Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bekende in motorkringe nié aan hartaanval dood

Louis Coetzer, ’n Bloemfonteiner en bekende in veteraanmotor-kringe, het nie ’n hartaanval gehad toe hy en sy vrou, Hermien, saam in ’n ongeluk dood is nie.

Jaco Matthysen sê ’n nadoodse ondersoek het bevind sy skoonpa is in die ongeluk dood en hy het nie voor die tyd ’n hartaanval of beroerte gehad soos aanvanklik vermoed is nie.

Louis en Hermien Coetzer se kinders, Hermie, Lida en Jan, staan hier by Louis se gunsteling-veteraanmotor, sy 1968 Mercedes-Benz 250SE Cabriolet. Foto: Mlungisi Louw

’n Roudiens is Donderdag in Bloemfontein vir die egpaar gehou nadat hulle verlede week saam dood is toe hul bakkie van ’n krans in die Naudésnekpas in die Oos-Kaap afgestort het.

’n Foto wat Hermien van ’n vallei in die pas geneem het oomblikke voor die ongeluk, is op die begrafnisbrief gedruk. Dit is die laaste foto wat sy aan haar drie kinders, Jan, Hermie en Lida, gestuur het voordat hulle verongeluk het.

Die kerk was ’n uur voor die diens reeds volgepak vir die diens wat deur ds. Anton Meiring gelei is.

Louis was bekend in veteraanmotor-kringe in Suid-Afrika en ook in die buiteland. Hy het een van die grootste versamelings van veteraanmotors in die land besit en het veral ’n voorliefde vir Mercedes-Benz-motors gehad. Sy versameling bestaan uit tussen 300 en 400 motors.

Agter op die begrafnisbrief is die foto van die pas waar die egpaar verongeluk het. Hermien het dié foto aan haar kinders gestuur oomblikke voordat sy en Louis in 'n fratsongeluk in die Naudésnekpas dood is.
Johan en Priscilla Wagenaar het in 2018 Louis Coetzer se geliefde Chevorlet Impala gebruik as hul troukar. Louis en Johan is neefs. Foto: Mlungisi Louw
Die Opel Rekord van 1966, soortgelyk aan die een waarmee die Coetzer-egpaar op hul wittebrood was. Foto: Mlungisi Louw

Buite die kerk het drie van sy gunstelingmotors gestaan. Die een ’n 1968 Mercedes-Benz 250SE Cabriolet. Dit was volgens sy dogter Lida sy gunsteling. “Hy het altyd gesê hy sal dié kar nooit verkoop nie.”

Louis Coetzer se gunstelinglied ‘Genade onbeskryflik groot’ is op die roudiens gesing. Links is die egpaar se kinders, Hermie, Jan en Lida, saam met ds. Anton Meiring wat die diens gelei het. Foto: Mlungisi Louw

Die tweede motor is ’n Opel Rekord van 1966, soortgelyk aan die een waarmee die egpaar op hul wittebrood was. Louis het vir hul 40ste huweliksherdenking ’n soortgelyke motor gesoek, dit gekoop en geverf om presies soos daardie motor te lyk. Hulle het toe met hul 40ste herdenking dieselfde pad gery as met hul wittebrood.

Die derde motor is ’n bloedrooi Chevrolet Impala, ook een van Louis se gunstelinge.

Sy neef Johan Wagenaar vertel Louis het dié kar vir hom en sy vrou, Priscilla, as troukar geleen toe hulle in 2018 getroud is.

“Louis se ruilhandel het al as kind begin. As hy ’n Dinkie-speelkarretjie as Kersgeskenk gekry het, het hy vinnig aangebied om sy splinternuwe karretjie vir twee van jou oues te ruil.”

Meiring het in sy boodskap gesê Louis en Hermien het nie ’n oomblik vir hulself gelewe nie.

Hul seun, Jan, sê hulle vier hul ouers deur ’n leeftyd van herinneringe. “Die nalatenskap van hoe om jou oë op die Here gevestig te hou en in Sy voetspore te stap in als wat jy doen, is wat ons hierdeur dra.”

’n Tweede roudiens word Saterdag in Barkly-Oos in die Oos-Kaap gehou.

Meer oor:  Louis Coetzer  |  Nadoodse Ondersoek  |  Dood  |  Ongeluk  |  Hartaanval  |  Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.