Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ondersteuner sterf in rugbystadion
Willem Benade met sy vrou, Sirika, by ’n vorige Cheetah-rugbywedstryd op die Vrystaat-stadion in Bloemfontein. Foto: Facebook

’n Baie groot ondersteuner van die Cheetahs is Saterdag oomblikke voor die Pro14-wedstryd teen Ulster in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein dood.

Willem Benade (43), by wie ’n seldsame hartsiekte op ’n jong ouderdom gediagnoseer is, is Saterdagaand enkele minute voor die rugbywedstryd in die stadion dood.

Benade, ’n amptenaar by die Vrystaatse departement van gesondheid, was Saterdag saam met sy vrou, Sirika (44), produksiebestuurder van Volksblad, sy suster Marsha Katchovski (45), haar man, Nick (49), en hul twee kinders Hristo (14) en Aliana (10) by die stadion.

Katchovski sê haar broer was verskriklik opgewonde oor die rugbywedstryd.

“Hy was ’n groot Cheetah-ondersteuner en het gesê ons het lanklaas as ’n familie ’n rugbywedstryd saam gekyk. Dit voel lekker om ons almal saam by die stadion te hê.”

Sy sê hy het nog grappies met almal gemaak terwyl hulle na hul sitplekke gestap het. Ewe skielik is hy egter deur ’n hewige hoesbui oorval. Omdat hy weke tevore met longontsteking in die hospitaal behandel is, het almal gedink dit is nog simptome van die siekte.

Hy is na die ruskamer en almal het buite die ingang van die toilette gewag. Sy sê na ’n paar minute het sy haar seun, Hristo, gevra om te gaan kyk of als nog reg is met haar broer.

Hristo het uitgekom en gesê: “Oom Willem sê ons moet ’n medic kry.”

Haar man het toe by hom gebly terwyl Katchovski en Hristo na ’n paramedikus gehardloop het.

My broer het hom in die stadion doodgebloei.

Met die nooddienste se aankoms het haar broer reeds sy bewussyn verloor en het bloed by sy neus en mond uitgekom.

“My broer het hom in die stadion doodgebloei.”

Op vyfjarige ouderdom is die siekte Fallo se tetralogie by Benade gediagnoseer. Dit beteken Benade het twee gate tussen die hartkamers, asook ’n vernouing na die longe.

Omdat hy agt opehartoperasies en nege klepvervangingsoperasies ondergaan het, moes hy medisyne gebruik om sy bloed te verdun.

Katchovski sê hy was op sy gesondste, behalwe vir die longontsteking wat hy opgedoen het.

Hy was besig om ’n boek oor sy wedervaring te skryf.

“Hy was die sterkste en positiefste mens wat ek ken. Hy het altyd net voor hy by die teater ingestoot word geglimlag en gesê hy gaan hierdeur kom.”

Almal het hom aangemoedig om ’n motiveringsboek te skryf wat mense sou aanmoedig om nooit tou op te gooi nie.

Benade laat sy vrou, ouers, Willie Benade (72) en Alta Potgieter (67) en broer, Johan Benade (38), en suster, Katchovski, agter.

  • Nog geen begrafnisreëlings is getref nie. Benade het in ’n onderhoud met sy sewende hartoperasie in 2017 aan Netwerk24 gesê hy weet ook dit is deur God se genade dat hy steeds hier is en staande bly.

“Dit is deur sy genade. Sy belofte aan my is om in Hom te glo en nie bang te wees nie. Ek hou ook vas aan Psalm 23 waarin Hy my die versekering gee dat Hy my Herder is.

“En daarom is ek nie bang vir nog ’n operasie nie. Ek lewe nie net tot voor ’n operasie nie. Ek dink altyd daarby verby. Aan wat ek nog kan bereik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.