Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ongeluk eis matriekseun in Wellington
Cassie Carstens en sy seun, Armand, wat Donderdagaand in ’n motorongeluk in Wellington dood is. Foto: Verskaf

Armand Carstens (19) wou graag ná matriek in ’n landbourigting gaan studeer. Sy ouers wou egter hê hy moet eers ’n oorbruggingsjaar vat.

Donderdagaand is Armand, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Hugenote in Wellington, in ’n motorongeluk dood sonder dat hy ’n finale besluit oor sy toekoms geneem het.

Rudi Ferreira, ’n boesemvriend van Armand se pa, Cassie Carstens, het Vrydag gesê hy en Armand het Donderdag nog oor die jong man se toekomsplanne gepraat. “Hy het geweet hy wil in ’n landbourigting gaan studeer, maar het nog nie finaal besluit presies wat hy wou gaan swot nie.”

Volgens Ferreira was Armand bly die rekord-eksamen is verby en het hy gesê hy kan nou voluit konsentreer op voorbereidings vir die eindeksamen.

Armand se ouer suster, Bianca Buys, het Ferreira Vrydagoggend gebel met die tyding dat haar jongste boetie in ’n motorongeluk dood is.

“Sy het my gevra om die nuus aan haar ouers oor te dra en om daar by hulle te wees,” het Ferreira gesê.

Armand se ouers, Cassie en Matty Carstens, het sowat twee weke gelede teruggetrek na Kimberley in die Noord-Kaap. Armand het in Wellington aangebly om sy matriekjaar te voltooi en het vir dié tydperk by vriende in Wellington gebly.

Die gesin is oorspronklik van Kimberley.

Die Hoërskool Hugenote in Wellington het Vrydag dié brief ter nagedagtenis aan Armand Carstens, een van sy matrikulante wat Donderdagaand in ’n motorongeluk dood is, op sy Facebook-blad geplaas. Foto: Facebook

Carstens was tot onlangs die uitvoerende hoof van Boland Rugby en was voorheen ook uitvoerende hoof van Griekwas.

Ferreira het gesê Armand se ouers, veral Cassie, is verpletter deur die dood van hul seun.

Wicus Naudé, skoolhoof van Hugenote, het gesê hulle het die tyding Vrydagoggend gekry. Armand het hom in 2019 in gr. 11 by die skool aangesluit.

Hy was voorheen ’n leerling aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley. Volgens Naudé was Armand ’n baie saggeaarde kind wat baie respek en liefde vir mense gehad het.

Op skool was hy baie voorbeeldig.

Intussen het kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, gesê die ongeluk was omstreeks 23:40 op die hoek van Kerk- en Cummingstraat in Wellington.

’n 19-jarige man het in die ongeluk omgekom en die bestuurder van die voertuig, ’n 18-jarige, is in hegtenis geneem. Die jong man is gewaarsku om op 7 April 2021 in die hof te wees. Aanklagte van strafbare manslag, dronkbestuur en roekelose en/of nalatige bestuur staar hom in die gesig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.