Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ongekende anargie’ op Hermanus
Foto: Jaco Marais

Die Zwelihle- informele nedersetting by Hermanus het Donderdag soos ’n oorlogsone gelyk nadat ontstoke betogers, gewapen met klippe en sinkplate, vir ’n derde agtereenvolgende dag met polisie gebots het en chaos in die kusdorp veroorsaak het.

Volgens die Wes-Kaapse polisie is 45 betogers sedert Woensdag in verband met die onluste in hegtenis geneem, waarvan 16 verdagtes tydens Donderdag se gewelddadige betogings aangekeer is.

’n Groep van ongeveer 2 000 woedende inwoners het Donderdag die strate ingevaar, inwoners geïntimideer en daarop aangedring dat hul leiers wat op klagte van openbare geweld en aanhitsing in hegtenis geneem is, vrygelaat moet word.

Volgens inwoners is daar van huis tot huis gegaan en is mense in Zwelihle geïntimideer om deel te neem aan betogings.

Die polisie en wetstoepassers in die gebied moes behoorlik bontstaan en is met klippe bestook terwyl rommel en brandende motorbande en selfs winkeltrollies gebruik is om paaie, insluitend die R43, in die gebied te versper. Ontstoke inwoners het sinkplate as skild gebruik teen die rubberkoeëls en traanrook wat die polisie afgevuur het om die skare uiteen te jaag.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat die polisie Donderdagoggend om 06:00 in Zwelihle ontplooi is.

Volgens Van Wyk is die gemeenskap ongelukkig omdat daar strafregtelike klagte teen van hul leiers aanhangig gemaak is.

“Meer as 2 000 betogers het inwoners van die gebied verhoed om werk toe te gaan. Hulle het paaie met klippe, rommel en brandende motorbande versper,” het Van Wyk gesê.

Volgens hom het betogers huise, motorhandelaars en ’n laerskool in Mount Pleasant beskadig deur dit onder meer met klippe te bestook.

Foto: Jaco Marais

“Die polisie en wetstoepassers het ook deurgeloop en is bestorm en met klippe gegooi. Lede het opgetree om die groep betogers uiteen te jaag. Verskeie paaie is gesluit,” het Van Wyk gesê.

Volgens die polisie bly die situasie in Zwelihle steeds gespanne en plofbaar.

“Die polisie en ander wetstoepassers monitor die situasie en sal in die gebied bly totdat reg en orde herstel word,” het Van Wyk gesê.

Jaco Marais, fotograaf van Netwerk24, het gesê ekstra versterkings moes ingeroep word om die situasie onder beheer te bring.

“Die gemeenskap is uit vir bloed en hulle hou niks terug nie. Een vrou is beseer toe ’n klip haar getref het.

“Polisiebeamptes het betogers met rubberkoeëls en traanrook probeer verjaag, maar die betogers het net van een punt na ’n ander beweeg,” het Marais gesê.

Van Wyk het gesê twee polisiemanne en ’n betoger is Woensdag beseer.

“Aanvanklik is daar Woensdag net 17 betogers, insluitend Gcobani Ndzongana (die 35-jarige gemeenskapsaktivis van Zwelihle wat inwoners wil hê vrygelaat moet word), in hegtenis geneem, maar die polisie het die dag afgesluit met ’n totaal van 29 verdagtes wat agter tralies was.

Foto: Jaco Marais

Theron Mqu, woordvoerder van die gemeenskapsorganisasie Zwelihle Renewal, het aan News24 gesê inwoners betoog nie meer oor grond nie. Hulle eis dat Ndzongana, ’n lid van dié organisasie, vrygelaat word.

MC Botha berig dat konfrontasie tussen inwoners van Zwelihle en die polisie Donderdag in felheid toegeneem het.

Toegangspaaie na die informele nedersetting is sedert douvoordag al versper terwyl miljoene rande se skade aangerig is aan huise, voertuie en ’n herwinningsaanleg wat aan die brand gesteek is.

Volgens Daleen Fouché van Hermanus Times het kol. Luthando Nosilela, stasiebevelvoerder van die Hermanus- polisie, Donderdag op ’n vergadering tussen rolspelers gesê dat hy in sy 25 jaar van diens in die polisie nog nooit dié vlak van anargie beleef nie.

Nosilela sê dreigemente word gemaak dat raadslede en polisiebeamptes wat in Zwelihle woon se huise afgebrand gaan word, terwyl betogers ook dreig om die munisipale gebou, die polisiekantoor en hofgebou af te brand.

Fouché sê betogers is egter deur die polisie verhoed om die dorp in te vaar.

Sy sê die munisipale swembad en oorlaaistasie in Zwelihle is ook afgebrand.

Masizole Mnqasela, lid van die provinsiale wetgewer, het gesê die betogings Dondeerdag is sover die ergste van al die betogings wat tot op hede in die Overstrand gewoed het.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het Donderdagaand gesê die R43 is voorlopig weer vir verkeer oopgestel.

Foto: Jaco Marais
Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Hermanus  |  Zwelihle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.