Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Onluste: 251 dood in KZN

Die sterftesyfer in KwaZulu-Natal weens die gewelddadige onluste verlede week staan nou amptelik op 251.

Die syfer is Vrydagmiddag deur Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, op ’n mediakonferensie bevestig.

Ntshavheni het verduidelik die syfer sal aangepas word namate ondersoeke bevestig watter sterftes met die onluste verband hou.

In die woongebied Phoenix, noordwes van Durban, het die geweld – waarna daar nou as die Phoenix-slagting verwys word – tussen swart en Indiër-inwoners tot die dood van minstens 110 mense gelei.

Die getal ongeïdentifiseerde lyke by die Phoenix-lykshuis het teen Vrydagmiddag tot 57 gestyg.

Hoewel rassespanning steeds in die gebied heers, het ’n optog onder die vaandel van die Black Lives Matter-beweging sonder enige voorval vreedsaam verloop.

Talle inwoners van beide rassegroepe het Vrydagoggend te kenne gegee dat hulle nou in vrees lewe.

’n Afvaardiging van die gesondheidsdepartement het Vrydag KwaZulu-Natal besoek.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het saam met Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, ’n besoek aan die Mahatma Ghandi-hospitaal in Durban gebring.

Die onluste, waarin 120 apteke geplunder en etlike besighede verwoes is, het tot geweldige skade aan infrastruktuur gelei.

Weens die plundery is 47 500 entstofdosisse ook tot niet.

Die Covid-19-entstof-program in dié provinsie is ernstig deur die verlies geraak, maar teen Vrydag kon inwoners van Durban weer ingeënt word.

Op ’n vraag of die regering verantwoordelikheid vir die sterftes tydens die onluste gaan neem of wie daarvoor verantwoordelik gehou gaan word, het Ntshavheni gesê diegene wat moord gepleeg het, sal in hegtenis geneem word.

Sy het ook bekend gemaak dat nog vyf mense weens aanhitsing tot geweld in hegtenis geneem is, wat die totaal nou op 20 te staan bring.

“Die persone wat die onluste aangehits het, sal verantwoordelik gehou word,” het Ntshavheni gesê.

Sy het gesê ’n kommissie van ondersoek word nie in dié stadium oorweeg nie, omdat die polisie vol vertroue is oor die vordering met sy ondersoek na die onluste.

Intussen het die Menseregtekommissie (MRK) gesê hy doen ’n ondersoek na die Phoenix-slagting.

Adv. Lloyd Lotz, provinsiale bestuurder vir die MRK, sê hulle het die mag om met die gemeenskap in gesprek te tree en al die kwessies te ondersoek wat moontlik tot die onlangse rassespanning gelei het.

“Wat vir ons van belang is, is om uit te vind waarom daar rassespanning is. As ’n kommissie ontvang ons altyd klagtes – nie net uit Phoenix nie, maar ook uit ander plekke in KwaZulu-Natal en die res van Suid-Afrika. Rassisme is waaroor die meeste mense in hierdie land kla. Jaarliks gaan die meeste klagtes oor rassespanning.”

Daar heers wel nog ’n onderliggende angstigheid onder sommige inwoners dat die onluste weer kan opvlam.

Bheki Cele, minister van polisie, het ’n span speurders aangestel om die sterftes in Phoenix te ondersoek.

Glenn Nugent, ’n oogkundige en inwoner van Durban-Noord, het Vrydag gesê die lewe in die stad het na taamlik normaal teruggekeer.

“Daar heers wel nog ’n onderliggende angstigheid onder sommige inwoners dat die onluste weer kan opvlam.”

Hy sê die inwoners is in twee kampe verdeel, waar sommige inwoners glo die spanning en onluste is verby, terwyl ander, veral veiligheidsgroepe wat gemobiliseer het en steeds patrollies doen, op ’n hoë gereedheidsvlak bly.

“Dit is egter net ongelooflik om te sien hoe mense van alle agtergronde en rasse tydens en ná die onluste saamgestaan het om hul gemeenskappe te beskerm en ook skoon te maak.”

Wat hom, en ook etlike ander inwoners van Durban pla, was die polisie se optrede tydens die onluste.

“Hulle was absoluut niks werd nie en het eerder daarop gefokus om onskuldige belastingbetalers te intimideer, eerder as om die misdadigers vas te trek.”


Meer oor:  Kzn-Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.