Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ondersoek gevra na Bfn se 3 renosters wat vrek

Die vrektes van drie renosters van die Bloemfonteinse dieretuin in die Maria Moroka-natuurreservaat by Thaba Nchu naby Bloemfontein moet onmiddellik en indringend op ’n hoë vlak ondersoek word.

So vra diereliefhebbers wat met Netwerk24 in verbinding was. Hulle is ontsteld omdat die renosters glo aan hul eie lot oorgelaat is. Die vermoede bestaan ook dat hulle gevrek het omdat hulle nie die regte kos gekry het waaraan hulle in die dieretuin gewoond was nie.

Die onthoringde renosters van die Bloemfonteinse dieretuin wat nou op ’n streep in die Maria Moroka-natuurreservaat gevrek het. Foto: Marietjie Gericke

Kgotso Tau, woordvoerder van die Vrystaatse departement van ekonomiese ontwikkeling, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), sê hy wag nog op verslae van die veearts en “is jammer dat hy nog nie die kwessie opgevolg het nie.”

Adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die Mangaung-metro, het vandeesweek aan Netwerk24 gesê die Bloemfonteinse dieretuin se diere kom terug na die dieretuin toe. “Ons moet net eers die bestuur daar verander kry. Dan kom die diere wat nou in die departement se besit is, terug.”

Hy het gesê dit is nie waar dat die grond waarop die dieretuin is, vir ontwikkeling verkoop gaan word nie.

Maar DA-raadslede wat met Netwerk24 gepraat het, sê hulle is bekommerd omdat die metro die beskermende grondgebruik van die dieretuin, wat ’n groen gebied is, stilweg wil verander sodat “gemengde ontwikkeling” daarop kan plaasvind.

Een van die twee renosters van die Bloemfonteinse dieretuin wat vroeër onthoring is en wat nou gevrek het. Foto: Marietjie Gericke

Mense het ook al beweer die dieretuin is opsetlik verwaarloos sodat diere moet vrek sodat die terrein ontwikkel kan word.

As die terrein vir gemengde ontwikkeling gesoneer word, beteken dit dat hier winkelsentrums en kantoorblokke op die grond opgerig sal kan word.

Tjaart van der Walt, DA-raadslid, sê in die nuwe ruimtelike ontwikkelingsraamwerk van die metro, wat saam met die begroting goedgekeur is, word die dieretuin se grond vir die toekoms geoormerk as grond waarop gemengde ontwikkeling kan plaasvind.

Die grond sal egter steeds eers gehersoneer moet word.

Intussen werk Darryl Barnes, wat die bestuurder van die Bloemfonteinse dieretuin was, van die huis af weens die Covid-19-pandemie en die dieretuin is gesluit. Daar is nog 11 buffels wat getoets moet word, voordat hulle ook verskuif mag word.

Die buffels is die enigste van die 151 diere wat in die dieretuin agtergebly het.

’n Agendapunt om toestemming te vra dat die grond van die Bloemfonteinse dieretuin verkoop kan word, sou vandeesweek op ’n raadsvergadering van die metro gedien het, maar die vergadering is nooit gehou nie.

’n Vroeëre foto van die renosters van die Bloemfonteinse dieretuin toe hulle nog in die dieretuin was. Foto: Marietjie Gericke

Toe hy ’n tweede keer gebel is, het Mofokeng volgehou dat daar nie sprake is om die dieretuin se grond te verkoop nie.

Hy sê: “Vra die departement hoekom die renosters gevrek het. Hoewel dit ons diere is, was hulle nie in ons sorg toe hulle gevrek het nie. Die departement was verantwoordelik vir hulle toe die diere gevrek het.”

“Destea het saam met die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) die diere hier kom wegvat.”

Reinet Meyer, senior inspekteur van die DBV, sê sover sy weet, gaan dit baie goed met die ander diere wat na verskillende dierewelsynsorganisasies gevat is soos Monkeyland in Plettenbergbaai, Birds of Eden, ook by Plettenbergbaai, die Johannesburgse Wild Life Veterinary Hospital, Lions Rock by Bethlehem, die Shamwari-natuurreservaat by Port Elizabeth en Love Lions Alive by Harrismith.

Sy weet net van ’n eland wat langs die pad gevrek het toe die diere vervoer is, maar dié bok was al oud.

Meyer sê dit is seker ’n droom van die administrateur (Mofokeng) om die ou Bloemfonteinse dieretuin weer te laat “herleef”, maar die vraag bly net of daar ’n begroting hiervoor is.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vrek  |  Renosters  |  Dieretuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.