Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Onnie sterf ná spinnekop haar byt
Hettie Grobler

’n Onderwyseres van Bloemfontein is dood nadat sy vermoedelik deur ’n spinnekop aan haar arm gebyt is.

Aanvanklik is vermoed dat Hettie Grobler (55) inwendige bloeding gehad het ná ’n onlangse operasie, totdat ’n geneesheer enkele ure voor haar dood in die hospitaal gevra het of sy nie dalk deur iets gebyt is nie.

Haar man, Johan, sê hy onthou toe van die bytmerk net onder haar linkerelmboog. Die kolletjie, so groot soos ’n kopspeld se kop, het al ’n blou kring omgehad toe hy haar arm oplig.

Die geneesheer het dadelik haar behandeling verander, maar dit was reeds te laat.

Grobler het Woensdag in sy huis op die Ferreira-hoewes by Bloemfontein vertel hoe sy vrou, wat reeds baie jare by die Rosenhof-skool skoolhou, enkele dae voor haar dood aan haar dogter, Marinda, gesê het sy dink ’n spinnekop het haar gebyt. Die merkie het ’n geel knoppie gehad.

Johan Grobler by ’n foto op ’n televisieskerm van ’n bruin knopiespinnekop, soos wat hy vermoed sy vrou, Hettie, gebyt het en wat tot haar dood gelei het. Foto: Alzane Narrain

“Dit het amper soos ’n puisietjie gelyk.”

Vrydag was sy blekerig en het nie lekker gevoel nie. Hettie het dit toegeskryf aan pille wat sy drink.

Grobler wou haar deurentyd hospitaal toe vat, maar sy wou nie gaan nie..

Sondagoggend het haar naels aan haar vingers en tone begin blou word en sy was swak. “Bid vir my, ek voel nie lekker nie,” het sy gesê.

Hy het die ambulans gebel.

In die Bloemfontein-MediClinic is sy dadelik in ’n waakeenheid opgeneem. Sy was baie swak, en is Maandagoggend vroeg dood.

Hy sê Dries Booysen van die Kairos-gemeente in die stad het heelnag saam met hom by sy vrou gewaak en gebid.

Grobler sê sy vrou was ’n diepgelowige mens wat baie vir ander omgegee en gebid het. Sy het ook gereeld mense in hospitale gaan help en vir hulle gebid.

Hy glo dit is ’n bruin knopiespinnekop wat Hettie gebyt het en dat sy aan die newe-effekte daarvan dood is. Sy was baie lief vir tuinmaak.

’n Begrafnisdiens word Saterdag om 10:00 in die skoolsaal van Rosenhof gehou. Hettie laat ook haar seun, Charles, en nog ’n dogter, Lanet, agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.