Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ons eie Hollywood-ster

As kind het John Kani altyd geweet hier kom ’n goeie storie en ook ’n les wanneer sy ouma hulle nader geroep het met die woorde “once upon a time . . .”.

John Kani (75) die afgelope week gedurende ’n onderhoud met Rapport in die Markteater in Johannesburg. Foto: Elizabeth Sejake

Dis toe al dat hy besef het hoeveel mag daar in stories is en dis die rede hoekom hy later akteur geword het. As swart man in die 1970’s was dit nie ’n maklike pad nie, maar Kani (76) het aangehou om te doen waarin hy glo en nou is hy maats met Hollywood se grotes.

Ons gaan binnekort sy stem hoor as dié van die wyse mandril-primaat Rafiki in Disney se nuwe weergawe van die trefferfliek The Lion King wat 19 Julie uitgereik word.

Kani is ook tans te sien in die Netflix-fliek Murder Mystery waarin hy die rol van die kolonel vertolk. Jennifer Aniston, wat hy beskryf as ’n dierbare, omgee-mens, en Adam Sandler vertolk van die ander rolle.

Die eerste The Lion King, wat in 1994 uitgereik is, was ’n animasiefliek, maar in die nuwe weergawe is die karakters regte diere wat lewe kry danksy rekenaartegnologie.

Rafiki is besonders, want hy is wys, ondeund, rats en ’n stille leier.

“Dis iets waarmee mense kan identifiseer, want hulle lyk nes die diere wat jy in die Kruger-wildtuin sien,” vertel Kani opgewonde.

Die nuwe fliek is in 2016 gemaak terwyl Kani toevallig in Hollywood was om te werk aan Marvel Studios se wetenskapfiksiefliek Black Panther, waarin hy die karakter T’Chaka was. John se seun Atandwa Kani (35) was ook in die fliek te sien as die jong T’Chaka.

“Ek hoor toe dat ene Jon Favreau my wou sien. My seun het opgewonde vir my vertel dis die regisseur van The Lion King. Ek het nie veel daarvan gedink nie. In Hollywood maak almal soveel beloftes,” het Kani die afgelope week by die Markteater in Johannesburg vertel.

Maar toe bel Favreau weer en sê hy oorweeg Kani vir die stem van Rafiki.

“Hy wou weet wat dink ek van Rafiki en ek het gesê hy is besonders, want hy is wys, ondeund, rats en ’n stille leier. Hy is daar in groot oomblikke van vreugde en hartseer en hou alles en almal bymekaar in die bos.

John Kani is ook tans te sien in die Netflix-fliek Murder Mystery saam met met Jennifer Aniston en Adam Sandler (links). Foto: Getty

“Hy was daar toe Mufasa (die koningleeu, Simba se pa) gebore is en ook daar om die pasgebore Simba aan die diereryk bekend te stel. Hy was daar toe Mufasa dood is en ook toe iemand vir Simba moes gaan haal en voorberei om van die sluwe Scar ontslae te raak en oor te neem as koning,” sê Kani.

“In ’n familie of gemeenskap is daar altyd die stil ou man wat in die hoek sit en luister en net nou en dan iets sê wat almal tot stilstand ruk. Dis Rafiki.”

Kani, ’n bekende “kultuurvegter” in die strugglejare, sê “dapper mans dra hul letsels met groot trots voor almal”.

Hy sê dit was ’n voorreg om klankopnames vir The Lion King net te kon geniet saam met ander gesoute internasionale akteurs soos Chiwetel Ejiofor (12 Years a Slave).

“Die storie van The Lion King het soveel lewenslesse. Daar is die bose Scar (Mufasa se broer, met die stem van Ejiofor) wat magsbehep is en die jong Simba manipuleer. En Simba wat leer wat verantwoordelikheid beteken,” sê Kani.

John Kani verskaf die stem van die mandril in The Lion King.

As trustee van die Wêreldnatuurfonds en natuurliefhebber hoop hy ook dat die fliek dalk ’n invloed sal hê op die geblikte- leeujagbedryf.

“Dalk sal ’n Europeër volgende keer twee keer dink voor hy die sneller trek en ’n moontlike ‘Mufasa’ skiet.”

Kani vertel trots sy agt kleinkinders is tussen drie en 24 jaar oud. Hulle gaan beslis almal die fliek kyk. Nes sy ouma destyds vertel hy graag vir hulle stories.

“My kleinkinders weet daar is een plek waar hulle kan maak net wat hulle wil, en dit is by oupa en ouma (Mandi),” sê hy.

“Dis so snaaks om dan te sien hoe hulle besef hulle is op ’n plek waar hulle ouers dié is wat ‘bang’ is. Hulle kan oral hardloop en speel en ons eet gemorskos en lekkers en ek bederf hulle tot in die afgrond in. Maar dan moet hulle weer huis toe gaan, want ek is nie hul nanny nie,” sê Kani en lag lekker.

Meer oor:  John Kani  |  The Lion King
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.