hartseer en vasbyt.
Gabler se ma is in ’n motorongeluk dood toe hy slegs nege jaar oud was. Hy is van sy pa vervreem en het by die Andrew Murray-kinderhuis in Wellington grootgeword.
Dieter Voigt, Mnr. Suid-Afrika 2007, het Gabler destyds genader en aan hom uitgewys dat hy ’n verskil in die gemeenskap kan maak as hy ’n loopbaan as model sou oorweeg.
Gabler het in ’n onderhoud met die Spice4life-webblad gesê indien hy sou wen, beteken dit dat hy sy verhaal van hoop met soveel meer mense sal kan deel.
As onderwyser het Gabler geleer om die kleiner dinge in die lewe te waardeer en hy het ook besef geld kan nie geluk koop nie.

Heinrich Gabler, heel regs, is Saterdag by die Bay-hotel gekroon as Mnr. Suid-Afrika 2019. Van links is Bhekuzinde Nobunga, die tweede prins, Shaun Stander, die eerste prins, en JP Robberts, die organiseerder van die kompetisie. Foto: Facebook/mrsouthafricaofficial
Facebook
Hy het aan Spice4life gesê hy is lief vir gemeenskapsprojekte en het ’n hart vir behoeftige mense. Sy hooffokus met sy vrywillige werk is die kinderhuis in Wellington.
Die eerste prins in vanjaar se kompetisie is Shaun Stander en die tweede prins is Bhekuzinde Nobunga.
JP Robberts, uitvoerende hoof van die kompetisie, moes vanjaar terugkap nadat foto’s van die Top 20 finaliste nie goed ontvang is op sosiale media nie. Van die kommentaar was selfs dat die finaliste regtig nie aantreklik is nie.
Robberts het toe gesê hy hoop vanjaar sal daar ’n
verandering kom in die verwagting dat die kompetisie net vir modelmooi mans bedoel is.
Hy hoop vanjaar se uitkoms sal die begin van ’n nuwe soort Mnr. Suid-Afrika wees.
Die kroning was Saterdagaand by die Bay-hotel in Kaapstad. Gabler se program was Sondag baie vol en hy kon nie bereik word om kommentaar te lewer nie.

Gelukwense aan Heinrich Gabler op Twitter, nadat hy as Mnr. Suid-Afrika 2019 gekroon is. Foto: Twitter