Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ondergrondse snuffeltog na hond word soektog na mense

’n Soektog na ’n hond in die Bloemfonteinse afvoerstelsel het byna tot ’n Babelse verwarring onder twee soekgeselskappe gelei.

Werkers wat optiese vesel gelê het, wou tot die hond se redding kom toe hulle hom Donderdag in die kanaal by Olive Grinter-rylaan, Fichardtpark, sien hardloop.

In ’n reddingspoging het hulle in die afvoerstelsels na die hond begin soek. Maar ná ’n uur se soekery onder die Rosestad het húlle toe die gesoektes geraak.

Die mangat langs die N1 naby Volkspelerylaan in Pellissier waar die soekgeselskappe uitgeklim het.

Intussen het vier werknemers van Mangaung se brandweer-en-reddingsdiens die tog van sowat 4 km met asemhalingsapparate ondergronds aangepak.

Hulle het gehoor van die drie werkers wat ook reeds ’n uur in die tonnels na die hond gesoek het.

Ludolf Norwie, een van die brandweermanne, sê aanvanklik het hulle gehoor drie werkers word “vermis”, met ’n vierde wat na hulle gaan soek het.

Dié vierde man het egter vroeër uitgekom, omdat hy sy kollegas nie kon opspoor nie.

Die derde kollega het ook uitgekom, met twee wat eindelik in die tonnels oor was.

“Ons was so ’n ent in die tonnel toe die ander mannetjie uitkom. Hy het gesê dit raak nou te bedompig en benoud daarbinne, maar die ander ouens het voortgegaan en hy weet nie waar hulle is nie. Ons het verder ingegaan om die ander twee te soek,” sê Norwie.

Die soekgeselskappe het by 'n mangat langs die N1 naby Volkspelerylaan in Pellissier uitgeklim.

Norwie sê hulle moes vir meer as ’n kilometer feitlik handeviervoet loop omdat die tonnels vernou het.

Die laaste 10 m was ook onder rioolvuil wat van die dreine af inspoel.

Daar was grotendeels nie ’n selfoonsein nie en die reddingspan kon nie hul kollegas buite laat weet hulle is veilig nie. Tweerigtingradio’s werk ook nie in die tonnels nie. Norwie was bevrees ’n tweede reddingspan van die brandweer sou gestuur word.

Hul kollegas kon hulle ook nie laat weet dat die ander soekgeselskap reeds by die mangat langs die N1 naby Volkspelerylaan in Pellissier uitgeklim het nie, sê Braam van Zyl, afdelingshoof van die brandweer-en-reddingsdiens.

Sy span het ’n halfuur later, ná twee uur in die tonnels, ook by dié mangat uitgeklim!

Van Zyl sê die tonnels is gevaarlik weens die metaangas wat deur die rioolvuil vrygestel word en mense kan oorval.

As ’n vuurhoutjie getrek word, kan dit ’n ontploffing veroorsaak.

  • En die hond? Hy is nou nog soek! Die ander drie brandweermanne wat in die tonnels was, is David Mbaqa, Marno Swarts en Tumi Mokaleng.
Meer oor:  Fichardtpark  |  Mense  |  Hond  |  Soektog  |  Reddingspoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.