Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ondersoek hoe 3 sussies op Facebook ‘weggegee’ word
Die foto van die drie sussies saam met ’n onbekende vrou wat Dinsdag geplaas is op Facebook in ’n poging om ’n huis vir hulle te vind. Hoewel Netwerk24 die kinders se gesigte op die foto verbloem om hul identiteit te beskerm, was hul gesigte duidelik sigbaar op die Facebook-plasing. Foto: Facebook

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling wil uitvind hoe dit gebeur het dat die foto van drie Johannesburgse sussies wat glo sorgbehoewend is, op Facebook verskyn het.

By die inskrywing Dinsdag word ’n huis vir hulle gesoek.

Die feit dat die kinders se moontlike sorgbehoewendheid nie by die owerhede aangemeld is nie, is strydig met die Kinderwet. Ingevolge art. 110 van dié wet moet onder andere kerkleiers sulke gevalle by ’n kinderbeskermingsorganisasie (soos Childline), die departement van maatskaplike ontwikkeling of die polisie aanmeld.

Past. Des Naidoo van die Metro Family Church in Kibler Park, Johannesburg, sê die drie sussies se ongetroude ma is in sy gemeente.

“Sy kon nie meer na hulle omsien nie en het die kerk se hulp gevra om vir hulle ’n huis te kry. Ons het dit nie by die owerhede aangemeld nie omdat ons wou probeer om die sussies in een huis bymekaar te hou.

“ ’n Sakeman het intussen aangebied om die ma geldelik te ondersteun sodat die kinders by haar kan bly. Ons sou die regte wetlike prosedures gevolg het indien die kinders in iemand anders se sorg geplaas moes word.”

Katryn (links) en Lizelle Erasmus van Coligny in Noordwes wat die drie sussies wou inneem, maar toe na bewering weggewys is omdat hulle in ’n gay-huwelik is.Foto: Verskaf

Naidoo sê die Facebook-plasing was sonder sy medewete. Dit het daar beland nadat Naidoo ’n vrou, wat welsynswerk in die gemeenskap doen, gevra het om na ’n huis vir die kinders te help soek. Dié vrou het die foto van die kinders op ’n WhatsApp-groep versprei, waarna ’n kennis van iemand op die groep dit op Facebook gedeel het.

Die plasing is intussen verwyder.

Lizelle en Katryn Erasmus, ’n getroude paar van Coligny in Noordwes, wou die kinders ’n tuiste gee nadat hulle die Facebook-plasing gesien het.

Volgens Lizelle het Naidoo egter gesê dat hulle nie die kinders kan kry nie omdat hulle in ’n gay-huwelik is. Naidoo erken hy het gesê dat hul huwelik “’n bekommernis” is.

Mbangwa Xaba, woordvoerder vir die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, sê hulle is “ontsettend bekommerd” oor die Facebook-plasing.

“Ons gaan met al die betrokke partye en die kerk praat. Wetlik voorgeskrewe prosesse sal gevolg word om vas te stel of die kinders sorg benodig en dringend deur die hof in iemand anders se sorg geplaas moet word.”

Die Facebook-plasing waarin ’n huis vir die drie Johannesburgse sussies gesoek is. Foto: Facebook

Xaba sê sorgbehoewende kinders moet nie “self” gehanteer word nie. Dit moet heel eerste by die betrokke owerhede aangemeld word.

“Kinderveiligheid word streng deur wette gereguleer, anders kan veral kwesbare kinders in die verkeerde hande beland en selfs slagoffers van kinderhandel word.”

Dr. Blanché Verster, bestuurder vir professionele dienste en programme by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se nasionale kantoor in Pretoria, sê hoewel geen wet bepaal dat dit onwettig is om foto’s van kinders te plaas nie, moet die beste belang van die kind steeds vooropgestel word.

“Kinders wie se identiteit wel deur die wet beskerm word, sluit onder andere kinders in wat weens byvoorbeeld verwaarlosing en mishandeling deur ’n kinderhofproses is.”

Wanneer ’n saak aangemeld word waarby kinders betrokke is, moet ’n wetlik voorgeskrewe proses gevolg word waarby die kinderhof betrokke is, sê Verster.

’n Maatskaplike werker doen ’n ondersoek. Die saak word na die kinderhof verwys en indien die kinders (onmiddellik) sorg en beskerming benodig, maak die hof ’n bevel vir die plasing van die kind in tydelike veilige versorging terwyl die kinderhof-ondersoek hangende is.

“Kinders kan slegs by gekeurde veiligheidsouers en later ook gekeurde pleegouers geplaas word. Daar is streng keuringsvereistes,” sê Verster.

“Sibbe word sover moontlik nie geskei nie.”

Skakel Childline by 080 005 5555 om kindernood aan te meld.

Geen diskriminasie teen gays

Dr. Blanché Verster, bestuurder vir professionele dienste en programme by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie se nasionale kantoor in Pretoria, sê daar word geensins op grond van seksuele oriëntasie, ras of geslag gediskrimineer teen mense wat aansoek doen om veiligheids-, pleeg- of aanneemouers te word nie.

“Volgens die Kinderwet mag ’n kind aangeneem word deur ’n man en vrou, metgeselle in ’n lewensverhouding of ander persone wat ’n gemeenskaplike huishouding deel en ’n permanente gesinseenheid uitmaak.

“Talle kinders is al in ’n plek van veiligheid of pleegsorg geplaas, of aangeneem deur persone van dieselfde geslag of iemand van ’n ander ras (as wat die kind is).”

Slegs deur ’n geakkrediteerde aannemingsorganisasie of met die hulp van ’n geakkrediteerde maatskaplike werker, wat privaat of binne die statutêre stelsel werk, kan ’n kind in Suid-Afrika wettig aangeneem word.

Meer oor:  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.