Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ons bly regop staan, ons wag en ons bid’

’n Suid-Afrikaner wat tien maande gelede in Burkina Faso ontvoer is, is volgens onbevestigde inligting van ’n onderhandelaar dood.

Amanda Bothma gaan waarskynlik weens swak finansies haar huis verloor omdat haar man, Christo, in September in Burkina Faso ontvoer was. Foto: Elizabeth Sejake

Dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers, wat probeer onderhandel vir die vrylating van Christo Bothma (54), sê hulle het so ’n boodskap ontvang, maar kon dit nog nie bevestig nie.

Luidens dié boodskap is nóg ’n ontvoerde, Vikram Patel (26), baie siek.

“Ons onderhandelaar in Mali is in direkte kontak met die ontvoerders,” sê Sooliman. “Hy weet niks van Christo se dood of Patel se siekte nie. Hy het al agt dae terug gesê hy sal daaroor uitvind. Ons wag steeds.”

Amanda Bothma (50) het die afgelope week in haar huis op Potchefstroom gesê sy weier om te glo dat haar man al amper ’n maand dood is. “Ons bly regop staan, ons wag en ons bid.”

‘Ons gaan waarskynlik ons huis verloor.’

Dit is moeilik, want in dieselfde week wat sy die slegte nuus ontvang het, het haar praktiese probleme ook erger geword. “Die bank het ook laasweek gebel en gesê ons moet dringend ons skuld begin betaal,” sê sy. “Sonder my man het ons nie genoeg geld nie. Ons gaan waarskynlik ons huis verloor.”

Christo is op 23 September saam mert sy motorbestuurder, slegs bekend as Zale, en Patel, sy baas se seun, in Burkina Faso ontvoer.

Rapport het vroeër berig die mans het vir die Inata-myn buite die dorpie Djiba gewerk. Die drie is op pad werk toe ontvoer en daar is intussen geen kontak met hulle gemaak nie.

Inata is sowat 200 km noord van die hoofstad Ouagadougou in die land se “rooi gebied” waar terreuraanvalle deur Moslem-ekstremiste voorkom.

Onderhandelaars van Gift of the Givers praat ook van ’n Al-Kaïda groep wat agter dié gordyn wegkruip.

In November was Amanda ontsteld oor ­fopnuus dat Christo vrygelaat is. Dit was Zale, die bestuurder, wat vrygelaat en in Mali gevind is. Hul voertuig is al vroeër op pad na die grens toe gekry.

Akoliya Patel, Vikram se pa en die eienaar van die Balaji-mynmaatskappy in Ghana, het verlede jaar die Inata-myn gekoop. Amanda sê Christo was so dankbaar dat hy weer ’n werk daar kon kry. Hy het al vier jaar vir die Inata-myn gewerk toe die Avocet-mynmaatskappy dit nog besit het.

Amanda vertel: “Christo was in Mei 2017 baie depressief, want hulle is almal afgedank toe Avocet van die myn moes ontslae raak. Dit was meer as ’n jaar later, eers in Junie 2018, dat Balaji die myn gekoop het. Christo was al diep in die skuld, en toe, drie maande later, word hy ontvoer.”

Amanda is veral bekommerd oor haar man omdat hy aan diabetes ly en waarskynlik nie in ’n veilige plek aangehou word nie.

Patel sê hy het nog nie ’n woord van sy seun gehoor sedert die ontvoering nie. “Ons bid,” het hy aan Rapport gesê.

Sooliman sê hulle werk aan sewe gevalle van mans wat in Afrikalande ontvoer is. Die jongste voorval was die afgelope week.

Hul grootste uitdaging is dat die onderhandelaars glo Christo en Vikram het baie geld om as losprys te betaal, omdat Vikram se pa die myn besit.

“Wat hulle nié weet nie, is dat Patel die myn intussen toegemaak het,” sê Sooliman. “Al wat hy nou het, is skuld.”

Amanda sê sy het aanvanklik ’n gereelde bedrag van Balaji ontvang, maar dit het ook begin opdroog.

“Ek en my man het elke dag vir mekaar WhatsApps aangestuur, baie gelag en elke aand het ons mekaar gebel.

“Dit was heerlik om met hom te gesels, maar nou is alles net doodstil.”

Christo se oudste dogters uit ’n vorige huwelik, Chrisinda Visser (29) en Irmari van Staden (27), albei in Pretoria, sê hulle is geskok oor wat gebeur het.

Amanda se oudste dogter, Jodi-Li van Aswegen (29), ook gebore uit ’n vorige huwelik, woon tans in Australië.

Die drie Bothma-kinders in Potchefstroom, Jacques (25), Christopher (23) en Mariska (20), woon tans by hul ma. Die seuns help vir Amanda om geld in te samel en hoop om die huis te red.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.