Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ondersoek ‘snert’, sê Vearey

Die Wes-Kaapse speurhoof, genl.maj. Jeremy Vearey, het mediaberigte dat hy ondersoek word vir ontvoering, marteling en regsverydeling skerp veroordeel en dit as loutere snert afgemaak.

Sunday Times het die naweek berig oor bewerings dat Vearey en brig. Cass Goolam deur lede van die misdaadintelligensie-eenheid ondersoek word.

Luidens die berig het Vearey en Goolam na bewering in 2009 twee mans valslik probeer betrek by die moord op Mervin Jacobs, ’n buurtwaglid van Mitchells Plain.

Vearey sê hy het geen vertroue in die polisie se vermoë om die saak te ondersoek nie, aangesien hulle volgens hom sloer om agter die kap van die byl te kom.

Hy het dus besluit om binne die raamwerk van die wet maar buite die polisiestelsel te werk te gaan.

Die feit dat die berig verwys na misdaadintelligensie wat hom ondersoek, is ook ’n bekommernis, aangesien lt.genl. Peter Jacobs, hoof van misdaadintelligensie, voorheen reeds gesê het dat daar ’n splintergroep in dié eenheid is wat Jacobs as onregmatig bestempel.

Vearey sê hy steur hom min aan die bewerings teen hom, want uit die staanspoor is hulle daarvan bewus dat daar direkte kontak is tussen dié splintergroep en die betrokke joernalis van The Sunday Times.

Genl.maj. Jeremy Vearey Foto: Peter Abrahams, Argief

“Dit verwys na gebeure van tien jaar gelede, en is vol besonderhede en insinuasies wat die indruk van waarskynlikheid wek.”

Vearey sê diegene wat agter hierdie opgemaakte stories sit, is dieselfde mense wat hom en ander polisielede voorheen by die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) verkla het.

“Op die oog af lyk die bewerings waar, want nou dink mense Vearey is ’n oudterroris, ’n oudkommunis en ’n oudtronkvoël en dit moet alles waar wees. Maar eintlik is dit alles snert.”

Vearey sê sy vertroue in die polisie se vermoë om hierdie situasie te hanteer, is ook sleg en hy sal binne die perke van die wet die beweringe takel.

Hy sê egter dat die verslaggewing in oorstemming is met soortgelyke “valse stories wat oor ander polisielede geskryf is, insluitende Anwar Dramat met die Zimbabwiese ontvoeringsage”.

Die speurhoof sê verder dat hy agterdogtig is oor die tydsberekening van die berigte en ondersoek wat net maande voor die algemene verkiesing in Mei kom en net dae nadat die polisie hul appèl laat vaar het teen ’n arbeidshofbeslissing dat hy en Jacobs in hul poste heraangestel moet word.

Vearey sê dit lyk nou asof hy ’n verkiesingsfoefie vir die DA is, weens verklarings wat onlangs deur die DA se Wes-Kaapse premierskandidaat, Alan Winde, oor hom gemaak is.

“Ek is ’n polisielid, so ek is nie heeltemal seker hoe ek ’n verkiesingsteiken vir die DA geword het nie,” het hy gesê.

Intussen het die ANC in Wes-Kaap gesê die DA “sit agter die smeerveldtog teen die top- Wes-Kaapse polisielid”.

“Dit is dieselfde polisiebronne wat jare lank die DA van inligting voorsien het, wat probeer om die integriteit van toegewyde oudlede van uMkhonto we Sizwe, wat die bakens van ordelikheid en integriteit in die polisiediens geword het, te vernietig,” sê Faiez Jacobs, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap.

Hy sê die aanvalle op Vearey en ander senior polisielede is destyds deur die premier, Helen Zille, begin en word nou deur Winde, die huidige LUR vir gemeenskapsveiligheid, voortgesit.

Winde sê by navraag hy is “stomgeslaan oor hoe die ANC tot dié gevolgtrekking kom.

“Ek het, soos baie ander Suid-Afrikaners, die storie in die koerant gelees en my eerste gedagte was as die (polisie se) topbestuur mekaar ondersoek, wie doen die polisiëring in die provinsie?”

Winde sê dit is onaanvaarbaar dat terwyl misdaad in die Wes-Kaap buite beheer is, polisiebase tyd het om mekaar aan te vat.

“Hier moet ’n ondersoek kom sodat vasgestel kan word wat regtig in die polisiebestuur in die Wes-Kaap aangaan,” sê Winde.

“Die DA wil nou die beamptes wat ons gemeenskappe veiliger maak, vernietig. Ons glo nie die bewerings teen Vearey is waar nie, dit is niks meer as kwaadwillige, opgemaakte gerugte nie,” is die ANC se reaksie.

Meer oor:  Jeremy Vearey
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.