Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Om nuut te besin oor Titus se ‘uitdagings’

Noudat die kultuurman dr. Danny Titus dood is, is dit hierdie drie passies wat sy nalatenskap sal kenmerk: erfenis (én geskiedenis), taal (én kultuur) en menseregte (én menswaardigheid), maar die grootste daarvan was sy liefde vir sy mense.

“Bruin identiteit bly maar ’n bliksem in ons gemeenskappe, hoewel volgens my nie meer so fel nie,” skryf hy op 23 April, enkele dae voor Vryheidsdag, op sy Facebook-blad. Dit was omtrent ’n maand voordat die groot A in sy professionele lewe sou aanbreek: aftrede. En daarby het hy in ’n ander Facebook-inskrywing gevoeg: “uittrede” en “optrede”.

“Optrede” sou inhoud kry onder meer deur sy voorsitterskap van die DAK Netwerk, ’n burgerlike organisasie vir agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe wat deur sy naam erkenning gee aan drie Khoi-San-ikone (Doman, Autshumao en Krotoa).

Hy’t nooit sy bruin wortels verlaat nie.

Teen die tyd dat hy toe wel afgetree het, einde Mei, was dit lank reeds bekend dat diabetes sy gesondheid ’n erge knou gegee het. Benewens sy bestaande roetine van dialise drie keer per week was hy nou ook in en uit die hospitaal; dae in die noodsorgeenheid. Die hoop op herstel het egter nie gekwyn nie.

Tog was die tamheid in sy spraak angswekkend hoorbaar in ’n stemnota van 2 Julie: “Hallo Heindrich. Ja, alles is weer aan die gang of op pad om aan die gang te wees. Ek is vandag ontslaan uit die hospitaal nadat ek Saterdag weer opgeneem is. So, nou moet ek nog net na my oë kyk. Hulle is besig om ’n . . . uhhhh . . . oë-chirurg te kry om die fyn goedjies te verwyder uit my oë uit. Andersins loop dinge baie goed.”

Maar dinge het toe helaas nie baie goed uitgedraai nie, want dit was gedurende die prosedure “om die fyn goedjies te verwyder uit my oë uit” dat hy ’n erge terugslag beleef het – twee hartaanvalle, orgaanversaking, breinskade. Dit het hom in ’n koma laat verval waaruit hy nooit weer sou ontwaak nie.

Om sin te maak van dié soort einde aan die lewe van ’n besonderse mens, ’n pa van twee dogters (Daléne en Neriska), wat hom sedert 1987 as die “beste vader” vereer het en ’n man met ’n briljante brein, neem tyd.

Dit wat hy egter as aanklaer, akademikus, kultuurman, gemeenskapsleier, menseregtekommissaris, Suid-Afrikaanse verteenwoordiger oor inheemse kwessies by die Verenigde Nasies en denker bereik het, laat ’n onvergeetlike nalatenskap.

Ons behoort nou opnuut te besin oor die uitdagings wat hy in die boek Ons kom van vêr aan die Afrikaanse gemeenskap stel: om Afrikaans se vriendelike gesig duideliker te maak; rassisme in die taal af te wys; op diversiteitsprojekte in Afrikaans te fokus; en om inhoud te gee (en blootstelling op mediaplatforms) aan die diverse belewenisse in Afrikaans.

Soos wat hy oor prof. Adam Small gesê het, het ook Danny Titus vernaamlik nooit sy bruin wortels verlaat nie; dit het hy uitgeleef in navolging van hierdie reël uit Small se laaste gedig, “Trap der bruin jeugd”: “ . . . en dié bruinheid sal altyd in my bly”.

* Heindrich Wyngaard is ’n sosiale en politieke kommentator en radio-en-TV-aanbieder.

Meer oor:  Danny Titus  |  Sterfgeval  |  Atkv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.