Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Old-Greys ry vir diabetes, kanker in Kaapse fietstoer

“Die behoefte om nie my vriende in die steek te laat nie, het my gemotiveer om klaar te maak – aangesien hulle almal uit verskeie dele van die land met geesdrif opgedaag het. Hulle was almal ware Grey-here.”

Só sê Raymond van Niekerk (56), ’n oud-Grey en kankerlyer, wat vanjaar se Kaapstad-fietstoer in 4 uur 55 minute op ’n e-fiets voltooi het.

“Sonder die elektroniese hulp van ’n e-fiets sou ek dit nie gemaak het nie. Die e-fiets het my inspanning vermenigvuldig, veral wanneer ek die opdraandes moes takel.”

Vir Van Niekerk was die beste deel van die fietswedren om die rit mee te maak met sowat 70 oud-Grey-vriende wat bereid was om hom te stoot indien sy fiets se battery hom in die steek sou laat.

Raymond van Niekerk by sy e-fiets waarmee hy aan vanjaar se Kaapstad-fietstoer deelgeneem het.Foto: Ruan van der Merwe

Hy sê die battery het gelukkig gehou en hy kon die wenstreep oorsteek met die fiets se battery op 4%.

Nierkanker is in Maart 2018 vir die eerste keer by Van Niekerk gediagnoseer.

Ná verskeie operasies en bestraling is fase 4-nierkanker in Januarie 2019 by hom gediagnoseer.

Van Niekerk sê hy en Bertus Preller het met die idee vorendag gekom en op die Grey Facebookblad ander oud-Greys uitgenooi om vanjaar se Kaapstad-fietstoer vir liefdadigheid aan te pak.

Preller (55) sê hulle het hul steun aan Diabetes SA toegestaan omdat verskeie oud-Greys tipe-1-diabetes het.

Preller sê hulle het ook vir Kansa in die fietstoer ondersteun.

“Ons het dit ook gedoen ter ondersteuning van my seun Sebastian, wat op tweejarige ouderdom met tipe-1-diabetes gediagnoseer is. Hy moet sedertdien elke dag vyf pynlike inspuitings kry.”

Dié diagnose hou egter nie sy seun terug nie.

“My seun se deelname aan vanjaar se Kaapstad-fietstoer op die ouderdom van 17 en die feit dat hy al op 12 sy swart gordel in karate in Japan gekry het, is bewys hiervan. Dit wys jy kan enigiets vermag as jy die wil het om dit te doen, ongeag jou fisieke tekortkominge.”

Die groep oud-Greys wat aan vanjaar se Kaapstad-fietstoer deelgeneem het. Foto: Ruan van der Merwe

Preller het die geleentheid voor die fietstoer, toe Jacques Nienaber, nog ’n oud-Grey en huidige Springbokafrigter, Sebastian se Grey-klere aan hom oorhandig het, as ’n hoogtepunt beskryf.

“Met die klere kon Sebastian as ’n vriend van Grey saamry, al was hy nooit ’n leerling aan Grey Kollege nie.”

Volgens Preller het sy seun hiermee ’n nuwe tradisie begin waar daar jaarliks iemand met ’n mediese toestand saam met die groep oud-Greys sal ry.

“Ons trap net vir liefdadigheid en om mense bewus te maak van diabetes en kanker – jy kan dit oorwin en ’n diagnose is nie altyd ’n doodsvonnis nie.”

Volgens Sebastian was die fietstoer nie maklik nie en sal hy meer moet oefen indien hy volgende jaar weer wil deelneem.

Preller sê ná die fietstoer het hulle besef die fiets waarop Sebastian gery het, se remskoene het teen die band gedruk.

“Toe ons by die eindpunt aankom, was Sebastian se suikertelling op 2.6 baie laag.”

Volgens Charlie van der Linde (45), ondervoorsitter van Grey-kollege Reünie, is sowat R132 000 vanjaar deur die inisiatief ingesamel.

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Kanker  |  Fietstoer  |  Diabetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.