Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Onderwyseres van Meyerton sterf in ongeluk
Dezere Lawrenson (23) Foto: Facebook/Community Support Forum

Vraestelle van die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton in Gauteng het besaai gelê op die toneel waar ’n onderwyseres van die skool die naweek verongeluk het.

Dezere Lawrenson (23) was kort voor middernag Saterdag in haar Volkswagen Polo in ’n botsing met ’n Toyota Rav4 op Ravellaan (die Stokkiesdraaipad). Twee ander mense is in die ongeluk beseer.

Lawrenson het aan die begin van vanjaar by die skool begin klasgee vir die gr. 8’s en word as ’n “gebore onderwyseres” beskryf.

“Ek dink sy gee nou klas in die hemel,” sê Rossie Briers, die skoolhoof.

Die polisie het hom Sondag omstreeks 00:30 gebel oor ’n motorongeluk naby die Kompas-gemeente op die Stokkiesdraaipad in Vanderbijlpark.

“Van die vraestelle met die skool se naam daarop het in die pad en in die veld rondgelê. Die polisie kon haar nie in daardie stadium identifiseer nie en toe bel hulle my met die nuus dat iemand van my skool in ’n ongeluk was,” sê Briers.

“Ek en die adjunkhoof was ’n paar minute later nog op pad na die toneel toe hulle laat weet dit is Dezere Lawrenson wat dood is. Met ons aankoms was haar pa en kêrel reeds daar.”

Hy is onseker wat presies gebeur het.

Luidens ’n verklaring van ER24 was hul paramedici Sondag omstreeks 00:05 op die toneel saam met die brandweer, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, die polisie en ander private nooddienste.

Sy was gedeeltelik vasgekeer in die wrak van die Polo. Ongelukkig kon niks vir haar gedoen word nie en sy is op die toneel dood verklaar, lui die verklaring.

“Die insittendes van die Rav4, ’n 30-jarige man en ’n vrou, het albei geringe beserings opgedoen. Hulle is na die Mediclinic Emfuleni geneem.”

Die Hoërskool Dr. Malan bring hulde aan Dezere Lawrenson. Foto: Facebook/ Hoërskool Dr. Malan

Lawrenson was sedert die skole vir die 2021- akademiese jaar geopen het ’n onderwyseres aan die Hoërskool Dr. Malan. Sy het natuurwetenskappe onderrig.

“Sy was baie georganiseerd en ’n topjuffrou. Ons het vanmôre (Dinsdag) haar skootrekenaar met al die punte daarop teruggekry van haar kêrel,” sê Briers.

Hy sê sy sal as ’n pragkind, ’n sonskynkind en ’n liefdevolle kind onthou word.

“As jy binne slegs vier maande so ’n groot effek op ’n skool het, dan moet jy weet. Die leerlinge was baie mal oor haar en is stukkend oor haar afsterwe.

“Sy was toegewyd, hulpvaardig en hardwerkend.”

Past. Gerhard Le-Maitre van die Midvaal Christian Centre in Meyerton het Maandagoggend ’n diens vir die gr. 8’s en personeellede gehou om afskeid te neem van Lawrenson.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.