Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wapenlisensie hernu ‘soos matriek skryf’

Vuurwapeneienaars in Gauteng is boos oor die slakkegang waarmee aansoeke vir nuwe vuurwapenlisensies hanteer word.

Rye mense staan glo douvoordag elke dag en wag om ’n kans te kry om hul aansoeke in te dien.

Douvoordag staan mense elke dag tou voor die Lyttelton-polisiekantoor in Pretoria in die hoop om hul vuurwapenlisensies betyds te kan hernu. By dié stasie word net 20 aansoekers op ’n dag toegelaat. Foto: Verskaf

“Jy moet maar jou pilletjie drink voordat jy kom,” het Jacques Linde Dinsdagoggend gesê waar hy voor die Lyttelton-polisiekantoor in Pretoria gestaan het.

Volgens hom help “die pilletjie” party dae ook net vir ’n rukkie. Die stelsel is frustrerend en stadig.

’n Vuurwapeneienaar mag byvoorbeeld nie sommer na enige polisiekantoor gaan nie, dit moet in die gebied wees waar jy woon.

En volgens Linde het elke polisiekantoor sy eie manier van doen.

Hy het besluit om aansoek te doen vir ’n sportskietlisensie. Maar dié soort aansoek word helaas nie by alle polisiekantore aanvaar nie, sê Linde.

Omdat hy dus sy vorms verkeerd ingevul het, moes hy terugkeer met ’n nuwe aansoek.

Dit is elke keer ’n dag waarvoor ’n mens verlof moet insit.

Ander eienaars wat in die ry gestaan het, maar wat anoniem wil bly uit vrees dat hul aansoeke afgekeur kan word, het hieroor begin mor.

“Dit is nie altyd maklik om tyd by die werk af te kry nie, en al wat ons probeer, is om die regte ding te doen,” het ’n vrou moedeloos gesê.

Sy het vroegoggend al gaan toustaan by die Garsfontein-polisiekantoor, waar sy weggewys is. By Lyttelton moes sy noodgedwonge heel agter in die ry val.

Vir Christo Uys, wat in Lyttelton woon, het dit verlede week twee dae geneem om sy aansoek in te dien.

“Ek was laas so op my senuwees toe ek my matriekeksamen moes aflê,” sê hy.

Uys moes twee dae verlof vat omdat hy Donderdag nommer 21 in die ry was. Dit is toe dat hy verneem het die kantoor hanteer net 20 aansoeke per dag.

“Dit voel of ons eerbare mense, wat net wetsgehoorsaam wil wees, gestraf word,” sê Uys.

Volgens kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, ontvang dié kantoor net ’n beperkte getal aansoeke per dag sodat daar steeds voldoen kan word aan Covid-19-regulasies.

Ek was laas so op my senuwees toe ek my matriekeksamen moes aflê.

Daar moet ook tyd gegun word vir dié mense of maatskappye wat meer as een lisensie wil hernu. Party aansoeke is vir meer as 100 wapens op ’n slag en dit verg tyd.

Volgens Miller is daar wel ’n reëling ingestel dat mense wat nie onder die eerste 20 aansoekers is nie, eerste gehelp word as hulle die volgende dag terugkeer.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters), sê wat hernuwingsaansoeke betref, het die polisie vir hom ’n werkslading geskep wat hy gaan sukkel om in te haal.

Daar was ’n toename in hernuwings van lisensies nadat die nuwe Wapenwet in 2006 die vorige Wet op Wapens en Ammunisie (1969) vervang het.

Dit het tot gevolg gehad dat nagenoeg ’n miljoen aansoeke in 2011 ontvang is wat nou hernu moet word, sê Camphor. Daar moet ook in gedagte gehou word dat nie elke polisiekantoor in die land gemagtig is om aansoekers te help nie, en dat kantore ook oorlaai is met aansoeke vir nuwe lisensies en bevoegdheid.

Daar is wel ander kantore waar die toegewese beampte oortyd werk om mense te probeer help. Dit is ongelukkig in die minderheid gevalle dat dit gebeur.
Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder van AfriForum

Volgens SA Jagters is daar ’n agterstand van 138 908 aansoeke wat wag om verwerk te word.

Dit is slegs nuwe aansoeke. Hernuwings word op provinsiale vlak hanteer, en dit is waarom die wyse waarop dinge gedoen word, kan verskil.

Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder van AfriForum, sê in Gauteng word pal klagtes van lede ontvang oor onder meer die Lyttelton-, Wierdabrug- en Garsfontein-polisiekantoor.

Met Netwerk24 se besoek aan Wierdabrug was daar nie ’n ry lisensieaansoekers nie. By Lyttelton is die neem van foto’s verbied.

“Daar is wel ander kantore waar die toegewese beampte oortyd werk om mense te probeer help. Dit is ongelukkig in die minderheid gevalle dat dit gebeur,” sê Kamfer.

Volgens hom is daar wel gevalle waar aansoeke vinnig afgehandel word, maar die meeste mense vrees met reg of hul lisensies betyds uitgereik sal word.

Albei organisasies is voortdurend met die polisie in verbinding.

Die polisie se nasionale woordvoerder het teen 17:00 nie op herhaalde versoeke om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Jacques Linde  |  Gauteng  |  Wapenlisensie  |  Vuurwapenlisensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.