Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ongeluk tref alweer Shosoloza Meyl

Hy het skaars in sy slaapkajuit op die Shosoloza Meyl ingesluimer toe Willem Jordaan van ’n skuurgeluid wakker skrik. “Ek het gehoor iets is fout en het besef die trein hardloop op klip. Die waens het begin kantel en ek het met die bank afgegly en my kop teen die sykant gestamp. Toe lê die trein op sy sy.”

Willem Jordaan van Mooinooi is een van die passasiers wat in die Shosoloza Meyl was toe dit ontspoor het. Foto: Elizabeth Sejake

Só het Jordaan (42) Saterdagmiddag, net ure ná die ontsporing van die Shosoloza Meyl wat onderweg was van Johannesburg na Durban, vertel.

Daisy Daniel, Prasa-woordvoerder, sê drie passasierwaens en twee eetwaens het Vrydagaand omstreeks 21:40 tussen die Rooikop-stasie in Germiston en Mapleton-stasie in Boksburg ontspoor.

Busse van Pietermaritzburg het die passasiers gaan haal, maar eers 08:00 gisteroggend daar aangekom. Die passasiers het die hele aand in snerpende koue by die trein deurgebring.

Daniel sê dis onseker waarom die trein ontspoor het en ’n ondersoek is begin.

Die Spoorweg-veiligheidsreguleerder het einde verlede jaar Prasa se operateurspermit opgeskort ná ’n rits treinongelukke. Toe twee treine in Kempton Park gebots het, is 320 mense beseer. Die reguleerder en Prasa het in ’n hofsaak geskik sodat Prasa kon voortgaan om dienste aan pendelaars te lewer.

Die ongelukstoneel van die Shosoloza Meyl. Foto: United National Transport Union

In Januarie vanjaar is meer as 200 mense beseer toe twee Metrorail-treine in Pretoria gebots het. Drie mense is in dié ongeluk dood. In Vrydagaand se ongeluk is net agt mense beseer – vyf passasiers en drie werknemers, sê Daniel.

Jordaan was gister nog in die Thelle Mogoerane-streekhospitaal in Vosloorus, suid van Boksburg, nadat hy al ure lank gewag het om na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton oorgeplaas te word.

“My nek en rug en bekkenbeen is seer, my borskas is binne-in seer en albei my bene gaan dood. Ek loop soos ’n houtpop,” het hy gesê.

Jordaan, wat by sy suster, Natasha (41), in Mooinooi buite Brits in Noordwes woon, was op pad om vir sy broer Ricky (45) in Durban te gaan kuier. Hy kry ’n staatspensioen nadat ’n gewas in 2010 in ’n breinoperasie verwyder is.

“My kop is reg bo-op seer. Nadat hulle die gewas verwyder het, het hulle gesê ek mag glad nie ’n harde hou op die kop kry nie. Ek is baie bang dat die hou teen my kop ’n invloed op my gaan hê.”

Nadat die trein tot stilstand geskuur het, was Willem se eerste gedagte: “Wie is almal dood?” Een man se arm was stukkend en ’n ander een se been.

Hy sê ’n treinbestuurder was byna onmiddellik by sy kajuitdeur.

“Hulle het ons toe in die gangetjie af gelei, by die deur uit tot buite.”

Hy bestee baie aan treinritte, wanneer hy by vriende in die Kaap, Port Elizabeth of Oos-Londen gaan kuier en hy ry altyd met die Shosoloza Meyl. En hy sal enige tyd weer trein ry. Sy oorlede stiefpa, Karel Strydom, was 42 jaar ’n treindrywer. Dié het hom altyd van treine vertel en dit is waar Jordaan se liefde vir treinry begin het. Nou ry hy nét trein. “Ek is nie nou bang nie, ek is net geskok.”

Meer oor:  Treinongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.