Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Drawwende onnies op Caledon-pad doodgery

Twee onderwyseresse wat Maandag saam gaan draf het, is langs die pad doodgery.

Rieka Jacobs (30), die ma van twee jong dogters, en Monichia Hendricks-Ess (29), wat by Swartberg Primêr in Bergsig, buite Caledon, skoolgegee het, het laatmiddag langs die R316 tussen Bredasdorp en Caledon gedraf toe ’n Mercedes-Benz hulle tref.

Rieka Jacobs (30), haar man, Jurgens (Spyker), en hul twee dogtertjies. Foto: Facebook

Die motor se band het vermoedelik gebars en die bestuurder het beheer oor die motor verloor.

Die twee vroue is op die toneel dood verklaar en die man wat die Mercedes bestuur het, is later in die hospitaal dood.

Die bestuurder se identiteit is nog nie bekend nie.

ongeluk
Die ongelukstoneel. Foto: Facebook/Julian Jansen- Joernalis

Sy passasier is na ’n nabygeleë hospitaal geneem, sê Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke.

“Voorlopige verslae dui aan dat die ligte motorvoertuig in die Caledon-rigting op pad was,” sê Bakker.

Die polisie ondersoek, as deel van die prosedure, ’n saak van strafbare manslag, sê sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek.”

Inwoners van Bergsig het hul skok oor die nuus op sosiale media uitgedruk.

Monichia Hendricks-Ess en haar man, Fagan, op hul troudag in 2019. Foto: Instagram

Hendricks-Ess se man, Fagan, is glo vir skok behandel nadat hy gehoor het sy vrou is dood.

Die Hendricks-Ess-egpaar is in 2019 getroud en het hul troue aan die tydskrif Sarie beskryf as “ ’n absolute sprokiesverhaal”.

Jacobs het graag foto’s van haar twee blondekopdogters en haar man, Jurgens, op Facebook gedeel.

Volgens haar profiel het sy onderwys studeer aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie se Wellingtonkampus.

“Rus in vrede, juffrou Ess en juffrou Rieka,” skryf iemand op Facebook. “Julle was twee wonderlike mense. Ons almal sal julle baie mis. Mag julle siele hoog vlieg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.