Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Onmin oor herdenking van Kerkstraat-bom
Lede van die nuwe Nasionale Konserwatiewe Party by die gedenkplaat nadat dit onthul is op die plek waar die Kerkstraat-bom ontplof het. Die bom het op 20 Mei 1983 voor die Nedbank Square-gebou in Kerkstraat, Pretoria ontplof. Negentien mense is dood en 217 beseer. Die meeste van die slagoffers was burgerlikes. Die ANC het aanspreeklikheid vir die bomaanval aanvaar. Foto: deaan Vivier

Pretoria.– “Suid-Afrika se geskiedenis word tans slegs uit die oogpunt van die ANC vertel en is ’n eensydige verdraaiing daarvan. Al wat ons vra, is dat die geskiedenis in sy geheel vertel moet word.”

So het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, Vrydag in Pretoria gesê met die herdenking van die Kerkstraat-bomaanval 33 jaar gelede.

Altesaam 19 mense, insluitend die twee bomplanters, is dood en meer as 200 beseer toe die bom op ’n Vrydag om 16:00 voor die Nedbankgebou in die destydse Kerkstraat, deesdae Stanza Bopape-straat, ontplof het.

Roets het gereageer op ’n aanval van die vereniging van Umkhonto we Sizwe-veterane (MKVA) Donderdag dat AfriForum met die herdenking eintlik “die dood van apartheid” gedenk, aldus ’n berig in The New Age.

Die MKVA-voorsitter, Kebby Maphatsoe, was luidens die berig veral ontsteld oor die uitnodiging aan genl. Johan van der Merwe, voormalige hoof van die polisie en ten tyde van die ontploffing verbonde aan die polisie se veiligheidshoofkwartier, om by die geleentheid te praat.

AfriForum is ook deur Cosatu se president, Sdumo Dlamini, geroskam oor ’n fliek, Tainted Heroes, wat die organisasie die afgelope drie jaar gemaak het en waarin onder meer videomateriaal oor die bomontploffing gebruik is.

Dlamini het AfriForum daarvan beskuldig dat die fliek, wat binnekort amptelik bekend gestel word, “uitlokkend” is en dat hulle daarmee “ou wonde wil oopkrap”.

Roets het gesê die sogenaamde “oopkrap van ou wonde” gebeur omdat die “ou wonde nooit kans gegee is om gesond te word nie”.

Hy het gesê AfriForum “wil nie spanning skep nie. Ons sê net dat die manier waarop die geskiedenis herdenk word nie korrek is nie, want deesdae is alle ANC-lede skielik helde en ons aan die ander kant almal boewe. Die geskiedenis behoort in geheel bekyk te word”.

  • Van der Merwe het gesê hoewel die bomontploffing voorgehou is as ’n daad om apartheid mee te bestry, “het dit in wese geen bydrae gelewer tot die oplossing wat uiteindelik beding is nie”. By nog ’n herdenking van die Kerkstraat-bomaanval het die nuwe Nasionale Konserwatiewe Party (NKP) Vrydag ’n marmergedenksteen met die name van 17 van die slagoffers daarop – die bomplanters uitgesluit – op die sypaadjie by die plek van die ontploffing opgerig. Die straat was vir die duur van die seremonie gesluit en deur hoofsaaklik NKP-lede bygewoon.

Meer oor:  Herdenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.