Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ondersoek na Khosa se dood sál afgehandel word’

Die ondersoek na die dood van Collins Khosa wat ten tyde van die nasionale inperking dood is nadat hy glo buite ’n huis in Alexandra, Johannesburg, aangerand is, sál afgehandel word.

Dit was die naweek die reaksie van die veiligheidsmagte wat almal Vrydag deurgeloop het in ’n striemende uitspraak deur regter Hans Fabricius in die hooggeregshof.

Fabricius het onder meer gelas dat 'n nuwe klagte-owerheid gestig word waar die publiek magsmisbruike deur die polisie en weermag tydens die inperking kan aanmeld. Hy het ook gelas dat 'n nuwe gedragskode vir wetstoepassers opgestel word.

“Ons is amper klaar met die volledige nagaan van die uitspraak en sal verslag doen aan die regter in ooreenstemming met die tydsraamwerk wat hy verskaf het,” het brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, Sondag by navraag gesê.

Hy wou nie reageer op mediaberigte dat die polisie nou na beeldmateriaal van die voorval soek nie.

“Al wat ek kan sê, is dat ondersoek ingestel word. Die ondersoek is al lankal begin,” het Naidoo gesê.

Luidens hofstukke was daar ooggetuies wat die voorval met hul selfone probeer afneem het, maar die beeldmateriaal is deur lede van die weermag verwyder.

Fabricius het in sy uitspraak met kommer hierna verwys en ook dat ooggetuies deur Khosa se familie opgespoor is, maar dat hulle te bang was om 'n verklaring af te lê.

Simphiwe Dlamini, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se kommunikasiehoof, het by navraag gesê die weermag wil eers volledig na die uitspraak kyk.

Dit is ook wat die Johannesburgse metropolisie (JMPD) wil doen, het Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, gesê.

Adv. Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie, het daarop gewys dat ’n gedragskode vir die Suid-Afrikaanse Weermag bestaan.

“Die regter verwys na riglyne ten opsigte van spesifieke ontplooiing ten opsigte van art. 19 van die Verdedigingswet waar die weermag en polisie saam moet uitstippel wat presies in tydens ’n spesifieke ontplooiing beoog en verwag word,” het Greeff gesê.

Die weermagunie het verder geen insae in die saak nie, sê hy.

Luidens hofstukke het twee soldate Khosa en sy swaer op Goeie Vrydag gekonfronteer nadat hulle ’n kampstoel en ’n beker halfvol alkohol aangetref wat voor Khosa se erf voor sy huis in Alexandra gestaan het. Namate die konfrontasie ontvou het, het nog soldate en glo ook lede van die JMPD en polisie betrokke geraak.

Khosa het later die aand aan sy wonde beswyk.

Fabricius het bevind dat growwe menseregtevergrype plaasgevind het en dat geen ramptoestand die polisie en weermag die reg gee om mense hardhandig te behandel nie.

Hy het verwys na Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, se “skop-skiet-en-donder”-opmerkings en Bheki Cele, minister van polisie, wat gesê het plekke waar drank onwettig verkoop word, sal “afgebreek word” en hoe dit in sy mening soldate en polisie laat dink het dit is reg om mense hardhandig te behandel.

Brig. Mathapelo Peters, Cele se tussentydse woordvoerder, het by navraag gesê hy neem kennis hiervan “en dat hy eers daaroor sal praat as hy die uitspraak bestudeer het”.

Mapisa-Nqakula se kantoor het alle navra verwys na die weermag.

Meer oor:  Collins Khosa  |  Hans Fabricius  |  Alexandra  |  Johannesburg  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.